Deur Nico Strydom
Ouers moet seker maak daar is maatreëls om te keer dat tegnologie, ʼn belangrike opvoedkundige hulpmiddel, veroorsaak dat kinders fokus op hul studies verloor, of erger nog, die slagoffers van kuberbedreigings en afknouery word.
Volgens Carey van Vlaanderen, uitvoerende hoof van ESET South Africa, het die internet, slimfone en tablette ʼn noodsaaklike deel van ons daaglikse lewe geword en dieselfde geld vir ons kinders.
“Skattings dui daarop dat kinders en tieners tussen die ouderdomme van 8 en 18 jaar ongeveer 44,5 uur elke week voor digitale skerms spandeer. Wanneer dit goed gebruik word, is digitale toestelle en die internet kragtige opvoedkundige hulpmiddels en kan dit ʼn liefde vir leer inspireer.”
Jonger mense is egter ook meer kwesbaar vir verskeie kuberbedreigings en daarom is dit belangrik dat maatreëls ingestel moet word.
“Hoe beskerm jy kinders teen trolle en kuberboelies wanneer hulle tegnologie nodig het vir studie- en navorsingsdoeleindes? ʼn Goeie benadering behels die skep van ’n gesonde omgewing wat ontdekking aanmoedig, maar met duidelike grense.”
Ouers dink dalk dit is skadeloos dat hul kinders studeer terwyl hulle TV kyk of op hul fone besig is. Dit kan egter leer benadeel en laer eksamenpunte tot gevolg hê.
ʼn Studie wat aan die California State University gedoen is, het getoon dat 80% van die hoërskoolleerlinge wat ondervra is, gesê het dat hulle gereeld tydens studie na tegnologie oorgeskakel het. Dieselfde opname het ʼn direkte korrelasie tussen digitale afleidings en ʼn daling in punte getoon.
Om toestelle te diskonnekteer is volgens Van Vlaanderen nie ʼn oplossing nie, maar om toegang tot webtuistes, dienste en platforms te beperk, is wel. “As ons wil hê kinders moet leer en op hul beste presteer, moet slimfone en ander aanlyn afleidings bestuur word.
“Die voordele van die verwydering van afleidings terwyl jy studeer, is byna onberekenbaar. Die meeste studente glo verkeerdelik dat hulle twee uitdagende take op dieselfde tyd kan verrig. Een metode om toegang tot digitale tegnologie te beheer, is om dit fisies te verwyder en voorsiening te maak vir periodes deur die dag wanneer dit gebruik kan word.”
Volgens Van Vlaanderen dui navorsing daarop dat kinders vir ongeveer 45 minute die doeltreffendste studeer. “Dit is belangrik dat daardie kosbare minute produktief en vry van afleidings is. Ruspouses kan dan gebruik word vir vinnige inhaal, maar ʼn relatief streng roetine moet nagekom word.”
Bron
ESET South Africa: https://www.eset.com/za/
Oops! We could not locate your form.