Deur Anja van den Berg
Miskien is dit nie nou die beste tyd om te reis nie. Hutkoors bereik egter nou sy hoogtepunt nadat Suid-Afrikaners al maande lank ingehok is. En, sê Johanna Read, wanderlust en gesinsverpligtinge kan ernstige versoekings wees.
Read spesialiseer in verantwoordelike toerisme en het gewerk aan kwessies van pandemiese griep tot vlugtelingbepaling.
As jy eenvoudig moet uitkom vir ʼn vakansie is daar maniere om jou risiko te verklein terwyl jy met verlof is. Of jy nou per motor of vliegtuig reis, help Read jou verstaan hoe jy jouself kan beskerm:
Die veiligste reis is waar jy ander mense soveel moontlik vermy. Ry reguit na jou bestemming met so min stilhou as moontlik en vermy openbare vervoer. Doen jou inkopies tuis voor jou reis en pak jou middagete en versnaperinge in.
As jy moet vlieg, doen dit op ʼn veilige manier. Kies ʼn venstersitplek so ver van die toilet as moontlik, sê dr. Farley Cleghorn, hoof van globale gesondheidspraktyk by Palladium, ʼn internasionale impakkonsultfirma.
Cleghorn raai mense aan om die oorhoofse lugopening oop te hou en op die gesig gerig. Hy verduidelik dat ononderbroke lugvloei ʼn klein onsigbare “muurtjie” vorm wat die uitgeasemde lug van ander passasiers beperk (minstens ʼn bietjie}.
Ontsmet jou hande nadat jy gaan sit het en vee elke oppervlak waaraan jy raak met ʼn ontsmetmiddel af.
Dit maak nie saak of dit ʼn hotel of ʼn gastehuis is nie, sê mediese dokter Abe Malkin. Dit is belangriker dat die eiendom ʼn goeie rekord moet hê en die aanbevole riglyne moet volg. ʼn Geïsoleerde kothuis of villa is verkieslik en toegang tot jou eie kombuis en wasgoedfasiliteite gee jou meer beheer oor sindelikheid.
Baie hotelle en losieshuise het protokols om seker te maak dat hulle nie gaste aan die risiko van die koronavirus blootstel nie. Dit is belangrik om seker te maak dat die fasiliteit waar jy wil oorbly aan die goewermentsregulasies voldoen. Die meeste blyplekke het ekstra voorsorgmaatreëls en skoonmaakdienste ingestel.
Soek werkgewers uit wat hul werknemers voorsien van pandemieondersteuning soos opleiding, PBT, siekteverlof en billike betaling, wat ʼn veiliger omgewing vir almal beteken. Kyk na webwerwe vir besonderhede of vra hulle direk.
As dit by uiteet kom, geld die volgende belangrike risikofaktore: omgewing (buitekant of binne), die grootte van en lugvloei deur die ruimte, die aantal mense wat die venue deel, en die tyd wat jy in die restourant deurbring.
Eet op ʼn patio waar jy minstens twee meter weg van ander eters af is en waar almal (personeel en kliënte) gesigsmaskers dra, behalwe as hulle eet of drink. Vermy spitstye om blootstelling aan ander mense te beperk, en moenie draal nie.
Hou jou kelner dop: dis maklik om kieme te versprei as hulle gebruikte skottelgoed van die tafel langs joune verwyder en dan jou kos bring sonder om hande te was.
Jy hoef nie handskoene te dra nie omdat jy aan die virus blootgestel kan word as jy aan ʼn gekontamineerde oppervlak raak, of jy nou handskoene dra of nie.
Wat mens moet doen, is om dikwels jou hande was en te ontsmet. Van al die voorsorgmaatreëls wat jy kan tref, is die handhawing van sosiale afstand die belangrikste om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan. As jy toeristeattraksies besoek, kies plekke waar jy die tonele vanuit jou kar kan beskou.
Bronne
National Geographic: https://www.nationalgeographic.com/travel/2020/07/if-you-must-travel-now-how-to-stay-safe-coronavirus/
East Coast Radio: https://www.ecr.co.za/lifestyle/family/going-vacation-during-pandemic/
Oops! We could not locate your form.