Deur Marli Naidoo
Covid-19 en die inperking het meeste mense se beursies hard geslaan, en baie van ons het sommer lus om hierdie jaar Kersfees oor te slaan. Dit is natuurlik nie moontlik nie. Wat egter wel moontlik is, is om ʼn bekostigbare Kersfees te beplan en te vier.
Beplan vooruit en in die fynste detail. Jou bankbalans het nie nou enige verrassings nodig nie. Hoeveel gaan en kan jy nou op kos en geskenke spandeer?
Wanneer dit by geskenke koop kom, is dit belangrik om te koop met wat jy het, en nie wat jy wens jy het nie. Los dus die kredietkaart by die huis. Dit is maklik om te oorspandeer wanneer dit nie harde kontant is nie, en vir jouself te jok oor die ware stand van sake.
Geskenke hoef nie veel te kos nie. Ons is gebreinspoel om te glo dat ons geliefd is wanneer iemand vir ons ʼn present koop, en hoe duurder die present, hoe groter is die liefde. Kan julle glo dat ons daardie leuen glo en verdra?. Handgemaakte geskenke kan pragtig wees, en die moeite en tyd wat daarin gaan om dit te maak, maak dit baie meer waardevol as ʼn duur generiese, gekoopte geskenk.
Moenie sleg voel om “nee” te sê nie. Indien ʼn uitgawe nie haalbaar of noodsaaklik is nie, hoef jy nie in te stem om dit te koop nie. Dit help nie jy probeer almal gelukkig hou, en skiet jouself in die proses in die voet nie.
Tweedehandse en liefdadigheidswinkels het soms wonderlike skatte teen ʼn fraksie van die oorspronklike prys, en die geld wat jy daarop spandeer word aangewend vir ʼn waardige saak.
Jou kinders hoef nie 10 geskenke elk te kry nie. Een of twee goeie geskenke is heeltemal genoeg.
Probeer ʼn “Geheime Kersvader”-geskenksisteem, waar elke volwassene vir een ander volwassene ʼn geskenk van ʼn vasgestelde waarde koop. Dit is onnodig en verskriklik duur om vir almal geskenke te koop.
Hou jou neus op die grond vir winskopies, en begin nou al kosaankope doen vir Kersfees. Alles is ekstra duur net voor Kersfees, en jy gaan heel moontlik nie alles op afslag kan kry wat jy nodig het as jy nie vooruit beplan en nou reeds begin nie.
Verkoop items wat net rondstaan en stof opgaar. Indien jy dit nie in die laaste jaar of twee gebruik het nie, gaan jy dit heel moontlik nooit gebruik nie. Die ekstra geldjie kan handig te pas kom.
Moenie duisende rande op versierings spandeer nie. Dit gaan nie jou Kersfees gelukkiger maak nie.
Dit is onmoontlik om geld te spaar wanneer jy ander mense wil beїndruk. Vergeet van ander se opinies, en doen wat jy kan bekostig. Jy sal baie makliker deur Januarie en Februarie kan kom as jy Desember goed bestuur.
Bronne:
Wise bread: https://www.wisebread.com/5-rules-for-planning-your-most-affordable-christmas-ever IOL: https://www.iol.co.za/personal-finance/my-money/covid-hits-christmas-2020-56-planning-to-cut-costs-21a34946-d1e6-4586-b0f6-5e73b5af9c90 Money Saving Expert: https://www.moneysavingexpert.com/shopping/christmas-savings/ Tuppennys Fireplace: https://tuppennysfireplace.com/how-to-do-christmas-cheap/
Foto krediet: Irina Iriser | Pexels
Oops! We could not locate your form.