Deur Nico Strydom
Die aantal voorvalle van huishoudelike geweld in Suid-Afrika het tydens die Covid-19-inperking toegeneem.
Dit word vererger deur die feit dat soveel vroue wat slagoffers van mishandeling is en wat kies om uit te praat daaroor, geblameer en verneder word of laat voel word dat daar niks merkwaardig in hul ervaring is nie.
“Jy moes iets gedoen het dat hy jou so behandel. Moenie jou vuil wasgoed in die openbaar was nie. Jy moet dit laat werk. Ons het almal probleme, joune is niks besonders nie.”
Dit is woorde wat so dikwels gehoor word deur vroue wat slagoffers is van geslagsgebaseerde geweld, en veral huishoudelike geweld, sê Pertunia Bopape, ʼn arbeidsterapeut by Netcare Akeso Nelspruit.
“Weens die vrees wat mishandelde vroue ervaar, veral wanneer dit by geweld in ʼn intieme verhouding kom, vermoed ons dat daar ʼn aansienlike getal ongerapporteerde sake is. Baie van hierdie vroue is in so mate deur hul maats geterroriseer dat hulle te bang is om enigiemand te vertel wat met hulle gebeur.”
Ekonomiese faktore speel ook ʼn rol, met baie vroue wat afhanklik is van hul maat en dus nie kan bekostig om die pad te vat nie. Indien daar kinders betrokke is, kan die situasie vir die slagoffers nog meer hopeloos voel.
“ʼn Vrou se keuse om in ʼn verhouding te bly waar sy mishandel word, kan dikwels versterk word deur die terugvoer wat sy van ander kry. Dit kan wissel van vrees vir veroordeling oor ʼn mislukte verhouding en ʼn waargenome verlies aan status of om onder druk te voel deur die stereotipe dat vroue die rots van die huishouding is, dat hulle die pyn moet verduur en in stilte moet ly.”
Bopape wys daarop dat daar ʼn algemene wanopvatting kan wees dat mishandeling altyd fisiek is. “Dit sluit egter enige vorm van mishandeling in wat skade veroorsaak en die veiligheid of welstand van ʼn vrou fisies, emosioneel of op ander maniere beïnvloed. Dit kan ook dade soos agtervolging en beskadiging van eiendom insluit.”
Vroue word dikwels fisiek leed aangedoen op dele van hul liggaam wat deur klere versteek word. Hierdie tipe mishandeling gaan ook gewoonlik gepaard met emosionele mishandeling, met inbegrip van dreigemente, isolasie van familie en vriende, magsbeheer en die afluister van gesprekke.
Dit is belangrik vir vroue wat mishandel word om te begin deur iemand te vertel, hetsy ʼn persoon wat hulle vertrou of een van die organisasies wat vroue bystaan wat slagoffers van geweld is. “Daar word aanbeveel dat vroue wat die slagoffer van fisieke of seksuele mishandeling is ʼn J88-vorm deur ʼn mediese dokter of geregistreerde verpleegster laat invul. Dit is ʼn formele rekord van die beserings wat opgedoen is na ʼn voorval van fisieke of seksuele geweld en kan help indien die slagoffer ʼn klag aanhangig wil maak.
“Dit is baie belangrik vir slagoffers om daarop te let dat die J88-vorm nie op sigself ʼn aanklag is nie, dit is bloot ʼn wettige rekord van wat gebeur het, so jy hoef nie te vrees dat hierdie assessering gedoen word nie. Dit kan jou regtig verder help as jy eendag besluit om aanklagte teen jou misbruiker in te dien, selfs al voel jy dat jy dit nie nou kan doen nie.”
Daar is talle plekke wat gereed staan om slagoffers van geslagsgebaseerde of huishoudelike geweld by te staan. Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ʼn 24 uur-beheersentrum teen geslagsgebaseerde geweld op die been gebring. Die sentrum kan gekontak word by 0800 428 428 of ʼn Please Call Me kan gestuur word deur *120*7867# van jou selfoon af te skakel. Die beheersentrum verskaf traumaberading en bystand en kan slagoffers ook in kontak bring met die polisie of ʼn maatskaplike werker.
Ander instansies wat gekontak kan word:
LifeLine 086 132 2322
Women Abuse Helpline 0800 150 150
Stop Misdaad 08600 10111
Childline 0800 055 555
Bronne
Netcare Akeso: https://www.akeso.co.za/
Global Citizen: https://www.globalcitizen.org/en/content/what-to-do-experience-gender-violence-south-africa/
Life Healthcare: https://www.lifehealthcare.co.za/news-and-info-hub/latest-news/support-for-victims-of-gender-based-violence-gbv/
Oops! We could not locate your form.