Deur Melodie Veldhuizen
Dis nie slegs gesinne se fisieke veiligheid wat deur gevare soos motorkapings, roof en inbrake bedreig word nie. Omdat die meeste hedendaagse gesinne tegnologie gebruik vir speel, ontspanning en werk, moet daar ook oor almal se aanlyn veiligheid gewaak word. Ons deel ʼn paar veiligheidsmaatreëls.
- Installeer betroubare antivirussagteware om jul rekenaars teen virusse, spioenware en wanware te beskerm.
- Beveilig jul wi-fi netwerk sodat kubermisdadigers nie jul bandwydte gebruik of jul rekenaars met wanware besmet of wanware-aanvalle van jou stelsel af stuur nie. Gebruik ʼn sterk wagwoord vir jou roeteerder , maak koordlose enkripsie moontlik om te verhoed dat vreemdelinge jou netwerk sien en beperk toegang tot jou netwerk.
- Gebruik verskillende wagwoorde vir elke rekening. Skep veilige, sterk en unieke wagwoorde – ten minste agt karakters, meng syfers, letters en simbole en, indien moontlik, maak gebruik van sekuriteitsvrae waarvan slegs jy die antwoord ken. Sluit ook jou foon se skerm met ʼn wagwoord.
- Indien moontlik, gebruik tweestapverifikasie om jou te waarsku wanneer iemand anders sonder toestemming op jou rekening probeer aanteken.
- Verseker veilige internetsoektogte. Kubermisdadigers kan vals webadresse in jou soekresultate plaas wat hulle tot hul voordeel aanwend. Gee ag op waarskuwingsboodskappe wat tydens soektogte verskyn indien ʼn webwerf onveilig is.
- Laai af en installeer slegs sagteware van betroubare bronne. Sommige gratis speletjies, musiek en films asook ander sagteware bevat spioenware en ander tipes wanware. Lees ook die lisensieooreenkoms voordat jy nuwe sagteware aflaai.
- Hou alle rekenaarprogramme bygewerk. Verouderde programme en/of sagteware het swak plekke wat maklik deur virusse binnegedring kan word of deur kubekrakers misbruik kan word.
- Rugsteun gereeld alle belangrike lêers op jul rekenaars. Jy kan in ʼn oogwink al jou inligting, foto’s en video’s weens spioenware, wanware, of virusse verloor, of deur per abuis op ʼn verkeerde sleutel of skakel te klik.
- Maak seker die bronadres (URL) van webwerwe waarop jy aanteken of waar jy besigheid doen, het ʼn “s” in die http-adres (m.a.w. https//), wat beteken die webwerf is beveilig (veral in banke en aanlyn winkels se adresse.
- Herken en vermy uitvisbedrog . Kubermisdadigers stuur uitvisboodskappe via e-pos, boodskappe, kommentaar en plasings op sosiale netwerke met die doel om gebruikersname, wagwoorde, PIN-nommers en volledige kredietkaartnommers en bankrekeningnommers te bekom. Wees bedag op spel- en taalfoute in die boodskappe en moet op geen skakels klik nie.
- Beskerm jou en jou kinders se privaatheid en veiligheid deur nie adresse, name van kinders se dagsorgsentrums of skole, telefoonnommers, identiteitsnommers of motorregistrasienommers en inligting oor skooluitstappies of vakansies op sosiale media te deel nie. Wees ook versigtig watter foto’s jy deel en wie dit kan sien.
- Wees bewus van die privaatheidsbeleid van sosiale netwerke of webwerwe wat basiese inligting van jou vra wanneer jy ʼn rekening skep. So beskerm jy jouself teen uitvisbedrog en identiteitsdiefstal.
- Moenie vriendskapversoeke van onbekende persone aanvaar nie.
Bykomende maatreëls vir jou kinders se aanlyn veiligheid:
– Installeer ouerbeheer op al jul rekenaars en slimfone. Doen dieselfde met elke platform waarop jou kinders aanteken. Wedersydse vertroue is noodsaaklik en hulle moenie dink dat jy op hulle spioeneer nie. Veiligheidsmaatreëls is egter nodig om hulle teen aanlyn gevare te beskerm.
– Waarsku hulle teen alle moontlike aanlyn gevare: beskerm wagwoorde, moenie persoonlike inligting plaas nie, wees versigtig met wie jou foto’s kan sien en ook watter foto’s hulle plaas ─ wat jy geplaas het, is vir ewig in die kuberruim en kan deur ander misbruik word. Dis onwettig om sekere tekenprente, films of musiek af te laai; moenie lêers van vreemdelinge aflaai of enige skakels oopmaak nie.
– Bepaal self ʼn ouderdomsbeperking. Indien jy nie gemaklik voel met Facebook se ouderdomsbeperking van 13 jaar nie en jy voel jou kind is nie gereed nie, laat hulle maar nog ʼn jaar of wat wag. Hou ʼn wakende oog oor hulle sosialemediagebruik en bly op die hoogte van alles waarop hulle aangeteken is.
– Aanlyn speletjies is ʼn prettige manier om met hul maats te interreageer, maar dit stel hulle ook bloot aan boeliegedrag of teistering deur vreemdelinge. Maak seker hulle weet hoe om in sulke situasies op te tree. Wees ook bedag op aggressiewe gedrag wat jou kind tydens sulke speletjies openbaar. Moniteer watter speletjies hulle speel en met wie. Waarsku hulle om altyd skuilname te gebruik en nooit persoonlike inligting te deel nie.
Internetsekuriteitsbedreigings verander voortdurend. Bly dus ingelig sodat jy jou kind en ander gesinslede kan inlig en waarsku.
Bronne
Bull Guard. https://www.bullguard.com/bullguard-security-center/internet-security/security-tips/family-online-safety.aspx
Litnet. https://www.litnet.co.za/vranet-sosiale-media/
Norton. https://uk.norton.com/norton-blog/2016/02/family_safety_-_10t.html