Deur Nico Strydom
Wanneer ʼn kind graad 1 betree moet daar reeds begin word om die grondslae vir toekomstige akademiese sukses te lê en die fokus moet daarop wees om ʼn liefde vir leer te kweek.
“Ouers het in die vroeë jare ʼn belangrike rol om te speel ten opsigte van die ontwikkeling van die raamwerk vir ʼn kind se opvoedkundige reis,” sê Desiree Hugo, akademiese hoof van ADvTECH se skole-afdeling.
“Een van die belangrikste maniere waarop dit gedoen kan word, is om jou kind te help om die vroeë jare met humor en entoesiasme te navigeer, om te verseker dat die proses van leer en ontdekking positiewe assosiasies in die brein skep eerder as gevoelens van angs en moedeloosheid.”
Deur van die begin af speelse naskoolse huisroetines te verskaf, kan kinders regdeur hul skoolloopbaan groei en floreer, meen Hugo. “Terwyl daar min tot geen huiswerk in die vroeë jare is nie, kan daar elke dag tyd opsy gesit word om op die dag se aktiwiteite te fokus deur byvoorbeeld te praat oor wat die betrokke dag by die skool gedoen is en saam te lees. Dit sal jong kinders help om in ʼn natuurlike roetine te kom waar daar voortgebou word op wat hulle geleer het.” Kinders sal leer met bemagtiging begin assosieer wanneer dit ʼn prettige en genotvolle ervaring en ʼn positiewe gesinsinteraksie gemaak word.
Benewens die instelling van ʼn daaglikse roetine moet ouers ook hul kinders help om die vaardighede te ontwikkel wat later in hul skoolloopbaan van hulle vereis sal word. “Kinders het ʼn gesonde dieet, genoeg slaap en oefening nodig. Ongesonde gewoontes en roetines kan manifesteer in ʼn kind se algemene ingesteldheid en akademiese betrokkenheid.”
Help jou kind om ʼn balans te hou en dinge in konteks te plaas. “Soms kan klein dingetjies wat skeefloop ʼn groot impak hê, veral op sensitiewe kinders, so jong kinders moet verstaan dat net omdat hulle iets nog nie bemeester het nie, dit nie beteken dat hulle nie kan nie.”
Dit is normaal vir ouers om soms ʼn bietjie mededingend te voel en hul kind se vordering met ander te vergelyk. Hugo meen egter hierdie instink moet in toom gehou word. “Kinders kan baie vinnig aanvoel of ouers dink dat hulle nie die mas opkom teen hul maats nie en dit kan ʼn afwaartse spiraal begin in terme van motivering en geloof in hulself. Om ʼn vaardigheid te bemeester kan baie pogings verg en ouers moet hul kinders die tyd en ruimte gee om dit te doen.”
Indien jy sien dat jou kind sukkel, kan dit die moeite werd wees om met hul onderwyser of ʼn berader te praat om te bepaal of hulle dalk ʼn unieke leerstyl of spesiale behoeftes het wat bykomende ondersteuning vereis. “Daar is baie verskillende benaderings tot leer en om dié te vind wat vir jou kind werk, sal wondere verrig op hul leerreis.”
Bron
ADvTECH: https://www.advtech.co.za/
Foto krediet: Annie Spratt | Unsplash
Oops! We could not locate your form.