Deur Marli Naidoo
Verlede jaar het 76,2% van matrieks hul eindeksamen geslaag. Ongeveer 210 000 (36,4%) van hierdie matrikulante het toelating tot graadstudies ontvang en ongeveer 150 000 (26%) het as geskik vir ʼn diplomakursus geslaag.
Die meeste van die matrikulante gaan egter nie verder studeer nie, en is opgewonde om die arbeidsmark te betree. Daar kom hulle egter vinnig voor ʼn berg van werkloosheid te staan. Wanneer ons na ʼn breë definisie van werkloosheid kyk, sal ons sien dat ongeveer 50% van jeug tussen die ouderdomme van 15 en 34 werkloos is.
Die idee wat aan leerders gekommunikeer word dat ʼn matrieksertifikaat die towerstaffie is wat al hulle drome gaan laat waar word, bring heelwat teleurstelling. Dit is glad nie so eenvoudig om werk te kry nie.
Een van die oplossings is om tieners toe te rus met vaardighede wat hulle in staat sal stel om onmiddelik ʼn inkomste te genereer sodra hulle by die skool uitstap. Ambagte val onder hierdie vaardighede. Tieners kan wanneer hulle met hoërskool begin reeds buitemuurse opleiding in verskeie ambagte ontvang.
Heelwat skole bied egter ook praktiese vakke aan. Moedig jou tiener aan om een van hierdie vakke te neem.
Hy kan gedurende skoolvakansies vir kort kursusse inskryf en mettertyd al die modules of vlakke voltooi.
Vakleerlingskap is een van die beste maniere om ʼn ambag aan te leer. Jou tiener kan in die middae na skool, of oor naweke, vrywillig by ʼn werkwinkel gaan werk en sodoende alles van die betrokke ambag leer.
Jou tiener sal nie net die fisiese vaardighede leer nie, maar hy sal ook kan sien hoe ʼn besigheid werk, wat professionele etiket is, en hy sal moontlik nuwe belangstellings binne homself ontdek.
Na matriek kan hy dan die nodige stappe doen om sy ambagstoets te kan gaan skryf. ʼn Ambagstoets is die finale geïntegreerde assessering vir ʼn ambagskwalifikasie vir ‘n gelyste ambag. Die toets word by ʼn geakkrediteerde handelstoetssentrum uitgevoer deur ʼn assessor wat by die Nasionale Ambagsmodererende Liggaam geregistreer is.
Bronne
Sowetan Live: https://www.sowetanlive.co.za/news/south-africa/2022-01-20-you-passed-matric-but-you-cant-get-into-a-university-what-now/
Equal Education: https://equaleducation.org.za/2017/01/09/matric-results-and-south-africas-youth-unemployment-crisis/
Understood: https://www.understood.org/en/articles/9-ways-your-teen-can-learn-a-trade
Foto krediet: Okay Deer
Oops! We could not locate your form.