Deur Melodie Veldhuizen
Wat is ouditiewe prosesseringsdisfunksie (OPD)?
Dis ’n probleem wat ontstaan wanneer die gehoor en die brein nie in pas is met mekaar nie. Normale ouditiewe prosessering vind plaas wanneer die brein ouditiewe insette ontvang en die inligting teen ʼn aanvaarbare spoed tot ʼn sinvolle boodskap verwerk. OPD kan op enige stadium van die proses beperkings veroorsaak, wat in die volgende kategorieë ingedeel kan word:
- ouditiewe onderskeiding: om kennis te neem van en te kan onderskei tussen soortgelyke, maar unieke klanke;
- ouditiewe geheue: om te onthou wat hy gehoor het;
- ouditiewe opeenvolging: om woorde en opdragte in die regte volgorde te kan onthou;
- ouditiewe agtergrondonderskeiding: om ʼn enkele woord of sin te midde van geraas (soos agtergrondgeluide) te kan onderskei en te kan prosesseer;
- ouditiewe verband-prosessering kom voor wanneer hoëvlak luistervaardighede vereis word (byvoorbeeld wanneer gevolgtrekkings tydens ʼn gesprek gemaak moet word, wanneer stemtoon of -buiging nie herken kan word nie, of wanneer raaisels nie verstaan kan word nie).
Algemene tekens en uitdagings wat met ouditiewe prosesseringsdisfunksie verband hou
Die tekens van OPD behels dikwels die volgende uitdagings, op ʼn daaglikse grondslag:
- Sukkel om mondelinge opdragte te volg, veral as dit meer as een opdrag tegelyk is, byvoorbeeld “Gaan bêre die boek op die rak en bring vir my Boetie se kouse uit die laai (wat die indruk van ongehoorsaamheid skep).
- ʼn Uitdrukkinglose gesig wat die indruk skep dat die kind nie met aandag luister nie.
- Sukkel om gesprekke tussen verskeie persone, of waar daar agtergrondgeluide is, te volg.
- Sukkel om tussen woorde wat byna dieselfde klink te kan onderskei (byvoorbeeld ‘water ‘ en ‘later’ of ‘boek’ en ‘koek’).
- Sukkel om opeenvolgende instruksies in die regte volgorde uit te voer.
- ʼn Opmerksame stadige reaksie wanneer vrae tydens ʼn gesprek gestel word.
OPD kan die volgende uitdagings tot gevolg hê:
- Gedragsprobleme: Die kind voel skaam of gefrustreerd en reageer deur verdedigend te wees of voor te gee dat sy nie belangstel in dit wat gesê word nie.
- Toon swak sosiale vaardighede: Omdat hulle in luidrugtige omgewings, soos in die klaskamer waar kinders lawaai, of in die huis met ʼn raserige agtergrond, soos sibbe wat huil of ʼn blêrende televisie, nie kan hoor nie, loop hulle baie gesprekke mis. Dit kan aanleiding gee tot sosiale onttrekking en gevolglike swak sosialisering met maats asook volwassenes. Om voor te gee dat hulle nie omgee nie, kan hulle ook soos grapjasse in die klaskamer optree.
- Angstigheid: Wanneer ʼn kind onseker is of sy iets reg gehoor het al dan nie, kan dit aanleiding gee tot angstigheid. Angstigheid lei weer tot verhoogde OPD.
- Akademiese uitdagings: OPD belemmer die kind se vermoë om groot hoeveelhede inligting wat hulle in die klaskamer aanhoor te absorbeer, te prosesseer en te interpreteer. Dit kan aanleiding gee tot leerprobleme en selfs taal- en leesprobleme.
Omdat OPD soms saam met ander uitdagings soos AGHS voorkom, word OPD dikwels verkeerd gediagnoseer. Die volgende is kenmerkend by kinders met OPD:
- Oënskynlike onoplettendheid wat ʼn moontlike gevolg kan wees van ʼn oorweldigende hoeveelheid opeenvolgende instruksies, of omdat die kind meer tyd benodig om die inligting te verwerk.
- Hiperaktiwiteit, moontlik weens sensoriese oorlading, veral in raserige omgewings.
- Woeligheid, wat haar meer tyd gee om die inligting te prosesseer voor sy die opdrag uitvoer.
- Uitdagings betreffende gedrag, sosiale vaardighede en akademiese prestasie kan moontlik alles terug herlei word na haar onvermoë om ouditiewe insette te prosesseer.
Volg hierdie skakel vir ʼn kitsaanduiding of jou kind dalk ouditiewe prosesseringsprobleme ondervind:
[Selftoets vir ouditiewe prosesseringsdisfunksie by kinders]
Indien van bogenoemde tekens of gedrag by jou kind voorkom en ʼn oudioloog die moontlikheid van ʼn gehoorprobleem uitgeskakel het, is dit aan te bevele om haar deur ʼn professionele persoon vir moontlike ouditiewe prosesseringsdisfunksie te laat toets.
Maniere om jou kind te help
Ouditiewe onderskeiding:
- Vra haar om te onderskei tussen “harde” en “sagte” klanke. Verskaf vooraf voorbeelde.
- Gedurende daaglikse aktiwiteite, laat haar verskillende klanke identifiseer (lopende kraan, bewegende voertuig, eetgerei wat teen ʼn bord klingel).
- Laat haar na ʼn klankpatroon luister (klap byvoorbeeld ʼn ritme op jou hand) en laat sy dit herhaal.
- Praat duidelik, maar met ʼn normale stemhoogte, sodat sy individuele woorde kan onderskei.
- Herhaal opdragte, veral as dit woorde bevat wat dieselfde klink.
