Deur Anja van den Berg
Jy mag dink dat om jou lekkernye met jou troeteldiere te deel, hulle wys hoe lief jy hulle het. Per slot van rekening, wie kan daardie hondjie-oë weerstaan wat jou om ʼn happie smeek?
Maar dink twee keer voordat jy hulle met menslike toegeeflikheid bederf. Sommige kosse wat jy geniet, is net deur en deur sleg vir jou hond en kan gesondheidsprobleme veroorsaak.
Selfs al het jou hond in die verlede hierdie kosse geëet sonder enige probleme, kan dit ernstige kwessies tot gevolg hê wat jy dalk nie besef nie.
Hier volg die vyf slegste voedselsoorte wat jy honde nooit moet voer nie, maak nie saak hoe skatlik hulle bedel nie.
Bêre daardie soethappie vir jou mensekinders! Bo-aan die lys van kosse wat sleg is vir honde, is sjokolade, wat teobromien bevat. Hierdie bestanddeel is nie skadelik vir mense nie, maar dit is die toksiese gedeelte vir honde. Teobromien kom veral voor in donker sjokolade en onversoete kooksjokolade. Dit kan veroorsaak dat ʼn hond braak, diarree kry, en oormatig dors word. Aan die meer gevaarlike kant kan dit tot abnormale hartritme, stuipe, bewerasie en selfs die dood lei.
Spekvleis is hoog in sout sowel as vet. Hoë-vet kosse kan pankreatitis in honde veroorsaak, terwyl sout ʼn toestand genaamd natrium-ioonvergiftiging tot gevolg kan hê. Daarbenewens sluit simptome van te veel sout-inname braking, diarree, hoë liggaamstemperatuur en stuipe in.
Die kombinasie van knoffel en uie kan ʼn hond se rooibloedselle vernietig, wat tot anemie lei indien in hoë hoeveelhede ingeneem. ʼn Klein dosis mag dalk nie veel skade doen nie, maar ʼn hoë dosis (of gereelde klein dosisse) kan tot vergiftiging lei. Simptome mag swakheid, braking, asemnood en ʼn gebrek aan aptyt insluit.
Hond besit nie die ensiem wat koeimelksuiker afbreek nie, en alhoewel sommige honde meer as ander daartoe in staat is om suiwelprodukte te hanteer, is baie honde laktose-intolerant. Suiwel kan veroorsaak dat honde braak, diarree het, of gastro-intestinale siektes ontwikkel. Die hoë-vet inhoud mag lei tot pankreatitis, soos in die geval van vetterige vleis.
Die werklike booswig wat lekkergoed en kougom betref, is ʼn bestanddeel genaamd xilitol. Xilitol veroorsaak ʼn stortvloed van insulien deur jou hond se liggaam, wat lei tot ʼn daling in bloedsuiker en lewerversaking. Simptome sluit in lusteloosheid, braking, verlies van koördinasie, stuipe, en uiteindelik die dood.
Ander produkte waarvan jou hond moet wegbly, is rou gisdeeg, sade en pitte van vrugte, rou aartappel, gekookte bene, appelstronke, alkohol, kaffeïen, en menslike medisyne. Volstaan met ʼn dieet wat deur jou veearts goedgekeur is of doen navorsing oor gesonde kosse wat jy met jou hond kan deel. Weerstaan daardie oulike gevreetjie en hou die meeste van jou menslike kos vir jouself. En miskien kan dit jou ook baat om weg te bly van die spekvleis.
Bronne:
DogTime.com: https://dogtime.com/dog-health/general/5504-bad-foods-for-dogs-list
WebMD: https://pets.webmd.com/dogs/ss/slideshow-foods-your-dog-should-never-eat
Oops! We could not locate your form.