Deur Wilma Bedford
Die Covid-19-inperking het gesinsgeweld en geweld teen vroue in die kollig geplaas; een uit elke ses vroue ervaar geweld. Geweld is enige afbrekende gedrag wat die regte van enige burger om vry te wees aan bande lê en wat leed veroorsaak ten opsigte van die gesondheid en welstand van ander. Hoewel die fokus op vroue en kinders is, is bejaardes en sibbe ook gereelde weerlose slagoffers, maar ʼn miskende groep slagoffers is mans. Hulle kry min ondersteuning want hulle is skaam om hulp te soek oor die moontlike swakkeling-stigma wat gaan kleef, en daar is min toevlugsoorde vir hulle.
Die kern van enige geweld lê daarin dat die geweldenaar mag oor ander wil bekom en behou. Voeg daarby geslags- en inkomsteongelykheid en dit skep die potensiaal vir geweld. Geweld kan verskei vorme aanneem: fisiese geweld, seksuele geweld, verbale sielkundige aftakeling soos uitskellery, dreigemente, jaloesie, intimidasie deur byvoorbeeld agtervolging, ekonomiese geweld soos waar ʼn slagoffer nie toegang tot finansies het om aan noodsaaklike behoeftes te voldoen nie, en opsetlike skadeberokkening aan of vernietiging van eiendom. Enige vorm van geweld laat letsels en ontneem ʼn persoon van sy of haar menswaardigheid.
Miskien ken jy iemand wat ʼn slagoffer is; wat sê en doen mens om te help of laat jy die geleentheid verbygaan om ʼn lewe te red?
Ken die tekens van geweld. Fisiese geweld sal manifesteer in beserings aan die liggaam terwyl emosionele geweld gekenmerk word deur tekens van angstigheid, vrees, ʼn lae selfbeeld, ʼn apologetiese houding, dwelm-, drank- of medikasiemisbruik en om telkens van selfdood te praat. ʼn Gedragsverandering soos uiterse teruggetrokkenheid, oormatige beskerming van die persoon se private lewe en isolasie of weerhouding van kontak met vriende en familie is ook ʼn aanduiding van geweld teen die slagoffer.
Hoe help mens?
Slagoffers leef in vrees en eensaamheid en om te luister en uit te reik is vir hulle vertroostend en herstel hul menswaardigheid.
Reik uit in ʼn tyd van kalmte; moenie betrokke raak wanneer humeure opvlam nie, dit kan gevaarlik wees vir jou en die slagoffer. Stel genoeg tyd beskikbaar waarin die slagoffer veilig kan praat en die waarheid kan openbaar.
Begin die gesprek deur te sê dat jy werklik bekommerd is oor die persoon se veiligheid en dat jy ʼn verandering in die persoon sien. Verseker die persoon die gesprek is vertroulik.
Luister sonder om te oordeel; die slagoffer soek ʼn klankbord. Indien die slagoffer nie ʼn oplossing het nie, lei hom/haar om self moontlikhede voor te stel. Na gelang van die erns van die geweld kan jy spesifieke ondersteuning aanbied, soos om na ʼn plek van veiligheid te gaan, sosiale dienste en beraders te betrek, ʼn beskermingsbevel te verkry, of regsadvies in te win.
Glo die slagoffer want die slagoffer is die enigste persoon wat die ware donker kant van die geweldenaar ken; vir die buitestaander is dit ondenkbaar dat X ʼn geweldenaar is. Sê aan die slagoffer dat jy hom/haar glo, dat hy/sy dit nie verdien nie, en dit nie sy/haar skuld is nie.
Onderskryf die slagoffer se gevoelens. Die slagoffer kan botsende emosies soos skuld en woede, hoop en wanhoop, liefde en vrees ervaar, maar onderskryf dat geweld onaanvaarbaar is.
Korttermyn hulpverlening kan wees om die stilte te verbreek deur met familie, ʼn maatskaplike werker of die departement menslikehulpbronne by die werk te praat; kontak te maak met ʼn organisasie wat hulp sal verleen; uit die toksiese omgewing na ʼn veiligheidshuis te trek; om so gou moontlik permanent te verhuis.
Die langtermyn oplossing is om ʼn klag van aanranding by die polisie te lê, ʼn saaknommer te bekom en ʼn beskermingsbevel by die naaste magistraatskantoor te verkry. As jy ʼn slagoffer is, is jy geregtig op ʼn beskermingsbevel; onder die Grondwet het jy die reg om vry en veilig te leef. Die Wet op Gesinsgeweld Nr 116 van 1998 gee ʼn duidelike uiteensetting van hoe om ʼn beskermingsbevel te bekom en wat die gevolge is vir nienakoming daarvan.
Verbreek die stilte en stop die pandemie van geweld.
Bronne:
Wet op Gesinsgeweld No 116 van 1998. http://www.justice.gov.za
Beëindig Gesinsgeweld. http://www.justice.gov.za
Oops! We could not locate your form.