Deur Melodie Veldhuizen
Die meeste kat- en hondliefhebbers het al slegte asem by hul dierekinders waargeneem. Jy kan iets daaromtrent doen, mits jy weet wat die oorsaak daarvan is. Sommige van die oorsake is behandelbaar en selfs voorkombaar, terwyl ander moeilik en net ten duurste behandel kan word.
Pika. Dit is ʼn eetversteuring waar diere, veral honde, enigiets eet wat voorkom en wat nie kos is nie, soos ontlasting, klippe, grond, hare, verf en selfs lap. Dit kan ernstige gesondheidsprobleme, soos ingewandsere, blokkasie van die derms of irritasie van die spysverteringskanaal veroorsaak. Jy sal een of meer van die volgende simptome waarneem: braking, diarree of los stoelgang, of chroniese slegte asem.
Metaboliese siektes soos diabetes en nierversaking. Albei hierdie toestande gaan gepaard met ʼn groter behoefte om te urineer, ʼn groter behoefte aan water en dikwels ook gewigverlies. In die geval van diabetes sal die dier se asem soet (vanweë oormatige hoeveelhede suiker in die bloedstroom), suur (vanweë die toename in bakteriële groei), of muf (omdat gis in die mond groei) ruik. In die geval van nierversaking sal die asem metaalagtig ruik (vanweë ʼn opbou van gifstowwe en afvalstowwe wat nie deur die niere gefiltreer word nie).
Siektes van die asemhalingskanaal, sinusitis, neus infeksies en neustumors. Dit word veroorsaak deur die produksie van etter (dooie en ontbindende witbloedselle, bakterieë en bloed) in die neus, wat agter in die keel in drup.
Siektes van die spysverteringstelsel. Dit word veral veroorsaak deur siektes van die slukderm (waar die slukderm swel sodat voedsel daarin opdam) of voortdurende braking (weens verstopping van die ingewande, gastritis, nier- of lewersiektes). Infeksies van die mond of lipvoue (veral by spanjoele) kan ook die oorsaak wees.
Tandsiektes is die algemeenste oorsaak van slegte asem by troeteldiere. Tensy die diere se tande gereeld geborsel word, sal die meeste honde en katte (maar nie almal nie) tandsteen en plaak op hul tande ontwikkel. Benewens ʼn slegte asem kan tand- en tandvleisprobleme tot ander ernstiger siektetoestande aanleiding gee. Tandvleisontsteking is ʼn risikofaktor vir hartsiektes en nierversaking omdat bakterieë maklik die bloedsroom kan binnedring. In ernstiger gevalle kan die dier selfs bloedvergiftiging kry of septiese skok opdoen. ʼn Hond met erge tandvleisontsteking kan onwillig wees om te eet en uiteindelik van honger doodgaan. Teen die tyd dat die siekte ontdek word, kan die aangetaste tande nie meer gered word nie.
Hoe kan jy vasstel wat die probleem is?
Indien jy onrustig voel oor jou dier se chroniese slegte asem, neem hom na ʼn veearts, wat die oorsaak deur middel van bloedtoetse, urinetoetse, X-strale of selfs net ʼn visuele ondersoek sal bepaal.
En wat dan?
Na gelang van die diagnose sal die veearts toepaslike behandeling of medikasie voorskryf. Die meeste siektes is behandelbaar, mits dit beyds gediagnoseer word.
Voorkoming is die beste oplossing
Jou troeteldier se tandversorging is noodsaaklik vir sy algehele gesondheid.
Wat behels goeie tandsorg?
Borsel gereeld sy tande en ondersoek die tande en tandvleis van tyd tot tyd deeglik. En laastens, maar nie die minste nie, ʼn gesonde dieet. Maak jou dier van jongs af gewoond aan tande borsel. Moenie tandepasta gebruik wat vir mense bedoel is nie. Die skuim kan hulle ontstel en ook die maag omkrap. Daar is tandepasta wat spesiaal vir diere ontwikkel is, met ’n smaak waarvan diere hou en wat ook veiliger vir hulle is. Na gelang van die grootte van jou dier se tande en mond, kan jy ʼn gewone tandebordsel gebruik. Daar is egter ook tandeborsels op die mark wat om jou vinger pas om die proses tevergemaklik. Vra jou veearts vir raad. Vra hom ook om die proses te demonstreer. Borsel minstens een maal per week, maar een maal daagliks is eintlik die beste.
ʼn Alternatief?
Daar is ook spesiale hondekos en -bederfies op die mark wat tandsteen en plaak kan verminder en tand- en tandvleissiektes voorkom.
Raadpleeg jou veearts vir die verskillende moontlikhede.
Bronne
Hill’s. https://www.hillspet.co.za/dog-care/routine-care/dental-care-for-dogs
Vethelpdirect. https://vethelpdirect.com/vetblog/2016/02/04/sometimes-its-not-teeth-other-causes-of-bad-breath-in-pets/
Wag. https://wagwalking.com/condition/pica
Oops! We could not locate your form.