My kind neul oor alles. Wat nou?

Vrydag, April 21st, 2017

Marli Naidoo

 

Elke ouer weet: ʼn kind se aanhoudende geneul kan jou tot raserny dryf. Die hoofrede waarom kinders geneig is om te neul, is omdat dit so ʼn suksesvolle metode is. Dit is egter nie ʼn doelbewuste strategie nie, maar ʼn aangeleerde gewoonte. As hy lank genoeg aanhou, gaan jy ingee en aan sy eise voldoen.

Daar is maniere om jou kind te help om hierdie gewoonte af te leer.

Wys dat jy bewus is van jou kind wanneer hy met jou wil praat. Indien jy besig is, of op die foon praat, wys hom dat jy hom sien en dat hy moet wag. Moenie jou kind onnodig ignoreer nie. Hy sal dan heel moontlik moet kerm en kla om jou aandag te kry.

Maak seker dat jou kind weet wat jy van hom verwag. Hy moet verstaan dat hy mooi moet vra en dan moet wag. Hy mag ook nie neul en kla as die antwoord nie die een is wat hy wil hoor nie.

Soms is straf nodig. Indien hy aanhou neul, kan jy hom vir ʼn rukkie in sy kamer laat sit. Hy gaan nie kry waarvoor hy gevra het net omdat hy aanhou kla nie. Jou nee moet jou nee wees, en moenie net dreig dat jy hom gaan straf nie. Voer die beplande straf deur as hy aanhou neul.

Kinders weet soms nie hoe om hulle frustrasies en behoeftes effektief te kommunikeer nie, wat ook ʼn geneul  tot gevolg kan hê. Sorg dat jou kind die stimulasie kry wat hy nodig het deur oefening en ander aktiwiteite, en moenie dat hy rasend honger word voordat jy hom iets gee om te eet nie. ʼn Geneul kan baiekeer heeltemal voorkom word deur sensitief te wees vir jou kind se behoeftes.

Sorg dat jou kind genoeg slaap kry. ʼn Kind wat moeg is, is ook geneig om te kla en ongelukkig te wees. Selfs al moet jy jou skedule aanpas, sal dit tot sy voordeel wees om al die slaap te kry wat hy nodig het.

Bly kalm. Om jou kind te verskree totdat hy nie meer neul nie, is nie ʼn oplossing nie. Hy sal dan sku wees om sy behoeftes aan jou bekend te maak.

Minder lekkergoed. Suiker kan verslawend vir kinders wees, en wanneer die suiker uitgewerk is, sal die geneul vir nog begin. Bly weg van te veel sap, lekkers en geprosesseerde kosse.

Wanneer jou kind iets wil hê maar hy vra jou in ʼn neulerige stem, kan jy aan hom verduidelik hoe om dit beter te doen. Gebruik die presiese woorde en stemtoon wat hy dan kan gebruik as alternatief.

Wees buigsaam. Laat hom vyf minute langer speel voordat julle ry, of lees maar nog een keer die boekie voordat jy die lig afsit. Dit sal hom leer hoe om te redeneer en dan ʼn kompromie te maak, wat doeltreffender is as om te kerm en te kla.

Soms het jou kind ʼn bietjie ekstra tyd met jou nodig. Neem tyd en doen iets saam. Bak ʼn koek of skop ʼn bal in die tuin rond. Fokus net op hom, sodat hy weet hy is belangrik vir jou.

Indien jy al hierdie metodes probeer het en jou kind steeds geneig is om te neul, kan jy probeer om hom te ignoreer totdat hy ophou kerm, en dan mooi vra. Maak seker dat jou kind oud genoeg is en goed verstaan waarom jy hom ignoreer.

Moenie oornagsukses verwag nie. Gee hom tyd om die nuwe metodes aan te leer. Moenie opgee nie, en wees konsekwent. Onthou die doel: om jou kind te help om die beste te wees wat hy moontlik kan wees. Van die tyd wat jy daarin belê, is elke minuut die moeite werd.

 

Bronne

Super nanny, 2017, “Win over the whiner – how to stop your child whining”, https://www.supernanny.co.uk/Advice/-/Parenting-Skills/-/Discipline-and-Reward/Putting-A-Stop-To-Whining.aspx.

Constance Matthiessen, 2012, “Why kids whine and how to stop them”, WebMD, http://www.webmd.com/parenting/guide/why-kids-whine-and-how-to-stop-them.

Debby Waldman, 2004, “How to stop your child’s whining”, Parents, http://www.parents.com/toddlers-preschoolers/development/behavioral/stop-childs-whining/.

  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Is die afskaf van huiswerk ʼn goeie ding?
Anja van den Berg   ʼn Handjievol laerskole in Suid-Afrika het die omstrede besluit geneem om huiswerk af te skaf. Daardie skole se ouers slaak dikwels ʼn sug van verligting, maar is terselfdertyd besorg oor hul kinders se akademiese vordering. Huiswerk is al geslagte lank een van die hoekstene van skoolonderrig, maar dit raak al […]
Wil jy suksesvolle kinders grootmaak? Doen dan elke dag dié 7 goed
Bill Murphy Jr.   “Ons is wat ons herhaaldelik doen,” sê Aristoteles. “Uitnemendheid is nie ʼn daad nie, maar ʼn gewoonte.” Dit geld vir ons en ons kinders. Ryk ouers gee hulle kinders ʼn reusevoordeel bloot deur hulle in ʼn bevoorregte buurt groot te maak. Nie almal hou van dié idee nie. Party mense sal […]
My kind is altyd laat
Marli Naidoo   Hoekom moet ons so sukkel om ons kinders betyds by die skool te kry? Elke oggend is ʼn uitputtende gedoente van aanpor en frustrasie. Ongelukkig is dit nie ʼn probleem wat met ʼn vyfstapplan uit die weg geruim kan word nie. Kinders se aandag is van nature hoogs afleibaar, en die ontwikkeling […]
1 2 3 102