Deur Melodie Veldhuizen
Jy is dalk bewus van voortdurende aksies in jou buurt om misdaad te bekamp, proaktief en reaktief. Maar weet jy wie hierdie mense is en hoe hulle funksioneer? Dis waarskynlik vrywilligers van AfriForum se buurtwaggroepe. Jan Wessels, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, vertel meer oor buurtwagte se werksaamhede en hoe jy betrokke kan raak.
IS DAAR ‘n ONDERSKEID TUSSEN BUURTWAGTE, GEMEENSKAPSPOLISIËRINGSFORUMS (GPF) EN AFRIFORUMBUURTWAGTE?
Daar bestaan ooreenkomste en verskille betreffende regulerende wetgewing, bestaansrede, grondwet en gedragskode, entiteit, geskilbeslegting, gemeenskapsveiligheidsplanne, ondersteuning, rapporteringslyn en spesiale polisiëringsmagte. Vir die doel van hierdie artikel fokus ons op AfriForum- en ander buurtwagte.
WAT IS DIE DOEL VAN BUURTWAGTE?
– Om ons lede weerbaar te maak sodat hulle self die veiligheidsbedreigings, wat uniek is aan elke buurtwag, paraat kan hanteer.
– Hulle moet hulself dus organiseer om selfstandig hulle beveiligingstake, saam met statutêre (SAPD en die Metropolisie) en niestatutêre (sekuriteitsmaatskappye) veiligheidsorganisasies te kan behartig.
Ons strewe daarna om ʼn veilige tuisomgewing te skep deur die destabiliseerders (soos kriminele en oproermakers) hul handelingsvryheid en vryheid van beweging te ontneem en om deur teenoptredes binne die wet, hulle toegang tot ons veilige gebiede te ontsê. Hierin staan die Afdeling Gemeenskapsveiligheid by AfriForum hulle by deur rigtinggewend, adviserend en ondersteunend te wees.
HOE WORD HUL TAAK UITGEVOER?
Die taak van buurtwagte word volgens ons doelwit (gemeenskapsbeveiliging) uitgevoer en kan soos volg opgesom word:
– Benutting van alle beskikbare plaaslike en toepaslike eksterne hulpbronne (mense en dinge) om die beskermingsnetwerk in die buurtwag te verdiep en om gemeenskapsweerbaarheid met ʼn hoë moreel daar te stel.
– Optredes deur die buurtwag is meestal proaktief en defensief van aard maar kan ook reaktief wees, indien dit nodig is. Ons lei daarom protospanne op wat binne die wet en saam met ander veiligheidsentiteite as direkte bystand kan optree in veiligheidsbedreigende situasies.
– Ons lê klem op huis-en-haard-beskerming, wat die beskerming van stedelike (dorpe) en plattelandse areas (plase) insluit.
– Die bestuur van inligting is die primêre dryfkrag agter enigeen van die buurtwag se optredes.
– Ons verseker struktuur aan die buurtwag deur behoorlike beheermeganismes daar te stel wat aanspreeklikheid en verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap behels. Daar moet leierskap, ʼn inligtingsverwerkingsvermoë en ʼn operasionele span wees wat opleiding ook kan behartig, en verder ook ʼn steunspan wat alle beplande wettige optredes ondersteun wat saam met ander veiligheidsrolspelers uitgevoer moet word.
– Die toepaslike benutting van tegnologie as magsvermenigvuldiger moet deurlopend ingespan word. Hier word daar veral klem gelê op hommeltuie en radio’s wat uitvoering van aksies vergemaklik en sukses verseker.
– Groot klem word gelê op die ontwerp, ontwikkeling en aanbieding van opleiding wat pasgemaak moet wees. In dié verband het ons ʼn 18-module-leerplan wat aanlyn aangebied word. Ons bied ook kursusse aan vir inligtings-, operasionele en steunspanlede. Protospanne is ʼn fokuspunt en leierskapskursusse word ook aangebied.
– Kundige mannekrag vanuit voltydse en deeltydse personeel wat met oorleg aangewend word, is daarop gemik om kombersdekking te verkry en ʼn gewaarborgde netwerk daar te stel.
