Deur Nico Strydom
Vakansie is veronderstel om ʼn tyd van rustigheid en ontspanning te wees maar met families en skoonfamilies wat dikwels almal saam gaan uitspan, kan daar moontlik konflik voorkom.
Die konflik kan tydens die vakansie voorkom, of almal het eerder net stilgebly ten einde die vrede te probeer bewaar en dan besef jy na die vakansie dat almal nie om dieselfde vuur sit nie. Familievakansies kan weens konflik maklik in ʼn tydperk van stres en spanning ontaard.
Daar is verskeie dinge wat tot konflik kan lei tydens ‘n familievakansie. Almal woon moontlik saam onder een dak en dus is daar ʼn gebrek aan privaatheid en almal kan nie noodwendig met hul daaglikse roetine voortgaan soos hulle tuis sou doen nie. Dit kan veroorsaak dat familielede geïrriteerd raak met mekaar en dit kan weer tot konflik lei. Daar was dalk reeds konflik tussen sekere familielede weens ʼn vorige gebeurtenis en dié is dalk nou die laaste strooi.
Wanneer families bymekaar is, kan sommige lede meen dit is nou die regte tyd om oor goed te gesels wat in die verlede gebeur het, wat dan weer ou wonde oopkrap, en dit kan tot konflik lei. Kinders en hoe hulle grootgemaak word of hulle optrede kan dikwels ook tot meningsverskille en spanning lei.
Die vraag is dus of konflik reeds tydens die vakansie hanteer moet word of moet daar gewag word totdat almal terug is by die huis en sal die partye wat konflik het dit dan onder mekaar uitsorteer? Dit hang af van die situasie. Indien dit moontlik is om die familielid eenkant te kry en met hulle te gesels sonder dat dit almal anders gaan beïnvloed, kan dit goed wees om sommer onmiddellik die dinge wat pla uit die weg te probeer ruim.
Indien dit nie moontlik is om die konflik maklik en vinnig op te los nie, is dit dalk beter om net eers daarvan te probeer vergeet en te vergeef. Die persone wat konflik ervaar het, kan dan wanneer almal weer tuis is ʼn afspraak met mekaar maak en probeer om tot ʼn vergelyk te kom.
Dit kan ook help as almal begrip het dat familievakansies maklik tot konflik kan lei en dat almal dus versigtiger met mekaar te werk moet gaan ten einde te verseker dat almal steeds ʼn goeie tyd het en kan uitrus. Dit is nodig om tydens ʼn familievakansie aanpasbaar te wees en ander in ag te neem aangesien ʼn klomp mense met verskillende sienswyses en menings skielik onder een dak is en baie tyd saam deurbring. Wanneer dinge te veel raak, is daar niks fout daarmee om ook tydens die vakansie soms tyd weg van mekaar te spandeer waar elkeen met hul eie dinge voortgaan nie.
Konflik tydens ʼn familievakansie is soms onvermydelik maar daar is baie dinge wat gedoen kan word om te verseker dat dit nie almal se vakansie bederf nie. Dit is soms nodig om verwagtinge te bestuur, persoonlike grense te stel en ander se behoeftes in ag te neem.
Bronne
Oscar: https://www.hioscar.com/blog/10-healthy-ways-to-deal-with-holiday-family-drama
Huffpost: https://www.huffpost.com/entry/common-family-holiday-arguments_l_5de830c9e4b00149f73aefca
VerywellMind: https://www.verywellmind.com/how-to-handle-unresolved-conflict-in-your-family-3144978
Focus on the Family: https://www.focusonthefamily.com/parenting/handling-holiday-conflict/
Oops! We could not locate your form.