Hoekom Milleniërs benoud is vir die huwelik

Vrydag, April 21st, 2017

Anja van den Berg

 

Navorsing toon dat jong paartjies versigtig is om hulle in die huwelik te begewe want hulle is bekommerd oor die spanning wat egskeiding meebring. Meer as twee-derdes van die paartjies wat aan die studie deelgeneem het en wat saamwoon, het toegee dat hulle bekommerd is oor die sosiale, regs-, emosionele en ekonomiese gevolge as ʼn huwelik verbrokkel.

ʼn Verwante studie het aan die lig gebring dat die helfte van Amerikaanse volwassenes van mening is dat die huwelik in die moderne lewe irrelevant is. ʼn Onlangse verslag toon dat getroude volwassenes binnekort in die minderheid gaan wees. Die sielkundige, Deborah Khoshaba, sê dat volgens navorsing deur die Pew-navorsingsentrum 51% van volwassenes van 18 jaar en ouer getroud is. “Dit is ʼn daling vanaf die 57% in 2000 en die 72% van so ver terug as 1960. Die mees dramatiese afname in die huwelikskoers is onder diegene wat 29 of jonger is.”

Wantroue in intieme verhoudings en in die instelling van die huwelik het daartoe aanleiding gegee dat sommige jong volwassenes meer waarde heg aan seks as aan intimiteit, aan pret eerder as aan erns en aan kasuele seks sonder emosionele verbintenis, verduidelik Khoshaba. “Milleniërs het vertroue in die heiligheid van die huwelik verloor. Met ʼn toename in die egskeidingskoers, voorvalle waarin eggenote mekaar kul en ʼn toename in die getal mense wat verkies om saam te bly, is die huwelik vir die meeste jongmense nie meer ʼn prioriteit nie.”

“Die algemene persepsie onder Milleniërs is dat dit ʼn mens se vlerke knip. Ek sien dié gevolgtrekking as ʼn uitdrukking van jongmense se wanhoop eerder as van die nutteloosheid van intieme verhoudings in soverre dit geluk betref,” verduidelik Khoshaba.

“Miskien het die afname in die huwelikskoers eerder te make met jong volwassenes se toenemende onvermoë om die mislukte ideale en moeilikhede wat die lewe inhou, te hanteer Dit wil voorkom of ʼn toenemende aantal jong volwassenes hul verwagtings om ʼn immer toenemende onseker wêreld te kan hanteer, verlaag het. Hulle het hulself gereduseer tot die laagste gemene deler wat hanteringsvermoë, visie en betekenis betref.”

Die huwelik hoef nie in die pad van selfverwesenliking of selfontdekking te staan nie, aldus Khoshaba. “Trouens, die bereiking van ʼn mens se volle potensiaal mag dalk net meer vervullend wees as ʼn mens dit saam met iemand anders aanpak. Die huwelik bied ʼn sekere sekuriteit en stabiliteit wat geen ander verhouding kan bied nie.”

 

Bronne:

Damien Gayle, 2011, “Why young couples aren’t getting married – because they’re afraid of getting divorced”, Mail Online, http://www.dailymail.co.uk/news/article-2076013/Why-young-couples-arent-getting-married–fear-ravages-divorce.html

Deborah Khoshaba, 2011, “Young Adults Are Deciding Not to Marry Today”, Psychology Today, https://www.psychologytoday.com/blog/get-hardy/201112/young-adults-are-deciding-not-marry-today

Manimanjari Sengupta, 2015, “Here’s Why Our Generation Is Scared To Get Married”, ScoopWhoop, https://www.scoopwhoop.com/inothernews/generation-scared-to-get-married/

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Is die afskaf van huiswerk ʼn goeie ding?
Anja van den Berg   ʼn Handjievol laerskole in Suid-Afrika het die omstrede besluit geneem om huiswerk af te skaf. Daardie skole se ouers slaak dikwels ʼn sug van verligting, maar is terselfdertyd besorg oor hul kinders se akademiese vordering. Huiswerk is al geslagte lank een van die hoekstene van skoolonderrig, maar dit raak al […]
Wil jy suksesvolle kinders grootmaak? Doen dan elke dag dié 7 goed
Bill Murphy Jr.   “Ons is wat ons herhaaldelik doen,” sê Aristoteles. “Uitnemendheid is nie ʼn daad nie, maar ʼn gewoonte.” Dit geld vir ons en ons kinders. Ryk ouers gee hulle kinders ʼn reusevoordeel bloot deur hulle in ʼn bevoorregte buurt groot te maak. Nie almal hou van dié idee nie. Party mense sal […]
My kind is altyd laat
Marli Naidoo   Hoekom moet ons so sukkel om ons kinders betyds by die skool te kry? Elke oggend is ʼn uitputtende gedoente van aanpor en frustrasie. Ongelukkig is dit nie ʼn probleem wat met ʼn vyfstapplan uit die weg geruim kan word nie. Kinders se aandag is van nature hoogs afleibaar, en die ontwikkeling […]
1 2 3 102