– Alle gemeenskapsveiligheidsoperasies is ingestel op die nastrewing van professionele en wettige optredes, binne die bestek van bepaalde gemeenskapspolisiëring-wetgewing, veiligheidsdoktrine en duidelik uiteengesette gedragskodes.
– Gebeurlikheidsplanne word beklemtoon en gemeenskappe word gereeld in dié verband gekontroleer. Hierdie gebeurlikheidsplanne behels vinnige taktiese optrede om ʼn spesifieke en unieke bedreiging binne gemeenskappe aan te spreek.
– Die uitvoering van gebeurlikheidsplanne en ander planne is afhanklik van die bestaan, raadpleging en aanwending van plaaslike vermoëns en hulpbronne wat gekoördineerd gefokus moet word op optredes wat die gemeenskap weerbaar en selfstandig sal maak.
WAT DOEN BUURTWAGTE?
Die buurtwagte staan in die volksmond bekend as die oë en ore van die polisie en die gemeenskap. Hulle voer hulle gemeenskapsbeveiligingstake uit deur proaktiewe optrede (omtrent 80% van die poging) en reaktiewe optrede te beplan en uit te voer. Hulle doen die volgende:
– Patrolleer, te voet en met voertuie.
– Beman observasieposte wat sigbaar of verskuil kan wees.
– Verleen bystand met bewegingsbeheer soos padblokkades en voertuig- en voetgangerbeheerpunte.
– Hanteer tonele as eerste reaksie om te verseker dat ondersoeke deur die SAPD nie belemmer word nie.
– Beskerm geïdentifiseerde kwesbare plekke wat noodsaaklik is vir die voortbestaan en die normale funksionering van gemeenskappe.
Verleen bystand met kordonne en soektogte.
– Verleen deurlopende bystand aan die SAPD soos versoek en opgedra.
– Voer veiligheidsoudits uit by kritieke installasies (infrastruktuur soos water- en kragvoorsiening, rioolplase en stortingsterreine) in die gemeenskap.
– Verleen bystand aan slagoffers van traumatiese gebeure.
– Het leierskapstrukture wat bystand kan verleen met onluste, rampe en ander uitdagings wat die gemeenskap kan beleef.
– Reageer op insidente om opvolg deur die SAPD moontlik te maak.
– Wend tegnologie soos hommeltuie aan om potensiële gevaarsituasies te monitor en om opvolgoptrede moontlik te maak.
– Bied opleiding aan lede van die buurtwag m.b.t. die volgende onderwerpe: buurtwagadministrasie, basiese radiokommunikasie, leierskap, eiendomsbeskerming, gebiedsbeveiliging, huis-en-haardbeskerming, inligtingsinsameling, makkerhulp, patrollies, regsaspekte vir patrolleerders, slagofferondersteuning, teen-kaping, toneelhantering en vuurwapenwetgewing.
– Doen inligtingsinsameling vir verwerking, vertolking en verspreiding.
– Laat die gemeenskap veilig voel in hul omgewing.
WAT IS DIE PROSEDURE OM ʼn NUWE TAK TE STIG?
– Om ʼn tak te stig, het jy 100 lede nodig in ʼn distrik. AfriForum sal dan die proses verder fasiliteer.
– Om die bestuur te vestig, het jy ʼn voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en penningmeester en buurtwagleier nodig.
– Die tak word tydens ʼn gemeenskapvergadering gestig en die verkose ampsdraers word in hulle ampte bevestig.
– Uit die 100 lede word die buurtwagte saamgestel uit belangstellendes wat graag so wil dien. Sodanige lede moet dan ook ʼn gedragskode onderteken. Gewoonlik word die buurtwag by dieselfde geleentheid gestig. Die buurtwag skakel deurlopend met die takbestuur vir leiding en die bevrediging van ander behoeftes van die gemeenskap.
– Die buurtwag bestaan uit ʼn buurtwagleier, ʼn inligtingspan, ʼn operasionele span (die protospan ingesluit) en ʼn steunspan.
HOE KAN BELANGSTELLENDES BY ʼn BESTAANDE TAK AANSLUIT?
– Enige voornemende lid kan sy plaaslike tak kontak met die oog op aansluiting.
