Deur Melodie Veldhuizen
Alle kinders beskik oor ʼn aangebore musiektalent en aanvoeling vir ritme. Kyk maar hoe ʼn baba wat nog nie eens kan loop nie, se lyfie op die maat van musiek beweeg. Musiek, tesame met beweging, is belangrik vir die optimale ontwikkeling van kinders.
Wat is die waarde van musiek en beweging vir kinders?
- Verbeter gemoedstemming omdat kindermusiek vrolik is en beweging die toevoer van suurstof na die brein versnel. Slaaptydliedjies kalmeer babas en laat hul ontspan, sodat hulle lekker slaap.
- Bevorder geheue-ontwikkeling deurdat hulle die woorde, ritme, wysie en bewegings memoriseer.
- Verbeter aandagspan omdat die liedjie se woorde die volgende beweging aandui, en die deuntjie en ritme vinniger of stadiger beweging aandui.
- Bevorder sintuiglike ontwikkeling wanneer hulle na verskillende tipes musiek luister.
- Versterk hul aangebore aanvoeling vir ritme.
- Bevorder woordeskat, taalontwikkeling en algemene kennis. Liedjies en gepaardgaande bewegings help hulle om die betekenis van woorde te verstaan. Dink maar aan aksieliedjies soos op en af, klap jou hande, stamp jou voete, raak aan jou kop. Kinderliedjies handel gewoonlik oor iets (byvoorbeeld ’n spesifieke dier of objek), ’n aktiwiteit (byvoorbeeld pannekoek bak of treinry) of dit vertel ’n storie (byvoorbeeld Wouter Kabouter, Pinocchio, Die Dierekonsert of Lappop). Met elke liedjie leer sy nuwe woorde en die betekenis daarvan.
- Bevorder reseptiewe taalontwikkeling (woorde wat kinders verstaan maar nog nie kan uitspreek nie). Hulle kan byvoorbeeld ’n dier identifiseer deur die geluide wat die dier in die liedjie maak en die dier naboots, al kan hul nog nie die dier se naam uitspreek nie.
- Getalbegrip/telvermoë: Baie liedjies gaan oor syfers en tel, byvoorbeeld Vyf klein apies, Tien papajas of Agt muisies. Dit help kinders om te antisipeer watter getal volg – dit vorm die grondslag vir geletterdheid en getalbegrip.
- Fantasiespel en simboliese denke word aangemoedig deur die gebruik van objekte om iets voor te stel waaroor hulle sing, byvoorbeeld ’n stoel kan ’n trein voorstel.
- Sosiaal-emosionele vaardighede en selfbeeld: Musiek word dikwels in ’n groep geniet – kinders sing, dans en bespeel ’n instrument saam met maatjies. Hulle leer om te deel en om beurte te maak deur byvoorbeeld al om die beurt ’n instrument te bespeel of afwisselend ’n liedjie te sing. As ’n liedjie emosies beskryf, help dit hulle om die emosies te verstaan, veral as dit gepaard gaan met gesigsuitdrukkings en gebare. Deur net na instrumentale musiek te luister, leer hulle om tussen hartseer en vrolike klanke te onderskei. Introverte wat nooit alleen voor mense sal optree nie, se selfvertroue kry ’n hupstoot in groepsverband.
- Kulturele bewussyn en meertaligheid: Liedjies in kinders se huistaal en wat deel uitmaak van hul kultuur, verleen ’n gevoel van geborgenheid wanneer hulle by ’n speelgroepie of kleuterskool is. Hulle leer ook van ander kulture en tale wanneer hul liedjies in ander tale sing.
- Koördinasie en balans word bevorder omdat beweging op die maat van musiek hop, spring, galop en huppel, kruip en balanseer aanmoedig. Kinders gebruik hul liggaam as geheel en ledemate op ander maniere as die alledaagse.
- Bevorder groot- en kleinmotoriese ontwikkeling, afhangend van die tipe bewegings wat deur die liedjie aangemoedig word.
- Bevorder bilaterale koördinasie (gelyktydige gebruik van albei kante van haar lyf, soos marsjeer) en middellynkruising (gebruik van een kant van haar lyf in die ruimte van die ander deel van haar lyf deur byvoorbeeld met die regterhand aan die linkeroor te vat).
- Musiek en beweging is goed vir kinders se algehele welstand.
Wanneer begin ’n mens jou kinders aan musiek blootstel?
- Speel tydens jou swangerskap reeds musiek vir jou ongebore baba.
- Kinders is optimaal sensitief en vatbaar vir musiek en beweging tussen 0 en 7 jaar en hulle leer deur musiek en beweging.
- Begin so gou moontlik na jou baba se geboorte met ouderdomsgepaste musiekopvoeding.
Só doen jy dit:
- Ontwikkel en koester haar natuurlike musiekinstrument – haar stem. Maar vul dit gerus aan met gekoopte of selfgemaakte speelgoedinstrumente (trompet of drom), of ’n kombuisorkes (kastrolle en lepels). Met die instrumente leer hulle oor ritme, vinniger en stadiger, harder en sagter.
- Sing baie saam met en vir jou kind. Moedig danspassies en bewegings op die maat van die musiek aan.
- Moet nooit vir kinders lag nie, selfs al klink sing hulle ‘vals’.
- Tik ook die ritme van die deuntjie uit op enige manier, soos handeklap, of op jou kind se skouers, kop of rug. Hulle geniet die speelse aanraking.
- Speel CD’s met uiteenlopende tipes musiek – instrumentaal en vokaal.
- Kyk saam na ouderdom-toepaslike musiek DVD’s. Hulle sal spoedig saam sing en die bewegings van die karakters of kinders op die DVD naboots.
- Neem kinders na musiekuitvoerings.
Bronne:
Play and Playground Encyclopedia. https://www.pgpedia.com/t/temporal-awareness
Playgroup NSW. https://www.playgroupnsw.org.au/ParentResources/EarlyChildhoodDevelopment/importance-of-music-toddler-development
Under5s.co.nz. https://www.under5s.co.nz/shop/Hot+Topics+Articles/Toys+Books+Play/make+your+own+songs+and+music/9+ways+music+and+movement+helps+young+kids+learn.html
Zero to Three. https://www.zerotothree.org/resources/1514-beyond-twinkle-twinkle-using-music-with-infants-and-toddlers
Karyna le Roux Nuusbrief 4 April 2019. Kinderkinetikus (076 733 9349) karynakinetika@gmail.com