Deur dr. Eugene Brink
In my kinderjare was daar net ʼn paar buitekurrikulêre aktiwiteite waaraan kinders kon deelneem. Die res van die tyd is gespeel en selfs TV-kyk was ʼn luukse.
Vandag is daar ʼn hele tuisnywerheid van gespesialiseerde aktiwiteite (plus ʼn menigte TV-keuses) om vir alle behoeftes en smake voorsiening te maak. Kinders het so baie om uit te kies en tog staan hulle voor dieselfde uitdagings as enigiemand anders: ʼn skaarste aan tyd en energie. Buitendien, kinders moet kinders wees en sommer net ongestruktureerd speel en ook hul huiswerk doen.
Dit is grootmoedig om kinders toe te laat om ʼn reeks aktiwiteite op die proef te stel en te kyk waarvan hulle hou, maar te veel kan lei tot uitbranding en ʼn gebrek aan fokus. “Wat die rede ook al is, ʼn kind se uitgebreide lys buitekurrikilêre aktiwiteite is skynbaar ʼn ereteken onder middelklasouers. En gesinne wat dit nie kan bekostig nie verknies hulle daaraan dat hul kinders agterraak,” skryf Sheila Wayman in The Irish Times.
Tekens van te veel aktiwiteite
Kate Chandler, ʼn bydraer by Kidspot and mom, gee ʼn lys van waarskuwingstekens dat kinders eenvoudig ooreis is ten opsigte van die getal aktiwiteite waarby hulle betrokke is:
Bepaal die hoeveelheid
“Daar is waarskynlik ʼn dun skeidslyn tussen die verkryging van ʼn mooi balans van musiek/kuns/sport-aktiwiteite en die ‘oorskedulering’ van ons kinders tot op die punt van uitputting,” sê dr. Moira Kennedy, ʼn opvoedkundige sielkundige en direkteur van die Children’s Clinic in Dublin. “As ʼn sielkundige is my raad om bietjie stil te staan en na jou kind se weekslikse skedule te kyk en na die lewensgehalte van die hele gesin.”
Sy raai ouers aan om seker te maak dat hul kinders se aktiwiteite hulle nie verhinder om genoeg slaap te kry nie, nie die gesin se etenstye deurmekaarkrap nie of hulle almal ontneem van ongestruktureerde speeltyd en gesinstyd nie. “As ʼn kind gedruk word om voort te gaan met ʼn aktiwiteit waarvan hy nie hou nie, kan dit teenproduktief wees,” sê sy, en voeg by dat om iets nie klaar te maak nie ʼn nuwe geleentheid kan wees om te probeer om iets nuut en opwindend te doen.
Sy sê as ʼn rowwe riglyn is ʼn totaal van een aktiwiteit per dag of twee buitekurrikulêre aktiwiteite nie te veel nie.
Corrina Vangewen, ouerdeskundige by Today’s Parent, stem saam en sê faktore soos lewensgehalte, belangstelling en beplanning behoort die prioriteite te wees. “Om uit te vind wat jou kind se belangstellings is, is ʼn lukraakbesigheid. En as daardie belangstellings verander, is dit reg so.”
Christina Rinaldi, ʼn geregistreerde sielkundige en ʼn professor in opvoedkundige en kliniese kindersielkunde by die Universiteit van Alberta in Kanada, sê ten opsigte van koste en tyd is dit nóg prakties nóg nodig om ʼn kind alles te laat doen om hom vir elke gebeurlikheid in die lewe voor te berei. Kinders leer baie by die skool, by die huis en gedurende tyd saam met vriende. “Dit hoef nie altyd op ʼn geformaliseerde buitekurrikulêre platform te wees nie.”
Bronne
Corrina Vangerwen, 14 Augustus 2019, “Extracurriculars: How many is too many?”, https://www.todaysparent.com/kids/school-age/tips-for-deciding-how-many-extracurricular-activities/.
Kate Chandler, 3 Julie 2014, “How many extra-curricular activities should kids do?”, https://www.kidspot.com.au/parenting/primary-school/how-many-extracurricular-activities-should-kids-do/news-story/766e3ddfe2d4318c096a48ed169884c3.
Sheila Wayman, 4 September 2017, “How many after-school activities should a child do?”, https://www.irishtimes.com/life-and-style/health-family/parenting/how-many-after-school-activities-should-a-child-do-1.3198073.
Oops! We could not locate your form.