Deur Emsie Martin
ʼn Gesonde selfbeeld is jou kind se wapenrusting teen die wêreld en sy mense. Kinders wat goed voel oor hulself sukkel minder om konflik en negatiewe druk te hanteer. Hul is ook minder geneig om voor te gee of om ander mense tevrede te probeer stel ten koste van hulself. Selfbeeld is die manier waarop jou kind dink en voel oor homself en oor die dinge wat vir hom belangrik is. Dit word gevorm deur wat ʼn kind van homself verwag sowel as deur die optrede en verwagtinge van die mense na aan hom.
Ouers se omstandighede maak dit soms moeilik om hieraan aandag te gee. Moenie huiwer om professionele hulp te kry indien jou kind probleme ondervind nie. Gesels met ’n sielkundige wat in hierdie spesifieke veld spesialiseer.
Stappe om jou kind se selfbeeld te bevorder:
- Hou ‘n wag voor jou mond! Kinders is sensitief vir ouers se opmerkings.
- Gee positiewe en akkurate terugvoer. Komplimenteer jou kind nét wanneer sy of haar optrede erkenning verdien en jy dit bedoel. Kinders kom baie gou agter wanneer jy iets nie regtig bedoel nie.
- Moenie eise stel wat bokant jou kind se vuurmaakplek is nie.
- Erken hulle gevoelens, prys die goeie keuses wat hulle gemaak het.
- As hy of sy verkeerde keuses gemaak het, moedig jou kind aan om in die toekoms beter keuses te maak.
- Bied ʼn veilige en liefdevolle omgewing. ʼn Kind wat aan ouers se argumente en bakleiery blootgestel word se selfbeeld word negatief geaffekteer.
- Wees ʼn positiewe rolmodel. Jou voorbeeld moet getuig van kalmte en volwassenheid.
- Help jou kind om betrokke te raak by konstruktiewe ervarings soos sport, kuns of jeugaksies by die kerk.
- Identifiseer jou kind se onakkurate oortuigings oor homself en stel dit reg. Byvoorbeeld: ʼn kind wat goed vaar in die skool behalwe in wiskunde, kan voel hy is “dom”. Wys hom op die valse veralgemening en bied jou hulp aan.
- Moenie jou kind dom of hulpeloos laat voel deur ʼn taak van hom af weg te neem as dit lyk of hy sukkel nie.
- Moenie kritiseer nie, maar prys die kind se positiewe gedrag, wys dat jy dit raaksien.
- Dis ook belangrik dat jou kind moet leer om onafhanklik op te tree. Die versoeking om alles wat hy doen te kontroleer, is moontlik sterk maar los hom om self dinge te doen.
- Eerlikheid en openheid tussen jou en jou kind is nie onderhandelbaar nie en daarom moet jou kind nie bang wees vir jou nie. Hy of sy moet altyd die vrymoedigheid hê op eerlik teenoor jou te wees.
- Voeding is belangrik. Maak seker jou kind eet gesonde kos en dat hy of sy fisiek gesond is.
- Liefde is baie belangrik. Jou kind moet weet dat dit nie saak maak wat hy doen of nie doen nie, jy het hom onvoorwaardelik lief en dit sal nooit verander nie. Wees liefdevol en spontaan.
Bronne
https://www.edubloxsa.co.za/versorg-jou-kind-se-selfbeeld/
Susan du Plessis is ʼn opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar praktiese ondervinding. Sy het ʼn BA Honneursgraad in sielkunde sowel as ʼn BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en het die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar eer as 40 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste.
https://www.goeiehuishouding.co.za/het-jou-kind-n-swak-selfbeeld/
The Big Book of Parenting Solutions (Jossey-Bass)
Dr. Michelle Borba, ʼn deskundige op die gebied van ouerskap, bied in haar boek The Big Book of Parenting Solutions ʼn oorsig van haar minuut-per-dag-plan vir 21 dae wat jou kind se selfvertroue kan verbeter.