Deur Nico Strydom
Voor jy jou oë uitvee, is die nuwe jaar met mening aan die gang en het jy en jou gesin in julle ou gewoontes verval en begin die stres en spanning oplaai.
Die begin van ʼn nuwe jaar is egter ook die geleentheid om nuut te begin, nuwe roetines te vestig en goed wat onnodig stres en spanning veroorsaak uit die weg te probeer ruim. Om goed georganiseerd te wees kan help dat jou huishouding en ander dele van jou lewe soos ʼn goed geoliede masjien funksioneer.
Daar is talle maniere om te verseker dat alles seepglad verloop en te sorg dat jy nie permanent voel dat jy te veel balle in die lug probeer hou nie. ʼn Gebrek aan kommunikasie en beplanning sal tot gevolg hê dat jy altyd op die agtervoet is.
Een van die maniere om te verseker dat jy en jou gesin meer georganiseerd is, is om gesinsvergaderings te hou. Dit kan weekliks of maandeliks plaasvind en dit is belangrik om dit vinnig, kort en maklik te hou. Gebruik ʼn kalender sodat daar dagboek gehou kan word van alles wat moet gebeur en dat daar ook verantwoordelikheid aan spesifieke gesinslede toegeken kan word van sekere take. Die kalender kan ook digitaal beskikbaar gemaak word sodat almal daartoe toegang het op hulle selfone en rekenaars en heeltyd weet wat aangaan.
Om vir ʼn gesin elke dag kos voor te berei, is ʼn groot taak. ʼn Maaltydplan kan in dié verband baie handig te pas kom. Dit kan byvoorbeeld op ʼn Sondagaand voorberei word en almal kan insette gee oor wat daardie week geëet kan word. Daar kan ook besluit word wie dit gaan maak of gaan help met die voorbereiding. ʼn Maaltydplan sal ook verseker dat daar nie elke dag winkel toe hoef te gegaan word nie en sal die frustrasie uitskakel van elke middag te moet besluit wat vanaand geëet gaan word en wie die bestanddele moet gaan koop.
Met die kinders wat teruggekeer het skool toe, kan dit ook voel dat daar meer chaos as gewoonlik in die huishouding is. Maak seker dat roetines in dié verband reeds vroeg in die jaar behoorlik vasgelê word. Ook hier kan ʼn maaltydplan help om vinnig te besluit watter kos vir die kinders ingepak gaan word skool toe.
Rig ʼn plek in waar die kinders huiswerk kan doen sonder om die hele huishouding te ontwrig en waar al hulle benodighede maklik en vinnig weggebêre kan word. Gee ook vir die kinders weeklikse takies vir in en om die huis sodat almal kan help verseker dat alles tuis vlot verloop in die nuwe jaar.
Bronne
Family Education: https://www.familyeducation.com/school/time-management/best-school-year-yet-9-organizational-tips-tools-school-year-survival
Childhood 101: https://childhood101.com/family-organisation-tips/
Oops! We could not locate your form.