Deur Emsie Martin
Die dag toe jy met sterre in jou oë voor die kansel gestaan het, sou jy jou nie kon indink dat jy eendag dalk ʼn huweliksberader sal moet gaan sien nie. Ná ʼn paar jaar voel dit of jy dinge nie meer kan laat werk nie. Daar is net té veel verskille – wat jy té laat besef het. Die grootste probleme ontstaan omdat mense nie geleer het om duidelik en doeltreffend te kommunikeer nie.
Anri van den Berg, ʼn huwelik-, verhouding- en traumaberader, verduidelik dit so: “Verliefdheid speel natuurlik ʼn massiewe rol in ons keuse van ʼn lewensmaat. Ons is gemaak vir mekaar. Niemand kom naastenby by jou nie. Jy is meer as gewillig en in staat om presies die mens te wees wat ek nodig het – iemand wat aan my behoeftes voldoen … Maar soos jou huwelik aanstap, gly hierdie bril van verliefdheid stadig maar seker van jou oë af en jy begin foutjies raaksien. Daar is goedjies wat krap. Die oulike, cute goedjies wat deel was van jou maat se menswees, begin nou stadig maar seker in irritasies verander …”
Wanneer ʼn man en ʼn vrou trou, bring elkeen ʼn unieke persoonlikheid na die huwelik. Soms vul hierdie persoonlikheidsverskille mekaar aan en smelt saam tot ʼn versoenbare verhouding. Daar kan egter probleme wees as een of albei huweliksmaats onbuigsaam is, onwillig is om te gee of sterk gekant is teen verandering.
Wanneer ʼn egpaar pas getroud is, volg daar gewoonlik ʼn tyd van opwinding, entoesiasme en jeugdige idealisme wat later kan verander. Soms maak huweliksprobleme hul verskyning, of word vererger as gevolg van die druk van ander mense of stresvolle situasies soos:
Huweliksmaats kan teen die meeste van hierdie faktore weerstand bied. Wanneer daar onsensitiwiteit en hardkoppigheid is, sal daar ook spanning en konflik wees. Kommunikeer en praat met mekaar. As jy nie praat nie, sal jou maat nie weet wat in jou hart aangaan nie. Wees eerlik en deel die goeie en slegte wat in jou dag gebeur het. Ondersteun mekaar. Beur mekaar op. Dra mekaar. Wees daar vir mekaar.
As julle sukkel met kommunikasie oorweeg berading. Dit is nie maklik om vir berading te gaan nie. Vir sommige is dit ʼn verleentheid en dit kan as ʼn erkenning van mislukking beskou word. Berading is dikwels die doeltreffendste as ʼn egpaar vroeg om hulp aanklop en nie eers nadat die probleme reeds té erg geraak het nie.
“Dit is my ervaring dat as ʼn mens bloot ʼn paartjie se kommunikasiemetodes verbeter en doeltreffend maak, kan jy die hele verhouding verander,” sê Anri van den Berg.
As julle albei hierdie huwelik wil red en die verhouding wil omskep in wat julle albei in gedagte gehad het toe julle voor die kansel gestaan het, kan huweliksberading van groot waarde wees.
BRON:
Die A-Z van berading – Gary R Collins Hfst. 27 p. 489
https://www.vitanova.co.za/is-huweliksberading-die-moeite-werd/
Foto krediet: Polina Zimmerman | Pexels
Oops! We could not locate your form.