- Kyk vir jou kind wanneer jy met haar praat.
- Gun haar genoeg tyd om die inligting/opdrag te verwerk en daarop te reageer (voordat jy haar van ongehoorsaamheid verdink).
Ouditiewe geheue:
- Verskaf eenvoudige ouditiewe instruksies en voeg geleidelik iets by (byvoorbeeld stuur haar om speel-speel inkopies te gaan doen en voeg elke keer iets by die inkopielysie – kyk hoeveel items sy in die regte volgorde onthou).
- Leer vir haar liedjies en rympies en laat haar dit voordra of sing.
- Leer vir haar woord-assosiasies (attes://games4esl.com/five-fun-word-association-games/#).
- Gebruik visuele hulpmiddels en multisensoriese benaderings om haar te help om ouditiewe inligting te prosesseer.
- Gebruik leidrade of beklemtoning soos “dit is belangrik” of “onthou” voor elke opdrag of waarskuwing.
- Herhaal opdragte en belangrike inligting.
- Vra haar om te herhaal wat jy pas gesê het (byvoorbeeld as jy ʼn opdrag gegee het, laat haar dit herhaal voor sy die opdrag uitvoer; of indien jy vir haar sê sekere gedrag is ontoelaatbaar, laat sy herhaal “Ek mag nie…”).
Ouditiewe opeenvolging
- Begin deur eenvoudige opdragte te gee, net een op ʼn keer en kyk of sy dit korrek uitvoer. Voeg geleidelik meer opdragte by.
- Gee eenvoudige opdragte, in die verkeerde volgorde, soos byvoorbeeld “Trek jou skoene aan”,” Trek jou kouse aan”. Vra haar dan om dit in die regte volgorde te sê terwyl sy dit ook reg doen.
- Gee vir haar prentjies van verskillende handelinge, laat sy dit in die korrekte volgorde pak en sê wat sy doen. Waar nodig, verskaf leidrade.
- Laat sy vir jou opdragte gee om uit te voer en maak presies soos sy voorskryf. Of wyk daarvan af en kyk of sy agterkom die volgorde is verkeerd.
- Wys vir haar prentjies in die korrekte volgorde en laat sy dit wat sy op die prentjies sien, prakties uitvoer, in die korrekte volgorde.
Ouditiewe agtergrondonderskeiding:
- Laat jou kind haar oë toemaak, maak ʼn geluid en versoek haar om te wys waar die klank vandaan kom.
- Maak ʼn klankopname van ʼn gesprek tussen Mamma en Pappa, of Mamma en Sussie, laat haar daarna luister en vra haar om te herhaal wat sy gehoor het.
- Eksperimenteer met verskillende tipes musiek. Laat haar na ʼn liedjie luister en vra haar om die lirieke te herhaal. Kies liedjies met verskillende tipes begeleiding en probeer vasstel met watter tipe begeleiding sy sukkel om die woorde te hoor en te herhaal.
- Wanneer belangrike inligting of versoeke oorgedra word, demp alle agtergrondgeluide om seker te maak sy hoor wat jy sê.
Ouditiewe verband-prosessering
- Sê iets met emosie en vra vir jou kind of sy dink jy was vriendelik of kwaad of hartseer (dit help haar om emosie tussen die lyne te “lees”). Vir hierdie oefening kan jy ook uittreksels uit haar gunsteling storie, DVD of video gebruik.
- Verduidelik jou emosie wanneer jy jou kind aanspreek. As jy besef sy kan nie aan jou stemtoon hoor dat jy kwaad is nie, beskryf jou emosie deur byvoorbeeld te sê: “Ek is kwaad omdat jy ongehoorsaam was” of: “Jy maak my hart bly as jy so mooi met jou sussie speel”.
- Doen saam met haar ʼn rollespel van moontlike uitdagende sosiale situasies.
Gee haar selfvertroue ʼn hupstoot
- Gesels met jou kind oor haar sterk punte en uitdagings. Begin altyd met haar talente en positiewe eienskappe, veral wanneer sy ʼn nuwe vaardigheid aanleer.
- Beklemtoon altyd haar suksesse met bevestigende stellings soos: “Ek is so trots op jou dat jy mooi geluister het en presies gedoen het wat Mamma vir jou gevra het”. Koppel altyd haar sukses aan ʼn doelbewuste poging om ʼn opdrag volledig uit te voer.
- Leer haar om met selfvertroue haar behoeftes duidelik uit te spreek deur byvoorbeeld te sê: “Mamma, ek verstaan nie wat ek moet doen nie. Sê asseblief weer vir my”. Verseker haar dat julle haar altyd sal ondersteun en dat sy nooit skaam moet wees om hulp te vra nie.
Ten slotte
Weens onkunde oor die uitdaging van ODP, sal jou kind waarskynlik deur familie, vriende, opvoeders en vreemdelinge geëtiketteer word as stout, ongehoorsaam, moedswillig of uittartend. Daarom is dit jou as ouer se verantwoordelikheid om so gou moontlik inligting oor hierdie uitdaging met belangrike rolspelers in jou kind se lewe te deel, om samewerking, eerder as kritiek te bewerkstellig. Jou jong kind steun op jou om hierdie trauma van etikettering af te weer. Indien sy nou op jou kan steun, sal sy wanneer sy groter is die selfvertroue hê om haar saak te stel.
Bron:
ADDitude. https://www.additudemag.com/what-is-auditory-processing-disorder-symptoms-exercises/?utm_source=eletter&utm_medium=email&utm_campaign=treatment_march_2022&utm_content=031022&goal=0_d9446392d6-d58281041e-291444965