Met Valentynsdag op die horison, wil ons graag ons geliefdes lekker bederf. Ons hoef egter nie te wag vir 14 Februarie om hom/haar spesiaal te laat voel nie. Elke dag bring nuwe geleenthede om jou liefling met klein bederfies, wat min of niks kos, te verras.
Onthou dat elke mens verskil. Dit is nie te sê dat jou man van dieselfde bederfies gaan hou as jy nie. Maak dus seker dat jy sy persoonlikheid, liefdestaal en smaak in ag neem wanneer jy besluit wat jy wil doen.
Lees ʼn boek of koerant aan hom voor terwyl hy in die bad ontspan.
Dra vir jou geliefde drankies en versnaperings aan wanneer hy hard aan die werk is.
Masseer haar voete vir haar terwyl sy tv kyk, en smeer welriekende olies aan.
Los geheime notas in jou man se broeksak of binne-in sy skootrekenaar, wat hy kan ontdek wanneer hy by die werk is.
Stuur vir jou vrou ʼn sms of whatsapp in die middel van die dag, en vertel haar hoe spesiaal sy vir jou is.
Beplan ʼn middagete en verras hom by die werk daarmee. Maak net seker met ʼn kollega of dit ʼn geleë tyd is.
Stuur vir jou vrou blomme by die werk met ʼn liefdevolle nota daarby.
Verras jou eggenoot met ʼn serenade. Selfs al het jy nie die beste stem nie, sal dit jou liefling se hart verwarm.
Kyk ʼn fliek saam, maar kies iets wat jou man sal geniet, selfs al val dit nie in jou smaak nie.
Neem een of ander klas saam. Dit kan ʼn dansklas of kunsklas, kookklas of sweisklas wees. Kies iets wat julle albei kan geniet.
Was sy kar vir hom.
Bederf hom met koffie en ontbyt in die bed.
Laat haar toe om laat te slaap terwyl jy die kinders besig hou.
Op ʼn koue wintersdag kan jy haar handdoek of kamerjas gou in die tuimeldroër gooi terwyl sy bad of stort. Dit sal dan heerlik warm wees wanneer sy dit wil gebruik.
Komplimenteer mekaar gereeld, maar maak seker dat julle opreg is.
Stop jouself wanneer jy krities wil wees, en vul mekaar se lewens met aanvaarding.