Deur Wilma Bedford
Jou kind mag jou moeg maak met die hoekom-vraag, gevolg deur verdere in-diepte hoe-vrae en soos jou kind se nuuskierigheid en kreatiewe denke ontwikkel, kom die wat as-vraag by. Jou kind probeer sin maak van sy omgewing; deur die regte vrae te vra bekom hy die regte inligting oor hoe dinge werk en hoe om die wêreld te hanteer. ʼn Kind se speelpatroon is ook geskoei op wat as ek dit doen, wat sal gebeur en hoe gaan ek dit doen? En dit is die patroon waarop ingewikkelde navrae, soeke na kennis van die wêreld en innoverende ontwikkeling gebou word.
Dieselfde beginsel is ook van toepassing op kreatiewe denke; deur die regte vrae te vra kom jy by goed uit wat jy nie gedink het moontlik is nie. Met volwassenheid verleer ons hoe om vrae te vra en aanvaar dat dit wat ons as kind geleer het die onveranderbare norm is en lastige, indringende vra word nie aangemoedig in die skool of die werksplek nie.
Hierdie vrae is egter kritiek vir leer, innovasie en sukses en kan besigheidsgeleenthede oopmaak, of besighede herstruktureer en selfs positiewe verandering in jou beroep, besigheid en persoonlike lewe meebring.
Deur aan probleemoplossing in ʼn meer gestruktureerde manier te dink kan ons benadering tot die probleem asook ons denke verander en ons kan vrae aanpas, afhangende van in watter stadium van die ondersoek of probleemoplossing ons is.
Kreatiewe denke begin met ʼn goeie hoekom-vraag, want ʼn hoekom-vraag soek na feite en waarheid en begrip. Hoekom is dinge soos dit is? Hoekom glo ons wat ons glo? Hoekom kan hier nie verandering kom nie? Jy mag ʼn briljante idee hê vir ʼn nuwe produk of ʼn nuwe manier van dinge doen in jou besigheid maar dit bly raadsaam om te weet hoekom dinge tans so is en so gedoen word. Is daar ʼn soliede basis en goeie rede waarop jy veranderinge kan aanbring of nuwe denke kan inbring?
Die hoekom-vraag bepaal of die huidige manier van doen dalk verkeerd of oneffektief is. Hoekom ry ons elke dag dieselfde pad? Die verduideliking kan lei tot ʼn legitieme oorreding of tot die gevolgtrekking dat dit blote gewoonte is en dit sal bepaal of verandering nodig is of nie. Die hoekom-vraag verhoed dat ons outomaties dink, forseer ons om terug te staan van dit wat ons dink ons weet, en bring ʼn nuwe perspektief ook aan ander wat dink hulle het die antwoord. Hoekom is penetrerend en laat jou verby algemeen aanvaarde norme ondersoek instel en forseer ʼn nuwe perspektief op ʼn saak.
Die tweede vraag is Wat As? en die vraag lei na nuwe uitkomste. Hoekom verkoop my produk nie na wense nie? Wat as ek ʼn verandering aan die verpakking van die produk maak? Hierdie is die kritieke stadium vir innoverende en inspirerende denke, waar alles moontlik is. Die wat as-vraag laat ons toe om vrylik te dink en die verbeelding vrye teuels te gee. Die vraag laat jou ook toe om moontlikhede vanuit verskillende dissiplines te kombineer. So het Air B&B tot stand gekom: ʼn aanlyn reisbesprekingsagentskap, sosiale media en B&B, en Uber kan ook hierby ingesluit word. Apple se iPhone is ʼn perfekte voorbeeld van ʼn samevoeging van nuwe funksies en eienskappe in ʼn hibriede produk. Netflix het begin as ʼn videoverhuringsbesigheid. Sodra die kruisverbinding gemaak is tussen die onwaarskynlikhede, word die waarskynlike en moontlike duidelik en voor die handliggend.
Die hoekom- en wat-vrae laat jou toe om ou idees met nuwes en onverwante idees te kombineer. Baie innoverende en kreatiewe denke kom tot stand deur die samevoeging van perspektiewe, bestaande idees en mislukkings.
Na hierdie vrae kom die Hoe-vraag waarin die realiteit getoets moet word. Jou eerste reaksie mag negatief wees (dit sal nooit moontlik wees nie) en is gebaseer op die feit dat jy dadelik ʼn perfekte uitkoms vir jou idee wil hê. Dit lei tot stagnasie en self-sabotasie. ʼn Manier om die probleem te omseil is om die idee so gou as moontlik tot uitvoering te bring en terugvoer op jou plan te vra. Vrees vir mislukking kan ʼn goeie innoverende idee vir ewig in die wiele ry. Om Keynes (1883-1946), die Britse ekonoom wie se idees die beginsels van makro-ekonomie verander het, aan te haal: Die wêreld leer ons dit is beter om konvensioneel te misluk as om onkonvensioneel suksesvol te wees.
Indien jou idee misluk, vra weer hoekom, wat as en hou aan kreatief wees.
Bronne:
How Do People Get New Ideas? Farnam Street
https://fs.blog/2014/11/how-do-people-get-new-ideas/
Einstein on The Essential Feature of Productive Thought
Farnam Street
https://fs.blog/2014/04/einstein-productive-thought-combinatory-creativity/
Warren Berger’s Three-Part Method for More Creativity
Farnam Street
https://fs.blog/2016/06/warren-berger-system-questioning/
Oops! We could not locate your form.