Deur Reon Janse van Rensburg
Beurtkrag en selfone vorm deel van alle Suid-Afrikaners se daaglikse bestaan. Suid-Afrikaners sou egter veel eerder hul lewens sonder die bedreiging (en realiteit) van beurtkrag wou aanpak.
Alle selfoonoperateurs is deur die onlangse ronde van beurtkrag geaffekteer. Beurtkrag veroorsaak nie net dat baie verbruikers, wat van ’n ADSL of ’n vesellyn afhanklik is, nie toegang tot die internet tydens beurtkrag kan kry nie, maar dit veroorsaak ook ’n groot probleem met opvangs omdat selfoonoperateurs op elektrisiteit staatmaak om hul selfoontorings van krag te voorsien.
Selfoonoperateurs het wel noodplanne in plek soos die gebruik van kragopwekkers of batterye vir tye wanneer daar nie kragtoevoer is nie of in tye waar beurtkrag toegepas word.
Dit is egter ’n realiteit dat faktore soos die tyd wat dit vat om hierdie batterye te herlaai en ook misdaad wat veroorsaak dat die batterye gesteel word, ’n groot rol speel. Hierdie faktore is moeiliker om te beheer en het daartoe gelei dat selfoonoperateurs soms sukkel om verbruikers se selfoonopvangs ten tye van beurtkrag te verseker.
Volgens MTN se uitvoerende beampte vir korporatiewe sake, Jacqui O’Sullivan, word die diefstal van batterye en vandalisme by selfoontorings reeds as ’n groot krisis bestempel omdat dit kliënte beïnvloed en omdat dit ’n impak op operasionele sake het, aangesien die toedien van beurtkrag meer en langer plaasvind, en die kapasiteit om die ondersteuningstoestelle weer te benut, oorskry word.
Volgens Vodacom is die finansiële impak enorm en dit kos etlike miljoene om hierdie batterye en kragopwekkers in stand te hou.
O’Sullivan het ook genoem dat die batterye die kapasiteit het om tussen 6 en 12 ure lank te hou en neem ongeveer 12 tot 18 uur om te herlaai, afhangende van die tegnologie van die batterye by verskillende torings. Sy sê ook dat waar daar agtereenvolgende beurtkrag plaasvind, gebeur dit soms dat batterye nie ten volle kans kry om te herlaai nie en dit veroorsaak verminderde tyd wat die batterye in staat is om as plaasvervanger gebruik te word.
Volgens Cell C is dit onmoontlik om kragopwekkers by al sy selfoontorings te installeer en te gebruik. Hulle waarsku ook verder dat hul kliënte wat tydelike databondels koop, nie terugbetaling sal kan eis as die data aktief is tydens die implementering van beurtkrag nie.
Benewens die onderbrekings wat deur die diefstal van batterye veroorsaak word, kos dit die selfoonoperateurs miljoene rande om hierdie gesteelde goedere te vervang.
Selfoonoperateurs doen ’n beroep op die publiek om op die uitkyk te wees vir sulke misdadigers en om die polisie of selfoonmaatskappye daarvan in kennis te stel.
Bron:
https://mybroadband.co.za/news/cellular/324386-why-load-shedding-kills-your-cellphone-reception.html
Oops! We could not locate your form.