Deur Marli Naidoo
ʼn Kommerwekkende aantal Suid-Afrikaners het nie toegang tot skoon drinkwater nie. Dit geld nie net vir mense wat onder die broodlyn leef nie. Meer en meer mense gebruik watersuiweringstelsels in hulle huise of koop al hulle drinkwater.
Talle dorpe en dele van stede is gereeld sonder water, en gereelde droogtes oor groot dele van die land veroorsaak dat krane opdroog. Die idee dat huishoudings onafhanklik hulle eie water kan bekom, suiwer en berg, word al hoe aanlokliker en noodsaakliker. Daar is verskillende maniere om dit te doen.
Boorgate is algemeen, en kan 8-10 jaar hou. Die enigste nadeel is dat dit duur is om op te stel en hoe dieper daar geboor moet word, hoe duurder word dit. Jy moet ʼn pomp installeer om jou water uit te pomp. Dit kan met sonenergie of elektrisiteit werk, of jy kan ʼn goedkoper, tradisionele handpomp of ʼn lieflike tradisionele windpomp gebruik. Jou laaste uitgawe is jou bergingseenheid. Jy sal pype na en van jou watertenk moet aanlê en die nodige leiding na jou krane moet installeer.
ʼn Veel goedkoper manier om water te kry, is deur reënwater op te vang en in ʼn watertenk te berg. ʼn Eenvoudige stelsel waar alle water wat op jou dak val opgevang word, kan goed werk. Jy sal hierdie water daarna suiwer. Ongelukkig is hierdie metode slegs effektief wanneer daar nie ʼn droogte heers nie.
Natuurlik fonteine is net wonderlik. Die water kos jou niks, en met ʼn eenvoudige pypstelsel kan jy die water tot by jou huis lei. Een van die enigste probleme is dat natuurlike fonteine skaars is en die grond waarop hulle voorkom is baie gesog en duur. Hulle kan ook tydelik opdroog as daar ʼn droogte in die gebied voorkom.
Off Grid DIY het dit egter ʼn stap verder geneem vir ʼn goedkoop oplossing tydens ʼn waterkrisis. Hulle het ʼn stelsel ontwerp waar jy 5-10 liter vars water per dag kan kry deur seewater te ontsout. Dit word bewerkstellig deur seewater met sonkrag te kook en die stoom dan te kondenseer. Jy het ʼn plat sonpaneel en houer nodig. Die houer moet gevul word met soutwater, en hierdie water word verhit. Die drinkwater moet opgevang en geberg of direk gebruik word. Hulle webtuiste verken verskillende maniere om hierdie eenvoudige stelsel self op te stel.
Water is skaars, en sommige mense ervaar die krisis meer direk en verwoestend as ander. Indien jy enigsins kan, sal dit tot jou en jou gesin se voordeel strek om nou reeds ʼn onafhanklike waterstelsel op te stel.
Foto krediet: Vivint Solar | Pexels
Oops! We could not locate your form.