Deur dr. Eugene Brink
Jy dink daaraan om jou kind te bederf met ʼn troeteldier waarvoor hulle kan lief wees en tyd mee kan deurbring. Die byvoordeel is dat hulle verantwoordelikheid leer deur vir ʼn lewende wese te sorg.
Hoewel dit alles wonderlik klink, is dit raadsaam om eers vas te stel watter dier die beste sal wees. Dit is ook ʼn langtermynverpligting en die versorging van so ʼn dier sal uiteindelik waarskynlik op jou oorgaan.
Eerstens. . .
Daar is verskeie nuttige riglyne wat in gedagte gehou moet word as so ʼn groot besluit geneem word.
Die American Association of Pediatrics (AAP) beveel aan dat jy moet wag totdat jou kind groot genoeg is om ʼn troeteldier te hanteer ─ gewoonlik so om en by vyf of ses jaar. “Kleiner kinders vind dit moeilik om die dier van ʼn speelding te onderskei en hulle kan dalk onopsetlik deur tergery of hardhandigheid ʼn byt uitlok.”
As jou kind gereed is, moet jy seker maak dat jy die behoeftes van die bespreek en wat sy versorging behels. Boeke met prentjies en om eerstehands te kyk hoe vriende en familie ʼn troeteldier versorg, is goeie maniere om jou kind op te voed.
“Heel eerste moet die gesin na hul skedule kyk om seker te maak dat die troeteldier behoorlik versorg sal word en dat hulle in die dier se individuele behoeftes sal kan voorsien,” sê Pia Silvani, direkteur van die Amerikaanse dierebeskermingsvereniging (ASPCA) se gedragsrehabilitasiesentrum in Noord-Carolina.
Elke diertjie het sy plesiertjie
Honde
Honde is lewendig en pret om mee saam te wees maar hou in gedagte dat nie alle honde dieselfde is nie. “Elke hond is ʼn individu met ʼn unieke persoonlikheid. Of ʼn hond goed gemanierd is by kinders en babas het niks met die hond se ras te doen nie, dit gaan meer daarom of die hond reeds vroeg behoorlik met kinders gesosialiseer is,” sê Silvani.
En as jou gesin baie van die huis af weg is, is ʼn hond waarskynlik nie die beste keuse nie want hulle het daagliks baie versorging nodig. Klein hondjies moet huisgeleerd wees en het daaglikse oefening, inspuitings en baie liefde nodig. Dale Kiefer en Rena Goldman van Healthline.com sê labrador-retrievers, golden retievers, boksers en beagles is kindervriendelike honde. Boksers, Duitse herdershonde en miniatuur- Franse poedels kan meer onvoorspelbaar wees .
Katte
Katte is meer onafhanklik as ander diere. Desnieteenstaande het hulle ʼn mate van toewyding en versorging nodig, soos kos en skoonmaak van die sandboks. ʼn Kat is ʼn beter keuse as jou gesin ʼn klein lewensruimte het.
“Katte kan byt en krap as hulle nie sekere situasies geniet nie, en dit sal dus goed wees om jou kind ʼn kitskursus in ”kat-etiket” te gee. Leer hulle dat nie elke kat daarvan hou om vasgehou, getroetel of vasgedruk te word nie en dat dit hul giere is waarvoor so baie katliefhebbers lief word,” sê troeteldierdeskundige Amy Jamieson.
Konyne
“Konyne is aktief en sosiaal en hulle het baie stimulering nodig anders kan hulle verveeld en destruktief word. As jy van plan is dat jou konyn jou huis moet verken, sal jy deeglike konynwering moet aanbring want hulle hou daarvan om te kou,” sê Jamieson. ”Hulle het ʼn groterige kamp nodig om in te leef, deels omdat hulle groot kan word soos hulle ouer word.”
Knaagdiere
Kleiner soogdiere ─ soos hamsters, marmotjies en springhaasmuise ─ het redelik min versorging nodig en het net ʼn beperkte ruimte nodig om te gedy. Gereelde, sagte hantering is raadsaam omdat knaagdiere ─ veral hamsters ─ kan byt as hulle bedreig voel. Rotte is goeie troeteldiere vanweë hul intelligensie en genieting van menslike geselskap.
Akkedisse, voëls en visse
Akkedisse het min versorging nodig en is geskik vir gesinne met besige skedules. Voëls is sosiale en intelligente troeteldiere, maar sommige voëls soos papegaaie kan raserig en destruktief wees. Visse kan die beste eerste troeteldier vir jou kind wees. Jy sal egter verskeie toestelle soos ʼn tenk, belugters, filters ensovoorts nodig hê. Baie soorte moet gereeld kos kry.
Bronne
Amy Jamieson, 26 October 2018, “The 9 best pets for kids — and how to choose one”, https://www.care.com/c/stories/6050/best-pets-for-kids/.
Dale Kiefer and Rena Goldman, 2019, “8 best pets for kids”, https://www.healthline.com/health/best-pets-for-kids.
Healthychildren.org, 4 November 2019, “Tips for choosing the right pet for your family”, https://www.healthychildren.org/English/safety-prevention/at-home/Pages/Before-Choosing-a-Pet.aspx.
Foto krediet:
Oops! We could not locate your form.