Deur Melodie Veldhuizen
Ongelukkig is fisiese en emosionele uitdagings en selfs fisiese en emosionele mishandeling onder baie van ons kinders ʼn realiteit wat daartoe lei dat hulle moeilik by mense aanklank vind, veral wat vertroue betref. Hierdie kinders kan egter wonderlike bande met diere smee. Jannes von Backstrom van Rustic Roads Equestrian Centre gesels oor Equiterapie en hoe dit kinders kan help om hierdie uitdagings te oorkom. “Perdry is een van die mooiste sportsoorte, maar ook een wat met die meeste hartseer gepaardgaan,” sê Jannes.
Jannes beskryf Equiterapie as die saamkom van perde en ruiters om deur emosionele, traumatiese of fisiese toestande of gebeure te werk. Volgens hom is geen uitdaging te groot of te klein om te hanteer nie. Ondervinding het geleer dat enige fisiese, emosionele of gedragsprobleme met behulp van Equiterapie behandel kan word. Perdry is byvoorbeeld uitstekende terapie vir epilepsielyers en outistiese kinders. Net so vind kinders wat sig- of gehoorgestremd is, baat daarby. “Om so iets te sien, laat mens werklikwaar voel enigiets is moontlik!”
By Rustic Roads Equestrian Centre word geen mediese of sielkundige verslag van die kind vereis nie. Want wie ken ʼn kind beter as sy eie ouers? “Voor die aanvang van die eerste sessie voer ons ʼn onderhoud met die ouers wat vir ons genoegsame agtergrondinligting oor die kind verskaf. Dit bied aan ons ʼn goeie maatstaf om ons ervaring van die kind tydens die sessies te kan vergelyk met die ouers se ervaring tot op hede. Sodoende kan ons mettertyd agterkom of daar enige veranderings in die kind se gedrag of emosionele toestand plaasvind.”
Jannes gesels oor die perde se opleiding en geaardhede en die passing tussen die perd en die ruiter. “Perde is sielvolle wesens, soortgelyk aan mense. En net soos mense, loop sommige van hulle vreemde draaie op hulle lewenspad. Elke perd wat ons gebruik, word individueel gekies. Sommige is selfs ook uit skuilings gered, elk met sy kleurvolle verlede. Wanneer die perd by ons aankom, word hy vir die eerste maand glad nie gery nie en word daar ook nie met hom gewerk nie. Dit gee hom genoeg tyd om rustig by sy nuwe omgewing aan te pas en so kry ons die geleentheid om sy geaardheid te leer ken. Daarna begin sy basiese opleiding deur een van die instrukteurs. Dit verg nogal baie geduld en liefde. Die perd word ook bekend gestel aan soveel as moontlik vreemde en interessante situasies en omstandighede, met die doel om hom so ver moontlik voor te berei vir enigiets wat oor sy pad kan kom. Die instrukteurs loop met die perde aan ʼn leiband. Ons maak geraas om hulle en speel ook met balle, plastieksakke en selfs sambrele om en op hulle. Teen die tyd dat die ruiters op die perde klim, is die perde alles gewoond.”
Wat passing betref, sê Jannes, is dit selfs onder normale omstandighede altyd ʼn unieke verbintenis wat ʼn ruiter met ʼn perd vorm. “Ons probeer om hierdie konneksie te koester en waar menslik moontlik dit ook op ʼn langtermynbasis so te volhou. Die afrigters vorm ook ʼn band met die kinders en hulle onderskeie perde en so word ʼn vertrouensverhouding bewerkstellig. Die ruiter-en-perd-kombinasie is ook iets wat ʼn tydjie neem om reg gepas te kry. Aan die begin van die proses gebeur dit soms dat die kombinasie ʼn paar keer afgewissel word tot die regte plasing gevind is. Wat wonderlik is, is dat ʼn perd sy ruiter se hartklop op ʼn afstand van tot 4 meter kan aanvoel. Dis waarom die terapie so ongelooflik goed werk. Ons kan van die oomblik wanneer die kind op die perd se rug is, sien wat die kind se geestestoestand is. Die perd is absoluut ʼn spieëlbeeld van sy ruiter. Wat baie ruiters ook al vir ons gesê het, is dat ʼn perd alles verstaan maar niks praat nie, so die vertroue tussen die twee is onbeskryflik.”
