Deur Melodie Veldhuizen
Om borrels te blaas saam met babas, peuters en kleuters is ʼn wonderlike manier om hulle besig te hou en terselfdertyd gehaltetyd aan jou kind te bestee. Dis prettig, vermaaklik en ontspannend, maar hou ook op vele vlakke ander voordele in vir die kind se ontwikkeling.
Lauren Mayer, ʼn fisioterapeut, onderwyseres en ook ʼn ma, vertel meer oor die voordele van hierdie speletjie wat deur baie geslagte heen reeds deur kinders geniet word.
- Dis goedkoop: Of jy dit self maak en of jy dit koop, dis van die goedkoopste speelgoed vir kinders.
- Dis veelsydig. Kinders kan buitenshuis en binnenshuis daarmee speel. Hulle kan saam met maats of sibbe (of selfs saam met hul ouers of oppassers) of op hul eie daarmee speel. Mammas kan dit byderhand hou in hul handsakke vir die tye wanneer kinders verveeld of gespanne is (soos in ʼn dokter se wagkamer).
- Ontwikkelings- en opvoedkundige voordele
- Visueel: Omdat borrels baie opvallend is en stadig beweeg, help dit om die kind se visuele vaardighede te ontwikkel deurdat sy daarop fokus en die beweging volg.
- Grootmotoriese ontwikkeling, krag en balans: Wanneer ʼn baba op haar maag lê en iemand anders die borrels blaas, moedig dit haar aan om haar kop in die rigting van die bewegende borrels te draai. Namate sy sterker word, sal sy ook met een hand uitreik om die borrels te vang. Wanneer sy begin kruip, sal sy dit geniet om agter die borrels aan te beweeg. Deur haar aan te moedig om oor en onderdeur versperrings agter die borrels aan te beweeg, ontwikkel haar ruimtelike bewustheid en probleemoplossingsvaardighede. Wanneer sy leer om alleen te staan en te loop, sal haar balans ook verbeter as sy agter die borrels aan beweeg.
- Fynmotoriese ontwikeling: Sodra jou kind self die blaasstokkie kan vashou, sal sy self graag wil blaas. Dit sal aanvanklik ʼn morsige spul wees, maar sy sal uiteindelik die vaardigheid bemeester. Om ʼn greep te kry op die stokkie, dit vas te hou en in die houer te druk, is uitstekend vir haar fynmotoriese ontwikkeling. Moedig haar aan om albei hande afwisselend te gebruik.
- Hand-oog- en voet-oog-koördinasie word verbeter deur die bars van die borrels met een hand, albei hande, ʼn voet, of ʼn toon.
- Oraal-motoriese vaardighede: Kinders tussen twee en drie jaar is gewoonlik gereed om self te leer om borrels te blaas. Aanvanklik sukkel hulle daarmee omdat hulle wil suig eerder as blaas, maat met geduld sal hulle die vaardigheid ook baasraak. Dis ʼn uitstekende manier om die mond- en kaakspiere te versterk en word dikwels gebruik om kinders wat spraakprobleme het, te help.
- Liggaamsbewustheid: Borrels blaas is ʼn goeie manier om peuters te leer van liggaamsdele. Doen dit deur byvoorbeeld te sê: kyk die borrel is naby jou hand; trap daarop met jou voet; lig jou arms op en raak aan die borrels met jou hande; probeer om ʼn borrel met jou neus te bars.
- Skep bewustheid van ruimte en rigting: Kinders raak bewus van hoe hul liggaam in ruimte kan beweeg. Dit ontwikkel ook hul verstaan van begrippe soos op, af, voor, agter, bo, onder, en langs.
- Sosiale en kommunikasievaardighede tussen sibbe, maats en selfs tussen kinders en volwassenes word aangehelp deurdat daar voortdurend gekommunikeer word terwyl hulle speel. Hulle kan ook byvoorbeeld leer om versigtig te wees en nie aan mekaar te stamp in hul pogings om borrels te bars nie.
- Kalmerende uitwerking: Borrels blaas help kinders (en ook ouers en volwassenes) om te ontspan. Om diep in te asem voordat jy die lug stadig uitasem om die borrel te blaas, het ʼn kalmerende uitwerking op jou gemoed, veral wanneer jy angstig of gespanne is. Net so kan die rustige waarneem van die swewende borrels kinders en volwassenes rustig maak en help om net die wonder van die oomblik te geniet.
Vir borrelspelidees vir kinders van verskillende ouderdomme, besoek die webtuiste https://www.nubabi.com/articles/boost-your-baby-s-development-by-blowing-bubbles/
Vir resepte om borrels te maak, en pretidees met borrels, besoek die webtuiste https://www.homesciencetools.com/article/how-to-make-super-bubbles-science-project/
Bron
Nubabi. https://www.nubabi.com/articles/boost-your-baby-s-development-by-blowing-bubbles/