Deur Nico Strydom
Die koms van ʼn nuwe baba kan ʼn huishouding op sy kop keer en dit kan ook ʼn invloed op die troeteldiere van die huis hê.
Wanneer die nuwe baba eers by die huis is, het dit ʼn oorweldigende aantal nuwe geluide en reuke tot gevolg wat ʼn hond kan omkrap veral as hy nie gewoond is aan kinders nie. ʼn Baba het ook tot gevolg dat daaglikse roetine drasties verander, wat beteken die hond se skedule gaan moontlik ook verander. ʼn Nuwe baba kan ook tot gevolg hê dat ʼn hond vir ʼn wyle minder aandag as voorheen kry.
Dit alles kan spanning tussen die hond, baba en die res van die gesin tot gevolg hê. Skeidingsangs kan tot gevolg hê dat die hond vernietigende gedrag toon soos die kou of skeur van goed, oormatige geblaf of gehuil of ʼn gemorsery in die huis.
Sommige honderasse hanteer kinders van nature beter as ander maar dit is ook moontlik om sekere stappe te volg om die hond gewoond te maak aan die nuwe baba. Volgens kenners sal jou hond moontlik al tydens die swangerskap agterkom iets is aan die gang.
Dit beteken egter nie die hond weet wat om te verwag nie. Die bekende hondefluisteraar, Cesar Millan, meen dit is belangrik om onmiddellik professionele hulp te kry indien ʼn hond ernstige gedragprobleme toon met die koms van ʼn nuwe baba.
Millan gee egter raad om jou hond te begin voorberei vir die nuwe baba se koms. Volgens hom is dit van kardinale belang om dissipline nou ten sterkste te handhaaf en die hond duidelik die reëls, grense en beperkings te laat verstaan.
Jy kan byvoorbeeld reeds voor die baba se koms ʼn speelarea vir die baba opstel en ʼn bababedjie êrens in die huis plaas. Leer die hond dat die areas vir die baba is en nie vir hom of haar nie.
Volgens Millan is dit ook baie belangrik om die hond se opgewondenheid te beheer aangesien selfs ʼn klein hondjie ʼn baba ernstig kan beseer indien hy of sy te opgewonde raak. ʼn Baba verander die hele gesin se roetine en gaan ook die hond se roetine verander. Probeer dus om al voor die baba se koms die hond gereed te maak vir veranderinge wat kan kom.
As ma gewoonlik met die hond gaan stap het maar dit vir ʼn ruk nie sal kan doen nie weens die baba se koms, kan pa of iemand anders solank met die hond begin stap om hom daaraan gewoond te maak. Dit is ook wys om solank ʼn stootwaentjie aan te skaf en jy en die hond kan solank met die leë waentjie gaan stap sodat die hond daaraan gewoond kan raak.
Volgens Millian kan jy ook voor die baba se koms opnames speel van ʼn baba wat huil en kyk watter gedrag dit by jou hond tot gevolg het sodat jy daaraan kan werk voor die baba kom. Dit kan ook help om jou hond voor die baba se koms aan kinders voor te stel indien hy of sy nog nie aan kinders gewoond is nie.
Wanneer die baba uiteindelik hier is, kan jy ʼn item waarmee die baba by die hospitaal in kontak was solank huis toe bring sodat die hond aan die baba se reuk gewoond kan raak. Wanneer baba en die hond uiteindelik aan mekaar voorgestel word, is dit noodsaaklik dat jy beheer moet hê oor die ontmoeting. Millan stel voor dat jy jou hond vir ʼn lang stap neem sodat hy uitgeput terugkeer huis toe. Die hond moet toegelaat word om die baba te ruik maar op ʼn aanvaarbare afstand. Millan stel voor dat die hond nie toegelaat moet word om die eerste keer te naby die baba te kom nie en dat die hond geleidelik nader en nader beweeg.
Wanneer baba eers kan kruip en aan die verken is, is dit noodsaaklik om ook vir baba te leer hoe om honde te hanteer sodat daar wedersydse respek is. Die belangrikste is om nie jou hond weg te stoot nie en om sy of haar roetine vol te hou ten einde te verseker dat jou hond kalm voel oor die nuwe toevoeging tot die gesin.
Bronne
Cesar’s way: https://www.cesarsway.com/dog-training/socialization/introduce-your-dog-to-your-baby en https://www.cesarsway.com/dog-psychology/ten-principles/pack-position/how-to-get-your-dog-ready-for-the-baby
The Dog People: https://www.rover.com/blog/how-to-really-introduce-dogs-baby-myths-reality-in/
ASPCA: https://www.aspca.org/pet-care/dog-care/dogs-and-babies
Oops! We could not locate your form.