Deur Anja van den Berg
Die Covid-19-pandemie noodsaak ʼn nuwe wêreld van werk aangesien die meeste van ons van die huis af werk. In talle huishoudings is huishoudelike eensgesindheid onderstebo gekeer, en paartjies moet nou onbekende – en gevaarlike terrein trotseer.
Die stres wat die koronaviruspandemie meegebring het, het in talle huishoudings ʼn plofbare situasie geskep, sê prof. Mara Olekalns, ʼn kenner op die gebied van onderhandelinge en veerkragtigheid in verhoudings. Olekalns voeg by dat die spanning wat dit meebring, selfs die sterkste vennootskappe skade berokken het en selfs sommige huwelike op die rotse laat beland het.
“Om ʼn balans te vind tussen die eise om van die huis af te werk en bykomende huishoudelike verantwoordelikhede soos kosmaak, huisskoonmaak, versorging van kinders en tuisonderrig, vererger die spanning waaraan egpare onderwerp word,” sê Olekalns verder. “Egpare wat tydens die pandemie van die huis af werk, kom voor die uitdaging te staan dat hulle hul werk en huishoudelike verantwoordelikhede so moet balanseer dat dit vir albei partye billik is.”
Egpare wat hul weg deur hierdie vreemde nuwe wêreld moet vind, moet oor die werkverdeling onderhandel en ook hoe hulle die grense tussen werk- en huisverpligtinge moet bestuur. Hier volg ʼn paar wenke oor hoe om dit te doen.
Moenie vermy om die kwessies wat ontstaan, te bespreek nie. Dinge is nou anders, of ons nou daarvan hou of nie. Hanteer klein frustrasies en ergernisse gou en maak ʼn plan daarmee.
Probleme wat geïgnoreer word, word groter, en emosies wat onderdruk word, word sterker. Egpare wat egter terugslae, groot en klein, beskou as geleenthede om verandering teweeg te bring, is gelukkiger en gesonder. Egpare wat botsings omskep in geleenthede om mekaar se behoeftes beter te verstaan, bou ook sterker verhoudings.
Om altyd inskiklik teenoor jou maat te wees, kan die vrede bewaar – ten minste vir ʼn rukkie. Jy is dalk die een wat altyd die vullis uitneem, die skottelgoedwasser uitpak of met die hond gaan stap. Jou maat verwag dus outomaties van jou om steeds al daardie takies op jou doenlysie te verrig terwyl hy of sy geen bydrae tot die daaglikse bestuur van die huishouding lewer nie. Om altyd toegeeflik teenoor jou maat se verwagtings te wees, kan oor die kort termyn effektief wees, maar dit kan ook ʼn gevoel van wrewel laat opbou. Uiteindelik sal jou werksprestasie, huweliksverhouding en geestesgesondheid daaronder ly. In plaas daarvan om altyd inskiklik te wees, bestee tyd daaraan om te verduidelik wat vir jou belangrik is en nooi jou maat om deel te wees van die proses om met ʼn billike oplossing vorendag te kom.
Om mekaar te blameer, sal net gevoelens van frustrasie aanvuur. Deur te stry oor wie die meeste huishoudelike take verrig het of die meeste na die kinders omgesien het of die meeste (ononderbroke) tyd aan werk kon bestee, los niks op nie. In plaas daarvan beveel Olekalns aan dat paartjies relasionele denke en probleemoplossing – eerder as om mekaar te blameer – sentraal stel wanneer hulle sake bespreek. Hoewel jy emosionele verligting kan ervaar wanner jy aan die versoeking toegee om jou maat se aandag op sy of haar selfsugtige gedrag te vestig, is dit meer effektief om eerder jou behoeftes uit te spel, sê Olekalns.
Gee erkenning aan die angsbelaaide konteks waarmee ons tans te kampe het en plaas jouself in jou maat se skoene. Skuif jou frustrasie eenkant toe en soek na moontlike positiewe verduidelikings vir jou maat se oënskynlik selfgesentreerde optrede. Deur hierdie nuwe en vreemde gedierte saam aan te pak, kan julle jul verbintenis tot jul verhouding hernu. Dink aan konflik as ʼn taak wat probleemoplossing verg – ʼn taak wat julle saam kan aanpak en oorwin.
Wanneer julle op ʼn oplossing besluit het, wees egter versigtig om nie te verklaar “die probleem is opgelos” nie. Die implementering van ʼn ooreenkoms lê altyd hindernisse bloot. Gaan gereeld terug na die plan wat julle opgestel het en maak seker dat dit steeds vir albei voordelig is. Daarbenewens moet julle besef dat behoeftes verander wanneer eksterne omstandighede verander. Wees bereid om te improviseer en innoverend te wees.
Bronne:
Harvard Business Review: https://hbr.org/2020/12/how-couples-can-find-balance-while-working-from-home
Foto krediet: Crew | Unsplash
Oops! We could not locate your form.