Deur Nico Strydom
Groot dele van die land het in die laaste paar maande milde reën ontvang en met nog reën wat voorspel word, is dit baie belangrik om jou motor te beskerm teen waterskade.
Die baie reën het tot gevolg dat groot waterpoele op die paaie vorm en word vererger deur ondoeltreffende stormwaterdreine en onvoldoende padonderhoud.
“Dit hou nie net ‘n padveiligheidsgevaar in nie, maar die water kan ewe gevaarlik vir jou motor wees,” sê Dewald Ranft, voorsitter van die Motor Industry Workshop Association (Miwa).
Waterskade kan ‘n aantal verskillende komponente in ‘n motor beïnvloed, van die enjinbeheereenheid tot die ratkas. Water kan onder meer die elektroniese komponente binnedring en die enjin laat stol. “Dit hou ‘n gevaar in vir die bestuurder, wat gestrand gelaat kan word,” sê Ranft.
“’n Oormaat water kan ook ‘n motor se lugfilter, wat gewoonlik laag op ‘n motor aangebring is, beïnvloed. Dit hou ‘n groot risiko in aangesien die inname van oortollige water die motorenjin kan beskadig. Water wat in die enjin ingesuig word, kan hidrostatiese stolling (‘hydro lock’) veroorsaak. Dit sal die binnewerking van die enjin vernietig teen groot koste vir die eienaar.”
Wanneer jou motor buite geparkeer is wanneer dit reën, is daar ook ‘n paar goed om op te let. “Dit is noodsaaklik om te verseker daar is dreinering onder die ruitveërs en dat dit nie verstop is weens blare en takkies wat daar vassit nie. Water kan die enjinbeheereenheid en/of die ratkas binnegaan.
“Dit sal veroorsaak dat die motor stol en duur herstelwerk verg. “Dit kan maklik vermy word met gereelde instandhouding, soos die skoonmaak van kappanele en waterdreineringstelsels,” sê Ranft.
Moet nooit te vinnig deur ‘n poel water ry as jy nie seker is van die diepte daarvan nie. Dit kan daartoe lei dat die voertuig beskadig word of selfs heeltemal oorstroom word. Die motor kan ook op die water gly en veroorsaak dat die bestuurder beheer verloor.
Vermy laagwaterbrûe wat oorstroom is aangesien so min as 15 cm water ‘n voertuig stroomaf kan meesleur.
“Wees op die uitkyk vir slaggate wat met water gevul is aangesien dit skade aan die voertuig se vellings, bande en belyning kan veroorsaak. Ry altyd met jou hoofligte aan wanneer dit reën om jou voertuig duideliker sigbaar te maak. In swaar reën of mistige toestande kan dit selfs nodig wees om jou motor se gevaarligte aan te skakel om meer sigbaar te wees.”
Ranft wys ook daarop dat motoriste stadig moet ry wanneer dit reën en ‘n veilige volgafstand moet handhaaf.
Bron:
Miwa: https://www.miwa.org.za/
Foto krediet: Apoorv Ishan | Pexels
Oops! We could not locate your form.