Deur Dr. Eugene Brink
Vakansietyd beteken weggaan en om nuwe plekke vir uiteet of inkopies doen te verken. Alhoewel dit opwindend mag klink, kan die ware ondervinding jou dalk teleurstel as jy net van beter geweet het.
In die Covid-19-era wend mense hulle toenemend tot aanlyn resensies om ʼn ingeligte opinie te vorm – en tot die internet om artikels aan te koop. Die navorsingsfirma, Statista, het bevind dat meer as 2 miljard mense in 2021 ware en dienste aanlyn sal aankoop, teenoor die 1,7 miljard van net vyf jaar gelede.
“In die wêreld van aanlyn inkopies sal kopers dikwels net ʼn artikel koop nadat hulle gesien het dat ander mense ook daarvan hou. En wat is die maklikste manier om uit te vind wat verbruikersentiment is? Jy het reg geraai: resensies”. So skryf Courtney Jespersen vir MarketWatch. “Talle aanlyn aankope word gedoen op grond van deeglike oorweging van stergraderings en produkresensies deur totale vreemdelinge. Sowat 82% van Amerikaanse volwassenes sê dat hulle ten minste soms aanlyn graderings deur verbruikers lees voordat hulle artikels vir die eerste keer aankoop, aldus ʼn 2016-peiling van die Pew Navorsingsentrum.”
Dit laat die vraag ontstaan of aanlyn resensies regtig so goed is as wat hulle voordoen om te wees.
Zach Pardes, ʼn direkteur van die resensieplatform Trustpilot, sê dat verbruikers deesdae met reg sinies is. “Ons leef in ʼn tyd waarin vertroue totaal aangeval word. Dit is die fopnuus-era. Mense lees dus (resensies) en maak daarvan gebruik, maar ek dink daar is by tye ʼn gesonde skeut skeptisisme oor wat hulle lees.”
Saoud Khalifah, uitvoerende hoof van Fakespot, ʼn kunsmatige-intelligensieplatform wat aanlyn resensies ontleed, stem daarmee saam en sê dat vals resensies robot-gegenereerde resensies en resensies wat deur die verkoper self opgestel is, insluit maar nie daartoe beperk is nie.
Hoe om vals resensies uit te ken en die meeste uit aanlyn resensies te kry
Nie alle resensies is egter vals nie en dit is steeds ʼn nuttige manier om waardevolle inligting te bekom. Dit is daarom belangrik om die koring van die kaf te skei. Joe Enoch van NBC News lys ʼn paar rooi vlae wat jou aandag behoort te trek wanneer jy aanlyn resensies lees. Die eerste is tikfoute en gebroke Engels in die lig daarvan dat baie van die vals resensente van nie-Engelssprekende lande afkomstig is.
ʼn Skielike toestroming van positiewe resensies kan daarop dui dat die onderneming waaroor die verbruiker inligting wil inwin onlangs vir positiewe beoordelings betaal het. Positiewe resensies van reg oor die wêreld is nóg so ʼn twyfelagtige geval. ʼn Tipiese resensent sal verskeie positiewe en negatiewe resensies tot sy beskikking hê daar waar hy bly, maar kan ook ʼn paar ander van elders af kry. “Maar as daar net positiewe resensies is wat van verskeie lande afkomstig is, is dit ʼn teken dat die resente betaal is om dit te skryf.”
Pardes beveel aan om meer as een resensiebron na te gaan en om baie resensies op verskeie platforms te lees. “As jy op die punt staan om ʼn vakansie te bespreek, sal jy nooit net staatmaak op die foto’s en resensies wat deur daardie hotel se bemarkingspan geplaas is nie. Jy gaan van ʼn onafhanklike, derdepartybron wil gebruik maak.” Daar is dus veiligheid in getalle.
As die resensies meer op die maatskappy en sy kliëntediens as op die werklike produk fokus, bied dit volgens Kalifah rede tot sinisme.
Laastens, moenie perfeksie vertrou nie. “Niemand is perfek nie en jy kan dus onmoontlik ʼn perfekte vyfster-resensie in elke kategorie van jou onderneming kry,” sê hy.
Bronne
Amy Iversen, 21 Mei 2021, “How to know if you can trust an online product review”, https://www.deseret.com/2021/5/21/22442098/how-to-know-if-you-can-trust-an-online-product-review-five-star-reviews-amazon.
Courtney Jespersen, 3 Mei 2019, “Can you trust online reviews? Here’s how to get the most out of them”, https://www.marketwatch.com/story/can-you-trust-online-reviews-heres-how-to-get-the-most-out-of-them-2019-05-03.
Joe Enoch, 27 Februarie 2019, “Can you trust online reviews? Here’s how to find the fakes”, https://www.nbcnews.com/business/consumer/can-you-trust-online-reviews-here-s-how-find-fakes-n976756.
Oops! We could not locate your form.