“Soms is daar omstandighede buite enigeen se beheer wat af en toe afwisseling van ruiter en perd asook instrukteurs noodsaak”, verduidelik Jannes. “Dis ongelukkig ʼn realiteit van die lewe. Hierdie afwisseling is ook ʼn indirekte leerskool vir die kind. Hierdeur leer hulle dat verandering soms plaasvind, maar dat hulle dan die nodige instrumente het om dit effektief te kan hanteer.”
Die instrukteurs vertolk natuurlik ook ʼn belangrike rol. Jannes vertel: “Al ons instrukteurs is self ruiters. Hulle volg ʼn kort aanlyn kursus en verwerf ʼn sertifikaat in kinder-/ jongmenssielkunde en beskik ook oor Vlak 2-noodhulpkennis vir ʼn noodgeval. Ons instrukteurs vir die kinders wissel in ouderdomme van 16 tot 21 jaar. Uit ondervinding het ons geleer dat ʼn kind makliker aanklank vind by ʼn jonger persoon as by ʼn ou oom soos ek wat partykeer kwaai kan oorkom. Equiterapie is anders as gewone terapie. Die kind besef aanvanklik nie eens dis terapie nie. Dit word hanteer soos ʼn gewone perdryles. Geen druk word op die kind geplaas om te praat nie, maar hulle raak tog soms mettertyd so op hulle gemak dat hulle hul seer, pyn en vrese met die instrukteur deel. Na aanleiding van hierdie openhartige gesprekke sal ons dan ʼn gesprek met die ouers hê. Waar nodig, sal daar moontlik bepaal word of verdere professionele hulp nodig is.”
Daar is geen generiese doelwit of maatstaf waarvolgens die kinders gemeet word nie. “Elke kind is uniek. Elkeen se situasie is anders. Alle fokuspunte word mettertyd bereik. Na die aanvanklike gesprek met die ouers verduidelik ons aan hulle presies wat ons gaan doen. Ons oorhoofse doelwitte is om verantwoordelikheid te bou, respek vir mens en dier aan te leer en selfvertroue te kweek. Dit is vir baie van die kinders moeilik om in ʼn ‘normale’ omgewing te funksioneer – hulle ‘normaal’ verskil hemelsbreed van ons ‘normaal’ en ons gee aan hulle die gereedskap om in te pas. Hulle is self verantwoordelik vir al hulle toerusting voor, gedurende en ná die lesse. Hulle leer dat die perd, nes hulle, gevoelens het en ook kan seerkry. Daarom moet ons die perde en ander mense met respek behandel. Die perd weeg 400 tot 600 kg en hy laat ons toe om op sy rug te wees en doen boonop wat ons van hom verwag. Die kinders blom wanneer hulle vir die eerste keer oor ’n paal spring, om nie eers te praat van die eerste rosette wat hulle wen nie. Dit gee hulle die selfvertroue om skool toe te gaan en te spog oor wat hulle bereik het.”
Jannes vertel verder: “Ons werk ook daaraan om algemene bewustheid op ’n direkte en indirekte vlak te verskerp. Hierdeur leer die kinders om ooglopende dinge waar te neem maar ook om ingestel te wees op mens en dier se ‘versteekte’ reaksies. Dis nie net ʼn kwessie van opklim en ry nie. Die ruiter moet 150% bewus wees van sy omgewing en wat rondom hom gebeur. Fokus is uiters belangrik en selfs al dink jy as ouer jou kind kan glad nie fokus nie, sit hom op ʼn perd en kyk wat gebeur. ʼn Perd sal vinnig wys as hy ongemaklik voel in ʼn situasie en ons leer die kinders om daardie tekens raak te sien.
“ʼn Kombinasie van al die bogenoemde faktore vorm die ruggraat van elke les. Sommige van die verlangde uitkomste gebeur vinnig, ander neem langer – daar is geen tydbeperking nie. Die gemak waarmee dinge gebeur – dit is wat die proses so lekker maak. Op ʼn indirekte manier word die prentjie heel. Sodra die eenheid vorm en die band tussen die perd en die kind in plek val, word die sirkel voltooi.
