Deur Melodie Veldhuizen
Die meeste kinders sukkel party aande om aan die slaap te raak. Vir ʼn kind met gediagnoseerde aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) is slaapprobleme ongelukkig die norm eerder as die uitsondering. Waarom sukkel kinders met AGHS om te slaap? Een van die belangrikste redes is omdat die AGHS-brein hipersensitief is vir eksterne stimuli. Dit veroorsaak natuurlik ʼn bose kringloop. Slegs een aand wat die kind nie goed slaap nie, kan daartoe lei dat sy die volgende dag nog meer sukkel om te konsentreer, en dan saans weer sukkel om te slaap. Daarom is ʼn goeie nagrus onontbeerlik vir almal – veral vir kinders met AGHS. Indien die probleem nie aandag kry nie, sal die patroon homself onbepaald herhaal. Gelukkig is daar maniere waarop jy Klaas Vakie kan help om jou kind saans gouer in droomland te kry. Dis raadsaam om, waar moontlik, nie net jou kind met AGHS uit te sonder nie, maar om ter wille van ʼn gesonde gesinsroetine al die jonger kinders in die gesin by die slaaptydstrategieë in te sluit.
Voor slaaptyd
Genoeg oefening gedurende die dag sal jou kind help om saans makliker aan die slaap te raak, want fisiese uitputting is ʼn natuurlike susmiddel.
Vermy hoogs stimulerende aktiwiteite gedurende die laaste halfuur of selfs langer voor jou kind moet gaan slaap. Dit sluit in visuele stimulasie soos rekenaarspeletjies, TV-programme en DVD’s. Hulle moet liefs ook nie fisies aktief wees, soos om mekaar in die huis rond te jaag nie. Die blou lig van die skerms van elektroniese toerusting het ʼn uitwerking op die liggaam se pineale klier en verminder die produksie van melatonien, die hormoon wat die slaap-wakker-siklus reguleer. Verduidelik dus aan jou kind dat die reël om kort voor slaaptyd alle elektroniese toerusting af te skakel nie is om hom te straf nie, maar eerder om hom te help om lekker te slaap sodat hy môre goed uitgerus sal wees en lekker sal voel om alles te doen wat hy moet doen, veral by die skool.
Beloon jou kind die volgende dag gedurende die dag indien hy die vorige aand jul slaaptydroetine nagevolg het. Doen dit deur middel van iets wat hy van waarde sal ag en hom sal motiveer om hierdie goeie gedrag te herhaal. Maar moenie hom beloon deur uitsonderings in slaaptydroetine en -reëls toe te laat nie want dit sal teenproduktief wees.
Kalmeer die ooraktiewe brein
Baie kinders met AGHS sukkel om hul ooraktiewe brein saans voor slaaptyd tot bedaring te bring. Die geheim is om sy aandag af te lei van alle gedagtes oor goed wat gedurende die dag gebeur het of van verbeeldingsvlugte wat hom wakker kan hou. Daar is verskeie maniere om dit te doen. Lees vir hom ʼn kort storie voor of laat jou ouer kind toe om self uit ʼn gunstelingboek te lees, maar net vir ʼn vasgestelde tyd, wat deur die kind se ouderdom bepaal kan word. Julle kan ook ʼn liedjie of twee saam sing. Laat hom na rustige, strelende musiek luister – dit kan klassieke musiek wees of musiek van sy keuse (verkieslik nie liedjies wat hom sal wil laat opspring en dans of op ʼn verbeeldingsvlug stuur nie).
Basiese slaaptydbeginsels
Wees bedag op uitsteltegnieke en probeer om dit voor die aanvang van die slaaptydroetine af te handel. Gee hom vooraf ʼn warm melkdrankie met ʼn teelepeltjie heuning, kaneel, of vanieljegeursel om jou kind rustig te maak. Handhaaf ʼn konsekwente slaaptydroetine en volhard daarmee totdat dit ʼn gewoonte raak, ondanks aanvanklike protes. Slaaptyd moet elke aand dieselfde wees na gelang van die kind se ouderdom. Begin met ʼn lekker ontspannende badsessie, gevolg deur enigiets wat jou kind se aktiewe brein kalmeer en wat hy geniet om te doen. Indien julle gelowiges is, sluit die aandroetine af deur ʼn Bybelstorie te lees en as gesin saam te bid. En laaste maar nie die minste nie, ʼn liefdevolle vertroostende drukkie. Maak seker daarvan dat jou kind slaaptyd met iets positief assosieer.
Rig die slaapkamer só in dat dit slaap bevorder
Omdat kinders met AGHS hipersensitief is vir eksterne stimuli en hul liggame meer intens daarop reageer, is dit noodsaaklik om dit so ver moontlik te verwyder of die uitwerking daarvan te verminder. Indien moontlik, moet die kind verkieslik in sy eie kamer (eerder as in julle bed of op die bank voor die televisie) aan die slaap raak. Indien hy bang is om alleen in sy kamer te wees, sal ʼn gunstelingspeelding of kombersie hom kalmeer en geborge laat voel. Verminder oorbodige lig deur byvoorbeeld onnodige ligte regdeur die huis af te skakel, of net ʼn dowwe liggie soos ʼn nagliggie te laat brand. Hoe minder onnatuurlike lig daar is, hoe makliker sal die brein tot ruste kom. Beperk huisgeluide soos ʼn blêrende radio of televisie, lawaaierige sibbe of luide gesels. Wit geraas soos ʼn elektriese waaier of ʼn wasmasjien of tuimeldroër kan help om steurende huisgeluide te demp. Maak seker dat die slaapkamer nie te warm of te koud is nie.
Bykomende slaaptydstrategieë
Die volgende strategieë kan in samewerking met jou kind se mediese praktisyn oorweeg word. Melatonien is ʼn natuurlike slaaphormoon wat help om die slaap-wakker-balans te reguleer, maar kinders met AGHS het dikwels ʼn tekort daaraan. Bespreek die moontlikheid vir die gebruik van ʼn melatonienaanvuller met die dokter. Indien niks anders werk nie en jou kind AGHS-medikasie gebruik, oorweeg in oorleg met sy dokter ʼn lae dosis daarvan net voor slaaptyd. Dit kan egter ook gebeur dat hierdie medikasie ʼn negatiewe uitwerking op jou kind se slaappatroon het. Bespreek die situasie met jou kind se dokter en oorweeg moontlike aanpassing van die dosis, asook hoe laat die medikasie geneem moet word.
Indien nodig, raadpleeg ʼn kundige
Indien geeneen van die genoemde strategieë suksesvol is nie, of jou kind wel genoeg slaap maar steeds soggens nog vaak of moeg is, is daar waarskynlik ʼn ander onderliggende probleem, soos slaapapnee. Neem hom vir formele evaluering na ʼn slaap-terapeut.
Bronne
ADDitude. https://www.additudemag.com/how-to-get-kids-to-sleep-adhd/
ADDitude. https://www.additudemag.com/adhd-sleep-problems/
Lees meer oor die onderwerp:
ADDitude. https://www.additudemag.com/download/sleep-solutions-for-kids-with-adhd/
Foto krediet: cottonbro | Pexels
Oops! We could not locate your form.