deur Marli Naidoo
Kersfees saam met familie is gewoonlik darem nie vervelig nie. Dit kan egter steeds lekker wees om dinge hierdie jaar ʼn bietjie anders te doen, en ʼn klompie speletjies saam te speel. Hierdie speletjies is vir kinders en volwassenes om te geniet.
Kersboomspeletjie
Deel almal op in spanne, en voorsien elke span van Kersversierings. Een persoon uit elke span staan soos ʼn Kersboom en word deur sy spanlede versier. Gee almal vyf minute om die taak te voltooi. Wanneer die tyd om is, kan almal stem oor watter “boom” die mooiste is.
Lekkergoedkieriespeletjie
Vir hierdie speletjie het jy eetstokkies, baie lekkergoed-kieries en ʼn houer nodig. Laat elke speler sy arms agter sy rug, en die eetstokkie in sy mond, hou. Hy moet dan probeer om ʼn kierie met die stokkie op te tel en in die houer te plaas. Die persoon wat die meeste kieries suksesvol kan verskuif, is die wenner. Almal kan die kieries hou wat hulle in die houer kon kry.
Kerskousbluf
Kry ʼn hele klompie Kerskouse. In party van hulle kan jy geld sit. Maak dit klein bedrae tussen R5 en R20. In die ander sit jy ʼn snaakse aksie wat uitgevoer moet word. Elke persoon kry dan ʼn kans om ʼn kous te kies. Oulike aksies wat in die kouse kan voorkom, is om jou mond vol malvalekkers te maak en dan Jingle Bells te sing; of ʼn Kershoed te moet dra vir die res van die dag; of ʼn lang glas gemmerbier binne 30 sekondes op te drink.
Jingle Bells-skud
Gebruik leë snesiebokse vir hierdie speletjie. Maak gate aan die kante van die boks sodat jy ʼn tou kan deurryg. Bind dan die boks op die speler se laer rug vas, met die oop gedeelte wat weg van sy rug af wys. Plaas 10 klokkies binne-in die boks. Speel ʼn lekker vinnige Kersliedjie terwyl die speler die klokkies, sonder die gebruik van sy hande, uit die boks probeer skud. Stop die musiek na ʼn minuut. Die wenner is die persoon wat die meeste klokkies kon uitskud.
Ornamente-raai
Elke persoon moet raai hoeveel ornamente daar aan die boom hang. Laat elke speler sy naam en sy raaiskoot op ʼn papiertjie neerskryf en aan die gasvrou oorhandig. Sy sal die papiertjies deurkyk en die wenner aankondig. Hy iets soos ʼn ornament of ʼn lekkerny wen
Dra die geskenke
Draai ʼn klomp bokse toe met geskenkpapier, en voeg ook sommer ʼn hoeveelheid geskenksakkies by wat koerantpapier in het. Elke persoon kry ʼn beurt om te sien hoeveel geskenke hy op een slag kan dra. Hy moet dan ook met al hierdie geskenke na die ander kant van die vertrek toe kan loop.
Kersvader se maag
Blaas ballonne op. Elke persoon plaas ʼn ballon onder sy hemp op sy maag. Almal probeer dan om hul eie ballon te bars deur daarop te druk. Die persoon wat laaste sy ballon bars, moet heeldag ʼn Kershoed dra.
Hierdie is maar ʼn paar idees. Met ʼn bietjie kreatiwiteit en verbeelding, kan jy self die perfekte speletjies vir jou en jou familie uitdink. Vier ʼn prettige Kersfees.
Bronne:
Party Games Plus: http://www.queen-of-theme-party-games.com/Christmas-party-game-ideas.html
Creative Star Learning: https://creativestarlearning.co.uk/early-years-outdoors/christmas-outdoor-activities/
Shutterfly: https://www.shutterfly.com/ideas/christmas-party-games/
Oops! We could not locate your form.