Deur Marli Naidoo
Die konstante samesyn en finansiële druk wat Covid-19 en die inperking veroorsaak het, het menige huwelike laat verbrokkel en ʼn toename in egskeidings teweeg gebring.
In sekere gevalle vind paartjies dat finansiële uitdagings tot ʼn dieper verhouding en versterkte huweliksbande lei. Dit is egter meer van toepassing op paartjies in die hoër- en middelinkomste-groepe. Gesinne in die laerinkomste-groep wat in hierdie tyd ernstige finansiële druk beleef, vind dit soveel moeiliker om op huwelikspreservering te fokus.
Dit is egter moontlik om sterker en selfs meer toegewyd anderkant uit te kom. Navorsing het bevind dat ongeag die sosio-ekonomiese status van paartjies, die toepassing van verhoudings-instandhoudingsgedrag gedurende stresvolle tye gelukkige huwelike tot gevolg het. Hierdie paartjies respekteer mekaar, is daar vir mekaar, en tree liefdevol teenoor mekaar op, ten spyte van swaar tye.
Dit is ʼn tyd om saam te staan en as ʼn span na oplossings te soek. Deur blaam op mekaar te plaas oor geldelike druk sal net ʼn wig tussen julle indryf. Jou maat is nie jou vyand nie, maar jou bondgenoot. Paartjies kan makliker deur moeilike tye kom indien hulle hul perspektief verander.
Twee individue binne ʼn verhouding kan soms die bestuur van geld heeltemal verskillend benader. Hierdie verskille in perspektief kan soms soos ʼn onoorkombare berg lyk. Die beste manier om dit te oorkom is om die hulp van ʼn buitestander in te roep. ʼn Finansiële berader kan julle help om kompromieë te tref en mekaar êrens in die middel te ontmoet.
Ons moet nooit die krag van kommunikasie onderskat nie. Geld kan ʼn ongemaklike onderwerp wees om te bespreek, maar dit is nodig om met mekaar te praat. Jou maat kan nie raai wat in jou kop aangaan nie. Julle kan julle koppe bymekaar sit, saam besluit wat nie nou noodsaaklike uitgawes is nie, en uitwerk hoe om kop bo water te hou.
Gebruik die stres wat julle ondervind as ʼn katalisator om positiewe veranderinge in jul huwelik te maak. Dit kan ʼn geleentheid wees om nader aan mekaar te groei in plaas daarvan dat dit julle uitmekaar dryf.
Bronne:
Science Daily: https://www.sciencedaily.com/releases/2020/04/200421090533.htm
For Your Marriage: https://www.foryourmarriage.org/how-financial-difficulties-affect-marriage/
BBC News: https://www.bbc.com/news/world-55146909
Oops! We could not locate your form.