“Dis ook die rede waarom daar geen definitiewe reël is betreffende die beëindiging van die terapie nie. Ons stel gewoonlik net voor dat die sessies vir ten minste ʼn jaar volgehou word, waarna die ouers en/of kind dan die keuse het om voort te gaan of om die proses te staak. In 90% van die gevalle is daar geen eindstreep nie en sommige kinders begin selfs kompeterend ry.”
Gedurende die bestaan van Rustic Roads Equestrian Centre was daar seker al vele suksesverhale? “Die een voorbeeld sal natuurlik wees die hoofrede waarom ek myself in die perdewêreld bevind. Toe ons dogter drie jaar oud was, het ons huis een aand afgebrand. Ons was genoodsaak om vir tyd lank in tydelike akkommodasie te bly. Ons het probeer om alles so ver moontlik normaal te hou, maar dit het uiteraard sy tol op haar geëis. Haar fisiese en emosionele ontwikkeling het begin agteruitgaan. Ons het navorsing gedoen oor verskeie vorme van terapie en het terloops gehoor van perdry. Met niks meer om te verloor nie, het ons dit beproef. Om ʼn protesterende, emosionele kind op ʼn perd se rug te probeer kry, is ʼn kuns op sy eie. Maar toe haar bas die saal tref, was dit net asof alles in plek val. Daar was daardie onmiddellike gevoel van vrede, rustigheid en absolute kinderlike blydskap. Daardie eerste perdjie was ʼn ouerige dame, al gevorderd in jare. Maar sy kon wêreldverhale met my kind deel wat geen mens ooit sou verstaan nie. Dit was ʼn besluit waaroor ek daarna nooit getwyfel het nie. So ʼn sielsband is soms net wat ʼn mens in die lewe nodig het.
“Een van ons huidige ruiters is ʼn 16 maande oue seuntjie wat in pleegsorg is. Binne die eerste maand al kon sy pleegouers ʼn duidelike verskil in sy fisiese en geestelike ontwikkeling sien. Sy ‘viervoet-terapeut’ voel dit ook aan en sy besoeke is die hoogtepunt in haar week.
“ʼn Ander mamma het vir ons vertel dat haar 8-jarige dogter die Maandag na haar eerste sessie met meer selfvertroue die skooldag aangedurf het.”
Waarom behoort jy as ouer Equiterapie te oorweeg vir jou kind? Jannes beklemtoon: “Daar is soveel ruiters wat al begin perdry het as gevolg van ʼn fisiese of emosionele trauma. En ons het al oor en oor gesien dat daar iets aan die siel van ʼn perd is wat goed is vir die siel van ʼn mens.”
Bykomende inligting
Elke perd het sy eie toerusting. Alle basiese toerusting en basiese ruiterdrag (hoed en beskermende klere) word voorsien. Die ruiter moet net ʼn gemaklike langbroek, ʼn hemp met moue en skoene met ʼn hakkie dra. Namate die ruiters in die sport vorder of later kompeterend begin ry, help ons die ouers om die nodige toerusting meer bekostigbaar te kan aanskaf.
Die koste per sessie van 20 tot 30 minute is R155 (dus gemiddeld R620 per maand vir vier sessies).
Rustic Roads Equistrian Centre is ʼn gesinsgerigte ryskool, en vir die duur van die les is ouers welkom om onder die bome by die klubhuis te wag, waar daar ook verversings beskikbaar is. Baie van die ouers vind die samesyn met ander ouers vertroostend. Geen ouers word tydens ʼn sessie in die arena toegelaat nie.
Daar word gereeld naweekkampe aangebied.
ʼn Opedag word beplan vir 7 Mei 2022.
Kontakbesonderhede:
Jannes von Backstrom
Rustic Roads Equestrian Centre
Geleë op ʼn kleinhoewe in Boschkop, Pretoria-Oos
(Slegs 500 m grondpad)
Tel: 071 492 1443
E-pos: rrecdesk@gmail.com
Oops! We could not locate your form.