Deur Marli Naidoo
Die Covid-19-inperking, asook die algemene finansiële toestand van Suid-Afrika, het baie mense onder hewige finansiële druk geplaas. ʼn Oplossing wat groei in gewildheid is vir gesinne om wonings te deel. Talle gesinne trek byvoorbeeld by grootouers in en verlig sodoende die druk op almal se begrotings.
Om by familie te woon, kan egter ondraaglik wees as dit nie reg gedoen word nie.
Langtermynbeplanning is noodsaaklik. Besluit voor die tyd wanneer julle weer julle eie potjie wil krap. Wees realisties, en gee alle partye genoeg tyd om weer op hulle voete te kom.
Maak seker dat jy en jou eggenoot albei kans sien vir die uitdaging. Indien een van julle voel hy of sy word in die idee ingeboelie, sal dit net ʼn wig tussen julle indryf en wrewel veroorsaak. Dit gaan spanwerk kos om dit te maak werk.
Voor die groot trek moet alles tot in die kleinste besonderheid bepreek word. Wie betaal wat, eet almal saam of apart, wie sal die kos koop, wie was die skottelgoed? Elke persoon moet sy kant bring. Wie is verantwoordelik vir wat en wie sal die finale besluit neem wat ʼn spesifieke area betref?
Huisreëls kan hierdie tyd saam maak of breek. Respekteer mekaar se grense en voorkeure. Leer jou kinders om toestemming te vra voordat hulle die ander familielede se ruimte betree. Praat oor kuiergaste, skoene in die huis, tye wat almal stil moet wees. Maak seker dat almal se privaatheid gerespekteer word.
Moenie bang wees om oop en eerlik te kommunikeer nie. Wanneer daar ʼn vraag of bekommernis ontstaan, moenie dit onder die mat vee of vir later los nie. Maak dadelik werk daarvan. Dit is egter nie nodig om ʼn berg van elke molshoop te maak nie. Vra jouself eers af of dit werklik saak maak en as dit wel belangrik is, bespreek dit rustig en met respek. Moet ook nie liggeraak wees en op jou perdjie spring wanneer iemand nie met jou saamstem nie. Wees vergewensgesind, nederig en vriendelik in alle kommunikasie.
Verhoudings kom eerste. Moenie aandring op jou manier van dinge doen ten koste van ander nie. Gebruik hierdie tyd om verhoudings te bou en nader aan mekaar te kom.
Wees verantwoordelik met jou geld. Dit is nou die tyd om soveel moontlik te bespaar en te beplan vir julle toekoms.
Wees dankbaar en maak seker dat jy jou dank betuig aan almal in die huis. Doen iets spesiaal om jou waardering tasbaar te maak. Bak jou skoonma se gunstelingkoekies vir haar.
Moenie sommer net dinge aanvaar nie. Julle kan nie julle kinders sommer by Ouma en Oupa los wanneer julle ook al lus kry en aanneem dat dit hulle sal pas net omdat hulle nie ander planne gehad het nie. Moet nooit hulle goedheid misbruik nie.
Almal het alleentyd nodig, selfs die kinders. Julle hoef nie verplig te voel om alles saam te doen nie. Moet ook nie julle huwelik verwaarloos nie.
Stel ʼn roetine vas wat almal pas. Plak hierdie roetine saam met gesamentlike beplanners op die yskas of êrens in julle gedeelde ruimte.
Respekteer mekaar te alle tye en besluit om positief en liefdevol te wees. Moet mekaar ook nie bespreek en beskinder nie aangesien dit die atmosfeer sal versuur.
Om ʼn huis met familie te deel, is nie maklik nie en vol uitdagings. Dit is egter heeltemal doenbaar en met die nodige samewerking en ʼn goeie sin vir humor kan dit tot almal se voordeel strek.
Bronne
Six Figures Under: https://www.sixfiguresunder.com/tips-for-living-with-family-to-save-money/
Money Crashers: https://www.moneycrashers.com/tips-multigenerational-families-living-parents-kids/
Thrive Global: https://thriveglobal.com/stories/the-stressless-guide-to-living-with-your-in-laws/
Foto krediet: Michal Balog | Unsplash
Oops! We could not locate your form.