Deur Emsie Martin
Dis vir enige diereliefhebber sleg om ʼn vakansie te beplan en jy weet jou geliefde troeteldier kan nie saamgaan nie. En dan, wanneer die vakansie aanbreek, kyk hulle jou aan met sulke groot hartseer oë asof hulle weet jy gaan hulle alleen los. Begin sommer nou al ʼn troeteldieroppasser soek vir jou volgende vakansie, dan kan jou troeteldier in die gemak van sy eie huis bly en jy kan met ʼn geruste hart vakansie hou.
Daar is verskillende opsies
- Tradisionele opsies sluit ʼn hondeherberg of huisoppasser in. Dis uiters belangrik dat jy die persoon moet vertrou in wie se sorg jy jou hond gaan los.
- Doen jou huiswerk oor dierehotelle of -herberge. Lees aanlyn resensies (kyk waaroor het mense gekla) en besoek die plek om seker te maak jou hond sal genoeg kos, ruimte vir hardloop en ʼn warm slaapplek hê.
- Bespreek spesiale behoeftes met die eienaar van die plek, veral as jou hond van baie interaksie hou, ʼn afgesonderde gebied nodig het of spesiale kos eet. Maak seker jy lees die fyn skrif.
- Sommige troeteldieroppassers bied inwonende en/of oornagdienste. Inwonende versorging gedurende die dag is egter beperk en minder algemeen omdat die meeste oppassers ook na ander diere kyk of kliënte het wie se diere hulle daagliks vir ʼn stappie vat.
- Daar is ook dagstappers wat bedags met jou hond gaan stap; maak net seker hulle weet hoe om jou hond te hanteer en waar daar gestap word.
Vakansieoppasdienste
Indien ʼn troeteldieroppasser hierdie diens aanbied, beteken dit dat hulle beskikbaar is om na jou troeteldier te kyk terwyl jy weg is met vakansie. Gedurende hierdie tyd sal die oppasser jou huis gewoonlik op geskeduleerde tye besoek. Tydens die onderhoud moet jy jou behoeftes en wense bespreek en julle moet saam besluit hoe gereeld die kuiertjies moet plaasvind. Die meeste kliënte verkies een kuiertjie per dag, of twee maal per dag vir katte. Soms is jy gelukkig om ʼn diereliefhebber te kry wat inwoon vir die tyd wat jy weg is.
Is dit veilig om ʼn vreemdeling in my huis te hê?
Dit kan nogal senutergend wees om vir die eerste keer ʼn troeteldieroppasser in jou huis te hê. Hier is ʼn paar wenke om jou te help om ʼn betroubare oppasser te kry wat ʼn goeie verhouding met jou familie sal bou.
- Vra verwysings en maak eers ʼn paar oproepe om by vorige gesinne te hoor of hulle tevrede was met die versorging wat hul diere gekry het.
- Gesels met veeartse, versorgers, troeteldierwinkels en troeteldierbesighede in ander areas om meer uit te vind oor die oppasser se reputasie.
- Maak seker dat jy heeltemal verstaan hoe die diensgeld werk en watter dienste alles by die kwotasie ingesluit is.
Ander faktore wat in gedagte gehou moet word
- Ken die oppasser noodhulp vir diere?
- Het die oppasser jou veearts se nommer?
- Het die oppasser tydens die onderhoud baie vrae gevra en die antwoorde neergeskryf?
- Het die oppasser ʼn plaasvervanger of ʼn alternatiewe plan in geval van ʼn persoonlike noodgeval?
- Is dit ʼn voltydse oppasser, of is sy of haar tyd beperk a.g.v. ander werk of studies?
- Praat die oppasser positief oor ander oppassers in die omgewing?
- Sal dieselfde oppasser die heeltyd na jou huis en diere kyk?
- Mag die oppasser iemand saambring na jou huis toe?
- Bring die oppasser ooit enige kinders saam tydens besoeke?
- Hoe gereeld sal die oppasser jou op die hoogte hou van wat by die huis aangaan?
- Pas die oppasser se beskikbare tye by dié van jou troeteldier se behoeftes?
- Hoe sal jou huissleutel gebêre of teruggegee word?
- Het die oppasser al voorheen na ʼn troeteldier soortgelyk aan joune gekyk?
Diere is soos kinders in jou huis; maak seker jy laat hulle nie onversorg wanneer jy met vakansie gaan nie.
Bronne
https://pethero.co.za/af/troeteldieroppasser-hoe-vind-ek-die-regte-een/
https://www.care.com/c/stories/6276/how-should-you-care-for-your-pet-during-the-h/