Deur Nico Strydom
Om ‘n persoon in diens te neem om in jou huis of op jou erf te werk, is nie ‘n besluit wat ligtelik geneem moet word nie.
Volgens Charnel Hattingh, hoof van bemarking en kommunikasie by Fidelity ADT, is dit kommerwekkend dat soveel huiseienaars vreemdelinge in hul huis en op hul erf toelaat sonder dat hulle enige iets van hierdie mense weet.
“Die meeste huishoudings benodig hulp – of dit nou ’n au pair, kinderoppasser, huishulp, versorger of tuinier is. Baie dikwels oorskadu die desperaatheid om iemand aangestel te kry die noodsaaklikheid om agtergrondondersoeke op hierdie mense te doen,” sê Hattingh.
“Die eindresultaat kan rampspoedig wees as jy dalk ontdek jy het ‘n dief of ontvoerder onder jou dak. Dit is onkundig om nie seker te maak wie jy in diens neem om na jou geliefdes, troeteldiere en huis om te sien nie.”
Een manier om behoorlike keuring te verseker, is om personeel deur ‘n betroubare agentskap aan te stel. “Ongelukkig is selfs verwysings van familie of vriende deesdae nie genoeg nie. Dit is ook ons ervaring dat huiswerkers met ‘n misdaadgeskiedenis staatmaak op die feit dat baie werkgewers nie behoorlike kontrole uitoefen nie.”
Daar is basiese inligting wat jy van ‘n persoon moet bekom voor jy hom of haar aanstel om in of om jou huis te werk, sê Hattingh. Dit sluit die persoon se volle name, byname, woonadres, ID- of paspoortnommer, verwysings en gesertifiseerde afskrifte van alle identiteitsdokumente in. Jy kan ook bykomende inligting bekom soos ‘n ID-foto, familiebesonderhede, inligting van naasbestaandes, mediese geskiedenis en polisieklaring.
Huiswerkers kom nou ook in aanmerking vir vergoeding vir beserings en siektes wat hulle aan diens opdoen. Dit nadat die Konstitusionele Hof beslis het dele van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (Coida) ongrondwetlik is.
Volgens Albert van der Merwe, assistent-hoofsekretaris van die Nasionale Werkgewersarbeidsvereniging (Nela), is die wysiging aan die wet terugwerkend, wat beteken dat sake wat terugdateer na 2004 vir vergoeding in aanmerking sal kom. Die definisie van “huiswerker” sluit tuiniers, kinderoppassers, versorgers en chauffeurs in wat in private huise werksaam is.
Hattingh meen die wysiging aan die wet eis ‘n nuwe perspektief rakende huisveiligheid.
“Ons moet almal veiligheid as ’n persoonlike verantwoordelikheid prioritiseer wanneer dit by huishoudelike personeel kom. Dit behels dat behoorlike agtergrondondersoeke gedoen word voordat ‘n aanstelling gemaak word en om seker te maak dat huiswerkers veilig is terwyl hulle hul pligte uitvoer en die hulp kry wat hulle in ‘n noodgeval nodig het.”
Bronne:
Fidelity ADT: https://adt.co.za/
Nela: https://www.nela.org/
Oops! We could not locate your form.