Deur Melodie Veldhuizen
Facebook is ʼn aanlynplatform waar vriende, families, kollegas en ander persone virtueel byeenkom om sake te bespreek, gedagtes uit te ruil, te kommunikeer en te onderrig. Hier kan jy vriende en volgers hê, maar min mense weet wat die verskil is. Om ʼn vriend van iemand op facebook te word, moet een persoon ʼn ander een as vriend nooi/ʼn vriendskapsversoek rig. Eers wanneer die uitnodiging aanvaar word, is julle vriende op facebook en kan julle met mekaar kommunikeer, van mekaar se status hou en op mekaar se profiele kommentaar lewer.
Indien ʼn vriendskapsversoek nie aanvaar word nie, word die persoon wat die versoek gerig het outomaties ʼn volger. Mits die persoon wat gevolg word se verstellings op ‘Publiek’ gestel is (met ander woorde dat almal dit kan sien), sal die volger al sy/haar status opdaterings kan lees. Afhangend van die persoon se privaatheidsverstellings, sal die volger moontlik kan hou van die plasing, maar sal nie daarop kommentaar kan lewer nie. Indien die facebook-gebruiker sy/haar plasings en status-sigbaarheid so gestel het dat slegs vriende dit kan sien, sal die plasings nie sigbaar wees vir sy/haar volgers nie. Openbare figure (bekende persoonlikhede) laat gewoonlik volgers toe, maar sal nie sommer vriendskapsversoeke van enigeen aanvaar nie. Hul plasings is dikwels ook ‘Publiek’ sodat hulle bewonderaars alles kan lees wat hulle plaas maar nie noodwendig kommentaar kan lewer nie.
Wanneer ʼn vriendskapsversoek aanvaar word, sal die persoon wat die versoek gerig het ʼn vriend en ʼn volger word. Albei die facebook-gebruikers (wat nou vriende is) sal mekaar se plasings kan lees, deel, daarop kommentaar kan lewer, daarvan kan hou (of nie), of met mekaar gesels.
Facebook bied ook die opsie waar vriende mekaar kan ontvolg, maar nie ontvriend nie. As vriend, maar sonder om ʼn volger te wees, sal jy nie die persoon se statusopdatering op jou tuisblad kan sien nie. Jy sal slegs sy/haar plasings kan sien indien jy op sy/haar profiel gaan kyk. Deur vriende te ontvolg, voorkom jy dat die persoon plasings op jou facebook-blad maak wat irriterend of aanstootlik is.
As ʼn facebook-gebruiker kan jy ook die keuse uitoefen om ʼn ander gebruiker net te volg sonder om die persoon as vriend by te voeg. Jy kan dit doen deur op die ‘Volg’ -skakel in plaas van op die ‘Voeg ʼn vriend by’-skakel te klik. Jy sal dan ʼn volger wees en sal op jou tuisblad sy/haar status-opdaterings en plasings kan sien mits jou verstellings vir hierdie plasing ‘Publiek’ is. Andersins sal jy niks van sy/haar plasings kan sien nie.
Wat facebook-blaaie betref, word jy outomaties ʼn volger sodra jy van die spesifieke blad hou. Om ʼn blad te verlaat, klik net op ‘Ontvolg’ en jy sal nie weer plasings en opdatering van daardie blad op jou tuisblad sien nie.
Dit klink dalk baie gekompliseerd, maar dis hoe facebook werk. Jy kan kies om ʼn vriend van ʼn ander facebook-gebruiker te word sonder om hom/ haar te volg. En jy kan kies om ʼn ander gebruiker te volg sonder om hom/haar as vriend by te voeg. Facebook maak dit maklik vir jou. Jy sal beide die ‘Volg’- en ‘Voeg ʼn vriend by’-skakels onder elke gebruiker se profiel kry, afhangend van sy/haar privaatheidsverstellings.
Wil jy ʼn vriend of ʼn volger wees? Wil jy gevolg word of nie? Die keuse is joune!
Bron:
https://techinabc.com/2020/07/02/what-are-differences-between-friends-followers-facebook/
Oops! We could not locate your form.