– AfriForum Hoofkantoor sal graag die inligting vir aansluiting verskaf. Landlynnommer: 086 10 200 30 of SMS 32077 (R1,00 per SMS).
– Belangstellendes kan ook op die webtuiste die inligting vir aansluiting bekom. www.afriforum.co.za. Klik op buurtwag.
WIE KAN AANSLUIT?
– Enige lid van die gemeenskap tussen die ouderdomme van 18 en 80 plus.
– Enige persoon wat die veiligheid van die gemeenskap op die hart dra. Daar is geen buurtbeperking nie. Dis egter geriefliker om aan te sluit by ʼn buurtwag wat naby jou woonplek is.
– Enige persoon wat hom- of haarself met die visie, missie, doelstelling en doelwitte van AfriForum vereenselwig.
– Enige persoon wat bereid is om opgelei te word en die gemeenskap deur effektiewe veiligheidsoptredes te wil dien.
WAT BEHELS DIE OPLEIDING?
– Vlak1: Aanlyn opleiding op Donderdae volgens die 18-module- gemeenskapsveiligheidsleerplan
– Vlak 2: Opleiding as inligtingspanlid, operasionele spanlid en steunspanlid. Die buurtwaglid kan self ʼn keuse uitoefen.
– Vlak 3: Opleiding as protospanlid (moet gekeur word), buurtwagleier en as opleier
– Geakkrediteerde SAKO-opleiding as algemene sekuriteitspraktisyn (SAKO no. 58577) en spesialissekuriteitspraktisyn (SAKO no. 57713). Verder bied Forum Sekuriteit ook kursusse aan as privaatveiligheidbedryfsreguleerder(PSIRA), hommeltuigvlieënier en brandbestryder, noodhulpbeampte. Ons bied eersdaags ʼn kursus aan vir kommersiële hommeltuigvlieëniers en vir 2022 beplan ons ʼn kursus as nabybeskermingsbeampte.
HOE WORD BUURTWAGTE ONDERSTEUN?
AfriForumbuurtwagte word ondersteun deur die aankoop van die volgende noodsaaklike artikels vir die uitvoering van hulle taak:
– Glimbaadjies
– Buurtwaguniformstukke kan aangekoop word by goedgekeurde verskaffers.
– ʼn Lyfpantser
– Flitse vir die uitvoering van take in die nag
– Naamkaartjies vir identifikasie
– Magnete en patrollieligte vir voertuigidentifikasie
– Pepersproei vir selfverdedigingsdoeleindes
– Noodhulpsakke
– Handradiostelle vir kommunikasie
– Kegels vir bewegingsbeheer
– Buurtwagbesoekstrokies
IS DAAR ʼn OORKOEPELENDE GESAGSTRUKTUUR WAT SAMEWERKING TUSSEN VERSKILLENDE TAKKE KOÖRDINEER?
– Die oorkoepelende struktuur wat samewerking tussen takke koördineer, is gesetel by die AfriForumhoofkantoor onder die Afdeling Gemeenskapstrukture.
– Die oorkoepelende struktuur wat samewerking tussen buurtwagte koördineer, is gesetel by die AfriForumhHoofkantoor onder die Afdeling Gemeenskapsveiligheid.
– Die twee strukture by Hoofkantoor word binnekort geïntegreer en sal dan as die Afdeling Gemeenskapselfstandigheid bekend staan.
ALGEMEEN
– Daar is tans sowat 160 buurtwagte landwyd wat aktief deelneem aan gemeenskapsveiligheid.
– ʼn Buurtwag bestaan uit minstens 30 lede.
– Die Gemeenskapsveiligheidsfdeling bestaan uit die volgende: ʼn regs-, risiko- en lugsteunopleidingsafdeling in drie streke (Noord-, Sentraal- en Suidstreek) en ʼn steun-, telekommunikasie-, beheerkamer- en traumaberadingsafdeling, gesetel by Hoofkantoor.
Indien jy AfriForum Gemeenskapsveiligheid se missie en visie deel en ondersteun, oorweeg dit ermstig om betrokke te raak.
Bron
Jan Wessels, Hoof: Gemeenskapsveiligheid, AfriForum. jan.wessels@afriforum.co.za
Oops! We could not locate your form.