Deur Marli Naidoo
Doelwitstelling en die opstel van ʼn aksieplan wat daarmee gepaard gaan, is ʼn waardevolle vaardigheid wat ons van jongs af kan aanleer. ʼn Lekker familietradisie kan ontstaan wanneer ʼn gesin jaarliks hulle persoonlike en gesamentlike doelwitte op papier uitlê.
Die sleutel tot jou kinders se samewerking lê in pret. Kry kleurpotlode, ʼn skêr en gom, en kry die gesin bymekaar. Besluit saam wat julle graag daardie jaar wil bereik. Die kleiner kinders kan prentjies teken om voor te stel wat hulle graag wil doen. Wil julle voor die einde van die jaar gaan kamp, laat die jongste ʼn prent van ʼn tent teken. Aan die einde van die jaar kan julle deur die doelwitte gaan, en sien wat julle bereik het.
Elke persoon kan ʼn visie-bord skep. Laat jou kinders deur ou tydskrifte blaai, en prente identifiseer wat hulle drome en ideale verteenwoordig. Knip hierdie prente uit en plak dit op karton. Versier dit met plakkers en mooi kleure. Bespreek elke lid van die gesin se visie-bord, en help mekaar om te identifiseer hoe om by elke ideaal uit te kom. Besluit hierna wat die eerste stap gaan wees. Vir jou kleiner kinders kan dit so eenvoudig wees soos om ʼn koek alleen te bak sonder Ma of Pa se hulp.
Julle kan maandeliks saam sit en gesels oor almal se vordering. Moenie druk op mekaar plaas nie, maar moedig mekaar aan. Soms sal van die doelwitte aangepas moet word wanneer ʼn individu sien dat dit nie sin maak nie.
Doelwitte moet realisties en bereikbaar wees, maar terselfdertyd groot en uitdagend. ʼn Effektiewe doel is spesifiek, meetbaar, bereikbaar, relevant en tydgebonde.
Doelwitte wat grootliks van geluk afhang (soos om ‘n kompetisie te wen) klink ambisieus, maar kan op die lang termyn frustrerend en teenproduktief wees. Kies doelwitte wat deur volgehoue en konstante werk bereik word.
Kinders het soms so ʼn bietjie ekstra aanmoediging in die vorm van ʼn beloning nodig. Besluit saam oor wat ʼn goeie beloning sal wees.
Doelwitte gee ons ʼn gevoel van rigting en prestasie, en laat ons lewens vorentoe beweeg. Hou net voor oë dat die doel is om te groei, en nie perfeksie nie.
Bronne:
Big Life Journal: https://biglifejournal.com/blogs/blog/5-fun-goal-setting-activities-children
Habio: https://habio.app/blog/goal-setting-for-kids
Education Week: https://www.edweek.org/teaching-learning/opinion-10-tips-for-setting-successful-goals-with-students/2015/01
Oops! We could not locate your form.