Deur Wilma Bedford
Met die afgelope inperking en met die verwagting van nog toekomstige inperkings kyk ons met nuwe oë na die stoep en die stoeptuin as ʼn bykomende buitevertrek aan die huis of ons wil probeer om met min moeite ʼn ruimte in so iets te verander. Indien jy nie ʼn stoep of ʼn lapa het nie kan jy steeds ʼn ongebruikte hoekie met min moeite verander in ʼn klein toevlugstuintjie deur ʼn stoel of twee, ʼn sambreel, ʼn tafeltjie en ʼn potplant strategies te plaas.
Hoewel jou stoeptuin nie noodwendig waarde toevoeg tot jou eiendom nie, is dit ʼn aantreklike lokpunt mits dit vriendelikheid uitstraal en byderwets is. Koelte is noodsaaklik en daarvoor kan ʼn afdak aanbring word. As jou begroting beperk is, dink aan goedkoper opsies soos gordyne of om seile te span vir privaatheid en koelte.
Om byderwets te wees, moet jy ʼn paar dinge vermy. Vermy te veel potplante, veral as jy net ʼn balkon het; en vermy verskillende groottes en kleure potte, maar gebruik dekoratiewe potte wat bymekaar pas. Groepeer plante bymekaar, bv. grassoorte, en gebruik plantbokse as jou spasie beperk is.
ʼn Positiewe lokpunt as jou begroting dit toelaat, sal wees om ʼn ingeboude gasbraaier te installeer, wat ook meer ruimte op die stoep sal gee eerder as die draagbare kolebraaier waarvan die skoonmaak en wegbêre na ʼn kuier maklik vergete bly.
Die nuwe tendens is om modulêre vierkantige meubels op jou stoeptuin te gebruik eerder as ronde meubles, en sonbestande gordyne in byderwetse kleure is in. Die retrostyl draadmeubels en opvoustoele pas beter in die tuin waar hulle die elemente kan weerstaan terwyl meer duursame stoele op die stoep hoort. Sitronellakerse is uit, gebruik eerder ʼn waaier, insekspirale of ʼn elektriese verspreier om muskiete weg te hou. Pak ook die feetjie- en kersliggies weg en gebruik groter dak- of muurligte. Die onvanpaste, verslete sjiek vlooimarkvoorkoms is ook uit.
Kleur is belangrik en die goue reël is om ʼn basiese kleur en twee kleure vir oortreksels of los kussings te kies en daarby te hou by. Hou patroon en tema bymekaar, bv. moenie ʼn fyn blommotief en ʼn wildtuintema saam gebruik nie. Vlootblou saam met gebrande oranje en smaraggroen is in en pienk en pers is uit. Om te bespaar, kan jy goedkoop patiomeubels in hierdie byderwetse kleure verf met ʼn geskikte weerbestande verf. Indien jy ʼn klein balkontuin het, dink daaraan om ʼn los mat of twee op die vloer te gooi met los kussings vir ekstra sitplek, en opvou-bistromeubels as jy al fresco wil onthaal.
Oormatige dekor is uit – meubels en plante is die enigste dekor, en vervang die watervalletjie met deur enkele spuitfonteintjie. Dink daaraan om plante, bv kruie, in houers te plant wat vertikaal teen ʼn muur in ʼn balkontuin gehang kan word; sodoende skep jy ʼn besondere fokuspunt teen ʼn oninteressante muur en optimaliseer jy spasie.
Bron
5 Patio Trends That Are On Their Way Out.
Billock, J. July 9 2020. Apartment Therapy. http://www.apartmenttherapy.com
Foto krediet: Tanny Do | Unsplash
Oops! We could not locate your form.