Baie van ons was al self slagoffers van misdaad, of ken iemand wat was. Dis ’n gegewe en ongelukkig nie iets waarvoor ons ons blind of doof kan hou nie. Almal is daagliks daaraan blootgestel, daarom is dit noodsaaklik om alles menslik moontlik te doen om onsself en ons geliefdes asook ons besittings te beskerm, tuis en ook op die pad.
Veiligheid tuis
Sluit alle deure en vensters wanneer niemand tuis gaan wees nie, maar ook wanneer julle tuis is.
Belê in ʼn sekuriteitstelsel en toets dit gereeld om te verseker dat dit in ʼn goeie werkende toestand is. Dit kan een wees waarvan daar slegs ʼn alarm afgaan om ʼn inbreker skrik op die lyf te jaag, of dit kan een wees wat aan ʼn sekuriteitsmaatskappy gekoppel is. Onthou om dit dit te aktiveer wanneer julle die huis verlaat en ook saans wanneer julle gaan slaap.
Skakel die buiteligte saans aan. Kriminele hou van die beskerming wat donker areas bied.
Snoei struike, bosse en bome voor of naby vensters, want dis ʼn ideale skuilplek vir inbrekers.
Wanneer julle saans uitgaan, skakel ʼn paar binneligte asook ʼn televisie of radio aan. Dit skep die indruk dat daar iemand tuis is.
Sluit altyd jou motorhuis en bêre die sleutels asook die motorsleutels op ʼn onopsigtelike plek in die huis. Indien jou motor buite ʼn motorhuis moet staan, moenie enige waardevolle besittings in die motor los nie.
Bêre juwele in ʼn kluis of in ʼn onopsigtelike houer, eerder as in ʼn juweelhouer. Versteek die houer op ʼn nie-vanselfsprekende plek, waar inbrekers nie sal soek nie (nooit in ʼn medisynekassie, tussen klere of onder jou matras nie).
Bêre sleutels en elektroniese toerusting buite sig.
Moenie op sosiale media verkondig dat jy met vakansie gaan of is nie.
Staak die aflewering van pos en koerante wanneer julle met vakansie gaan of vra jou bure om dit, asook alle gemorspos, gereeld te verwyder. Vra hulle ook om jou vullisdrom buite die hek te plaas en dit weer te bêre.
Moenie lere en ander gereedskap buite laat rondlê en -staan nie.
Stel slegs mense wat jy vertrou in kennis as julle vir lang tye weggaan. Vra jou bure of familie wat naby woon om ʼn ogie te hou.
Stel jou sekuriteitsmaatskappy in kennis van jou vertrek- en terugkomdatum.
Laat ʼn stel sleutels by ʼn betroubare persoon sodat iemand toegang tot jou huis het indien iets gebeur (ʼn brand, of inbraak).
Moet nooit huissleutels onder ʼn deurmat of enige plek buite die huis versteek nie.
Maak seker dat daar altyd tydens jou afwesigheid iemand is wat jou troeteldiere versorg.
Hou noodnommers van die plaaslike polisiestasie, buurtwag, jou sekuriteitsmaatskappy en ander nooddienste byderhand (verkieslik op jou foon).
Maak seker jou kinders en bejaarde ouers weet presies wat om te doen en wie om te kontak in ʼn veiligheids- of mediese noodgeval wanneer jy nie tuis is nie.
Veiligheid in die buurt
Stig ʼn buurtwag in samewerking met die bure, plaaslike polisie en sekuriteitsmaatskappye in die buurt. Reël vir opleiding – waarop moet julle bedag wees en wat julle te doen staan wanneer julle kriminele bedrywighede vermoed.
Ken jou bure. Dit sal voorkom dat bure as skurke aangesien word, of skurke as bure.
Sluit aan by die buurt se WhatsApp-groep, waar inwoners enige verdagte aktiwiteite in die buurt kan rapporteer.
Wees waaksaam en bewus van verdagte persone, voertuie en bedrywighede in jou buurt en waarsku jou kinders ook om waaksaam te wees en nie met vreemdelinge te praat nie. Rapporteer dit onmiddellik en verskaf soveel moontlik besonderhede. Moet nooit alleen gaan stap of draf nie. Moenie kosbare besittings soos jou beursie of selfoon opsigtelik dra nie.
Identifiseer ʼn paar ‘veilige huise’ in die buurt waar jou kinders met vrymoedigheid kan aanklop/aanmeld indien hul op pad is van die skool af, of buite speel en hulle onveilig voel – hulle word agtervolg deur ʼn vreemdeling, val en doen beserings op, of besef dat hulle op pad van die skool af hul huissleutel verloor het.
Veiligheid op straat
Reis of stap altyd in ʼn groep.
Parkeer in goed verligte areas, of op nie-afgeleë plekke (as jy bedags iewers parkeer).
Hou ʼn nie-dodelike wapen, soos pepersproei of ʼn skokstok, byderhand vir selfverdediging.
Neem selfverdedigingslesse.
Indien ʼn vreemdeling jou by ʼn verkeerslig of stopstraat nader, moenie jou motorruit wyd oopmaak nie en ook nie jou voertuig verlaat nie. Ry so vinnig moontlik weg, druk die toeter aanhoudend, en/of ry na die naaste polisiestasie.
Beplan jou roete en maak seker dat iemand weet van jou reisplanne – waarheen jy op pad is, en hoe laat hulle jou tuis kan verwag. Indien jy ver reis, gee ʼn kopie van jou reisplan en van belangrike dokumente aan ʼn vriend/familielid.
Verseker dat jou selfoon altyd gelaai is sodat jy altyd in kontak kan bly.
Stoor ʼn ICE (In Case of Emergency)- nommer, en alle noodnommers soos die polisie, ambulans- en ander nooddienste in jou foon se kontaklys.
Maak seker dat jou motor altyd padwaardig is en toegerus is met alles wat nodig is vir ʼn noodsituasie – spaarwiel, noodligte en -driehoek, asook ʼn noodhulpkissie.
Indien jy lid is van die Outomobiel Assosiasie of soortgelyke nooddienste, maak seker jy het die kontaknommer en lidnommer byderhand. Dieselfde geld as jou motor nog onder waarborg is en jy van die vervaardiger se padbystanddiens gebruik moet maak.
Indien jy die langpad (met of sonder jou gesin) aanpak, maak seker dat daar altyd ‘n paar komberse, genoeg water en gesonde peuselhappies in die voertuig is, indien die motor onklaar raak en jul vir ʼn tyd lank gestrand is.