Inkopies doen, kleuters en vloerstuipe: ʼn Oorlewingsgids

Vrydag, April 21st, 2017

Anja van den Berg

 

As ʼn ouer kom ʼn mens maar deur leer en probeer agter wat werk en wat werk nie. Om kleingoed op ʼn uitstappie te neem is soos om ʼn balanseertoertjie met dinamiet uit voer: ʼn Mens is nooit heeltemal seker wanneer jy ʼn winkel ongedeerd gaan verlaat of wanneer die hele spulletjie in jou gesig gaan ontplof nie – soms met pynlike nagevolge.

“Wanneer hul kleintjie met mening en sonder veel waarskuwing ontplof, laat vloerstuipe ouers met ʼn gevoel van skok,” sê dr. Christopher Green, skrywer van die topverkoper Toddler Taming. “As hulle hulle eers in die mynveld bevind, raak ouers gefrustreerd en verbouereerd oor hul onvermoë om iets met die kleintjie uit te rig en om hom te laat ophou.”

“Wat dit nog erger maak, is dat die vloerstuipe dikwels in die openbaar plaasvind en die verleë ouers is dan nie net opgeskeep met hul eie reaksie nie, maar ook met dié van ʼn meelewende gehoor. Die dreigement van vloerstuipe terwyl ʼn mens besig is om inkopies te doen, is ʼn besonderse beproewing vir ouers wat hulself in ʼn omgewing bevind wat hom perfek daartoe leen om die ergste in moeilike en koppige kleuters na vore te bring,” sê Green voorts.

 

Hier is jou oorlewingsgids om daardie gevreesde kleuteruitbarsting in die openbaar te vermy en te hanteer:

  • Die mees voor die hand liggende oplossing is om vooruit te beplan en om die uitbarstings uit die staanspoor te vermy! Vra ʼn ouma, buurvrou of ʼn oppasser om na die kleintjie te kyk sodat jy ʼn uitbarstingvrye inkopietyd kan hê. “Met sommige kleintjies,” sê Green, “is die enigste manier waarop jy kan wen om hulle glád nie saam te neem nie.”
  • As die kleintjie moet saam, laat jou maat saamkom as ʼn bykomende paar hande en om die kleintjie op te pas en te vermaak.
  • Kies jou inkopietye so dat die kleintjie uitgerus, wel voel, nie honger is nie en tevrede is.
  • Kies om jou inkopies op minder besige tye te gaan doen. Benader die weeklikse supermarkbeproewing anders en maak daarvan ʼn leerervaring. “Praat met die kleintjie en betrek hom by die basiese aankoopbesluite,” sê Green. “Span die dubbeldoormag van aandag en vermaak in.”
  • Elke kind het ʼn eie toleransievlak vir inkopies. As dit bereik is, moenie stop om met vriende te gesels of om ure voor die vleistoonbank te talm om te besluit wat om vir aandete te maak nie. “As jou kind haar kapasiteit bereik het, moet alles in die stryd gewerp word om jou besigheid af te handel en om teen die spoed van ʼn militêre terugvaloperasie daaruit te kom,” sê Green.
  • Sorg dat daar iets is om jou kind se aandag af te lei teen die tyd dat jy by daardie deel van die supermark uitkom wat jy weet die groot versoeking inhou. Bring ʼn boeiende boek of speelding saam. Beplan vooruit en berei ʼn smaaklike – en gesonde – happiepakkie by die huis voor om so halfpad deur die inkopies vir die kleintjie aan te bied.
  • Kies die “gryp-en-hardloop-”metode om inkopies te doen. “Die persoon wat haar inkopies op ʼn drafstap doen, weet presies wat sy wil koop nog voordat sy van die huis af vertrek. Sommer so met die intrapslag laat sy al trollie se wiele sing,” sê Green. Sy is vasberade en vinnig en raap produkte met mening, determinasie en sonder ʼn sweem aarseling van die rakke af. “Sy blits deur die kortste tou by die kassiere, betaal en voor jy kan ‘mes’ sê, is sy die winkel uit”.

 

Maak reëls vir wanneer julle saam in die openbaar is en wat almal veronderstel is om te volg, sê die sielkundige Nancy Buck. “Oor die algemeen behoort alle reëls respek vir jouself, respek vir ander en respek vir eiendom insluit. Jy sal dit verduidelik en meer spesifiek wees na gelang van jou kind se ouderdom.” Maak seker dat jy pret in die uitstappie inbou; iets wat jou kleintjie sal geniet terwyl jy besig is. “Onthou dat kinders ʼn groot behoefte aan opwinding het en sal uitpluis hoe om op verantwoordelike en behoorlike maniere daaraan uiting te gee as jy daarvoor beplan.”

 

Bronne:

Christopher Green, 2006, “New Toddler Taming: A parents’ guide to the first four years: The World’s Bestselling Parenting Guide”, Vermilion,https://www.amazon.co.uk/New-Toddler-Taming-Bestselling-Parenting/dp/0091902584

Nancy Buck, 2011, Get Your Children Under Control In Public, Psychology Today, https://www.psychologytoday.com/blog/peaceful-parenting/201106/get-your-children-under-control-in-public

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Is die afskaf van huiswerk ʼn goeie ding?
Anja van den Berg   ʼn Handjievol laerskole in Suid-Afrika het die omstrede besluit geneem om huiswerk af te skaf. Daardie skole se ouers slaak dikwels ʼn sug van verligting, maar is terselfdertyd besorg oor hul kinders se akademiese vordering. Huiswerk is al geslagte lank een van die hoekstene van skoolonderrig, maar dit raak al […]
Wil jy suksesvolle kinders grootmaak? Doen dan elke dag dié 7 goed
Bill Murphy Jr.   “Ons is wat ons herhaaldelik doen,” sê Aristoteles. “Uitnemendheid is nie ʼn daad nie, maar ʼn gewoonte.” Dit geld vir ons en ons kinders. Ryk ouers gee hulle kinders ʼn reusevoordeel bloot deur hulle in ʼn bevoorregte buurt groot te maak. Nie almal hou van dié idee nie. Party mense sal […]
My kind is altyd laat
Marli Naidoo   Hoekom moet ons so sukkel om ons kinders betyds by die skool te kry? Elke oggend is ʼn uitputtende gedoente van aanpor en frustrasie. Ongelukkig is dit nie ʼn probleem wat met ʼn vyfstapplan uit die weg geruim kan word nie. Kinders se aandag is van nature hoogs afleibaar, en die ontwikkeling […]
1 2 3 102