Deur Melodie Veldhuizen
Of ’n mens ’n gelowige is of nie, een ding is seker – almal van ons gaan eendag sterf. Die dood is nie ’n onderwerp waaroor enigeen graag praat nie, veral nie die dood van ’n huweliksmaat nie. ’n Mens dink soms vlietend daaraan, veral wanneer jy ’n nuusberig lees of verneem van die afsterwe van vriende of familie. Maar het jy en jou huweliksmaat al met mekaar oor die netelige saak gesels? Oor wat word van my geliefde wanneer ek sterf? Sal sy goed versorg wees? Of oor my wense wanneer ek nie vir myself kan besluit nie?
Waarom huiwer huweliksmaats om hierdie saak te bespreek?
Daar kan verskeie redes wees.
Wanneer is die mees aangewese tyd om met mekaar oor hierdie onderwerp te gesels?
Dis nie slegs bejaardes wat sterf nie en nie alle mense sterf ná ʼn lang siekbed nie. Die dood kom dikwels onverwags in die gedaante van ʼn motorongeluk, ʼn moord, selfdood, verdrinking, ʼn hartaanval, of selfs weens nalatigheid. En dit tref jonk en oud. Daarom is die mees aangewese tyd eintlik maar so gou moontlik. Moet verkieslik nie wag tot een van julle reeds op die sterfbed lê nie. Dit kan wees dat een van die huweliksmaats lankal reeds die behoefte het om daaroor te gesels, maar wonder hoe om die saak aan te roer.
Hoe begin ʼn mens so ʼn gesprek?
Die sleutel tot die bespreking van hierdie netelige onderwerp is om die onbekende/onvermydelike om te skakel na ʼn beheerde bekende. Die vrees vir die onbekende en om nie in beheer te wees nie, is genoegsame rede om hierdie saak te bespreek. Sodoende word onsekerheid oor baie sake uit die weg geruim en kan albei van julle voel dat julle ten minste tot ʼn mate in beheer is.
Vorster Combrink, ’n berader by ABBO, stel dit soos volg: “Kommunikasie kom uit die hart (denke oor jouself, jou maat, God, die lewe, die lewe na die dood, ensovoorts). As ons denke gevorm en vernuwe word deur die Heilige Gees met die Woord, behoort daar nie huiwering te wees om hierdie saak te bespreek nie. Indien een of albei die huweliksmaats die Here persoonlik ken, sal die Heilige Gees hulle hierin lei met nugterheid, openhartigheid en wysheid.”
Die persoon wat die saak graag wil aanroer, kan begin by ʼn ‘kopgesprek’. Met hierdie nadenke oor die saak, klaar jy eers vir jouself uit presies wat vir jou swaar op die hart lê, wat jy wil bespreek en ook wat jou mening en selfs jou wense is.
Die ideaal is om eers in die algemeen oor die onverwagsheid van die dood te praat, met as aanknopingspunt ’n nuusberig oor iemand wat oorlede is, of die tyding van ʼn vriend of familielid se afsterwe. Noem terloops dat jy wonder hoe die geliefde wat agterbly voel, en of hulle ooit met mekaar oor die dood gepraat het, of gewonder het hoe die een sonder die ander sal aangaan met sy/haar lewe. Vra jou huweliksmaat se mening hieroor. Indien jy besef dat hy/sy nie gereed is om oor die dood te gesels nie, moenie aandring op ʼn in-dieptebespreking nie. Maar vra of jou geliefde sal luister as jy jou gedagtes met hom/haar deel. So saai jy die saad wat hom/haar moontlik ook tot nadenke sal stem. Verseker hom/haar dat jy sal luister wanneer hy/sy gereed is om te gesels.
Waaroor behoort ons te gesels?
Daar is verskeie sake waaroor huweliksmaats behoort te gesels om wedersydse gemoedsrus te verseker. Dis nie noodsaaklik om tydens die eerste gesprek reeds al hierdie onderwerpe aan te raak nie. Dit is emosioneel uitmergelend, daarom sal dit wenslik wees om verskeie opeenvolgende gesprekke hieroor te voer. Probeer die gesprekke so informeel moontlik hou, in ’n gesellige omgewing waar julle albei op jul gemak voel. Hoe meer kere ʼn mens daaroor gesels, hoe makliker behoort dit op emosionele vlak te raak.
Hiermee ’n paar onderwerpe wat aangeraak behoort te word. Dit kan aangevul word en sal ook verskil na gelang van jul persoonlike omstandighede en behoeftes.
Dis noodsaaklik dat jy aandagtig sal luister na wat jou geliefde vir jou sê, sensitief sal wees vir emosionele konteks, nie neerhalend of ongeërg sal wees nie en begrip te hê vir sy/haar gevoelens en wense, selfs al is jy self nog nie gereed om te praat nie.
Hoe gereeld behoort ons te gesels sonder dat enigeen van ons morbied raak?
Dit sal afhang van jul persoonlike behoeftes en situasie.
Vorster stel dit tereg soos volg: “Indien die onderwerp vanuit ʼn ware geloof in Jesus Christus en uit omgee vir mekaar bespreek word, behoort daar nie morbiditeit te wees nie. Indien dit wel voorkom, is dit ʼn geleentheid om die valse wortel daarvan te ontbloot en aan te spreek.”
Lees ook die volgende artikels:
It’s OK to Die. https://www.oktodie.com/preparation-checklists/3-resources/4-planning-your-death
It’s OK to Diehttps://www.oktodie.com/pdf/deathofalovedone1227.pdf
Solidariteit. https://welstand.solidariteit.co.za/hoe-om-n-gesprek-met-n-sterwende-persoon-te-voer/
Solidariteit. https://welstand.solidariteit.co.za/lewende-testament-belangrike-besluite-oor-jou-lewe-terwyl-jy-nog-kan/
Bronne:
Dying Matters. https://www.dyingmatters.org/page/TalkingAboutDeathDying
Vorster Combrink. Hoof: Beradingsdienste (ABBO). vorster@abbo.org.za; www.abbo.org.za
Foto krediet: Sven Mieke | Unsplash
Oops! We could not locate your form.