Deur Wilma Bedford
In ʼn langtermynverhouding is een van die jakkalsies wat die wingerd verwoes die gevaar dat mense mekaar as vanselfsprekend begin aanvaar en nalaat om hoflik te wees of om dankie te sê. Vanselfsprekendheid is om die ander persoon se bydraende pogings as onbelangrik of moeiteloos te beskou. Dit is die onvermoë om raak te sien dat jou maat die lewe makliker vir jou (of jy vir jou maat) maak deur roetinetake te verrig. Die pandemie het ook meegebring dat die persone in die verhouding meer take binne die huishouding verrig as wat hulle normaalweg sou doen, waarvoor hulle geen dankbaarheid of erkenning ontvang nie en dit lei tot konflik.
Hoe beskerm julle mekaar teen vanselfsprekendheid? Wanneer lewensmaats mekaar waardeer en erkenning gee vir hul insette, bou hulle ʼn beskermingsnet teen negatiewe kommunikasie, soos aggressiewe kritiek of om stil te bly om konflik te vermy, en bou dus stabiliteit en ʼn kwaliteit verhouding.
Waardering en dankbaarheid verhoed daardie afwaartse spiraal in ʼn romantiese verhouding waar een persoon iets kras sê of doen en die ander persoon reageer met iets meer kras. Dankbaarheid werk in die teenoorgestelde rigting. Wanneer jy gewaardeer voel vir jou insette sal jy meer geneigd wees om iets goeds vir jou maat te doen, wat weer op sy/haar beurt uit sy/haar pad sal gaan om vir jou goed te wees.
Hoe jy jou waardering betoon, is belangrik. Om bloot dankie te sê is nie genoeg nie, ʼn ingesteldheid van dankbaarheid is wat tel; dit is om die waarde van jou wederhelf te sien en te waardeer en telkens te herwaardeer. ʼn Waardering wat nie eg klink nie of as ʼn onnadenkende outomatiese respons kom, bou nie ʼn verhouding nie.
Gary Chapman, huweliksberader, motiveringspreker en skrywer van The 5 Love languages, stel dit dat woorde van bevestiging, kwaliteit tyd, om geskenke te ontvang, gebare van diens en fisieke aanraking die taal van die liefde is. Deur jou eie en jou wederhelf se liefdestaal te ken sal die beste manier wees om waardering te betoon. Indien jou maat waardering in die vorm van verbalisering wil ontvang, sal ʼn briefie of ʼn sms of ʼn direkte verbalisering ʼn groter impak hê as ʼn duur geskenk.
Deur erkenning en waardering te bied, nie net vir die gebaar nie maar ook vir wat die persoon is, is ʼn beter manier van waardering; toon waardering vir die feit dat die persoon onthou het om jou gunsteling sjokolade in die kruideniersmandjie te sit of bedagsaam was deur jou te help met huistake. Fokus ook op hoe jy gebaat het deur jou maat se bedagsame optrede; sê vir jou wederhelf dat deurdat hy/sy die tuin natgelei het jy tyd gekry het om ʼn ander belangrike taak te verrig.
Inkorporeer klein gebaartjies van waardering in jou daaglikse roetine, soos byvoorbeeld net om te groet en te vra hoe die dag verloop het wanneer jou maat tuiskom; dit wys dat jy werklik omgee en dat jy bly is hy/sy is in jou lewe.
Wees spesifiek wanneer jy jou maat vertel dat jy dankbaar is dat hy/sy in jou lewe is. Jy mag dalk sê: “Ek weet nie wat ek sou doen sonder jou nie”, maar deur te sê: “Ek weet nie hoe ek deur hierdie donker tyd sou gekom het sonder jou raad en emosionele onderskraging nie”, beklemtoon jy hoeveel hy/sy vir jou beteken; deur spesifiek te wees ervaar hy/sy jou dankbaarheid as opreg. Wees ook spesifiek in die klein dingetjies waarvoor jy dankie sê: “Dankie dat jy die troeteldiere versorg het terwyl ek in ʼn verkeersknoop vasgesit het”.
Pas jouself op en slaap genoeg. Hoewel seks en finansies die twee grootste stressors in ʼn verhouding is, is slaap ewe belangrik. Onvoldoende slaap kan jou lusteloos laat voel, te moeg om gaaf te wees met jou maat en kan julle beide gegriefd teenoor mekaar laat voel oor wie die slaaploosheid veroorsaak. Hierdie irritasie (snork, ens.) infiltreer alle ander interaksie. Bespreek die saak met jou maat en vind ʼn oplossing – al is dit ʼn duur nuwe matras of aparte kamers; julle verhouding is meer werd as ongerief.
ʼn Speelse manier is om ʼn joernaal in jou kombuis of studeerkamer aan te hou waarin jy en jou maat ter enige tyd ʼn dankbaarheidsboodskappie kan skryf om later te lees. Jy mag vroegoggend vind dat jou hemp gestryk is maar jou maat slaap nog; skryf dan ʼn dankie-boodskappie in die joernaal. Dit is lekker om ʼn boodskappie te ontvang en om daarop te antwoord.
Flankeer met jou maat – dit is ʼn vorm van waardering, want dankbaarheid is om iemand te sien en te waardeer, om hul naby te wil hê en hulle waardevol en begeerlik te laat voel. Dit mag moeilik klink indien julle al lank in ʼn verhouding is, maar ʼn goed bedoelde kompliment soos: “Jou hemp sit mooi aan jou”, of: “Jy ruik lekker”, gevolg deur ʼn knip-oog is ʼn goeie beginpunt.
Doen iets spesiaals vir jou geliefde om geen spesifieke rede en om niks terug te verwag nie, maar net om jou waardering te wys. Dit kan iets kleins wees, soos om koffie te maak wanneer jou maat werk of om die kinders uit te neem sodat jou maat tyd vir hom/haarself het. Gee jou maat ʼn dag af van alle huishoudelike verantwoordelikhede sodat hy/sy kan ontspan of iets kan doen waarvan hy/sy hou. Bederf jou maat; as jy geld het, stuur hom/haar na ʼn spa of ʼn middag se gholf, of koop ʼn koek vir middagkoffie. Stuur ʼn sms net om te sê jy waardeer en is lief vir die persoon of jy dink aan hom/haar – al sit die persoon op daardie oomblik reg oorkant jou. Dit doen wonders.
Die belangrikste van alles is: maak tyd om met jou maat te gesels en ook net te luister. Verseker hom/haar dat jy altyd daar sal wees om hom/haar by te staan.
Om aan jou wederhelf meer waardering te betoon is een van die maklikste maniere om te verseker dat jul verhouding gesond sal bly. Die meeste verhoudings wat misluk is te wyte daaraan dat die betrokke persone bloot ophou om waardering en dankbaarheid te verbaliseer en hulle maats net as van selfsprekend begin aanneem.
Bronne:
What Are the 5 Love Languages
https://www.5lovelanguages.com/learn
The Most Effective Way to Thank Your Significant Other
Paul Nicolaus. June 21, 2021 The Atlantic
https://www.theatlantic.com/family/archive/2021/06/thank-your-partner-gratitude-more/619233/
6 Small But Impactful Ways to Show Your Partner More Appreciation
Annie Daly https://www.self.com/sponsored/story/6-small-but-impactful-ways-to-show-your-partner-more-appreciation
8 Ways to Show Appreciation to the Love of Your Life
Mary Fisher 15 Jun, 2021 https://www.marriage.com/advice/love/8-ways-to-show-appreciation-to-the-love-of-your-life/
Oops! We could not locate your form.