Deur Essie Bester
Dis belangrik dat kinders leer om die natuur en alle vorms van lewe te respekteer sodra hulle begin bewus word van die wêreld rondom hulle. Só leer hulle respek vir hulleself en vir ander mense. Dis ook die wyse waarop ’n beter toekoms vir almal verseker kan word. Die aarde is immers die enigste planeet in die sonnestelsel wat lewe bevat – daar is nêrens anders om na weg te hardloop nie!
Omdat kinders ons toekomstige planeetbestuurders is, is dit nodig om hulle opgewonde oor die omgewing te maak, sê Mark Tennant, safari-gids, TV-aanbieder en natuurkenner. “Dis veels te laat om te wag tot ’n kind skoolgaande ouderdom bereik voordat jy hom meer oor die natuur wil leer. Dan is hy reeds in sy gewoontes gevestig en gaan jy sukkel om ’n passie vir die natuur by hom te kweek.”
Kinders kan al op ’n baie jong ouderdom aan die natuur blootgestel word deur in jou tuin na plante en insekte te kyk. “Die heel belangrikste wat ’n mens vir ’n kind moet leer, is om respek vir alle lewende wesens te hê, hoe klein ook al,” sê Mark. Dis noodsaaklik aangesien statistieke toon dat 98% van die spesies wat ooit op ons planeet bestaan het, reeds uitgewis is. Boonop toon ’n onlangse Living Planet-verslag dat wilde diere se getalle steeds dramaties aan die afneem is.
Marlice van Vuuren van die gewilde kykNET-program, Groen: Namibië, sê dis nodig dat ons ons kinders leer om vir die natuur en diere om te gee deur goeie voorbeelde en ondervinding. Marlice, ’n bekende kampvegter vir bewaring, se twee kinders is net so passievol soos sy oor diere en die natuur. Jy moet jou kind nie net leer om die natuur te omhels nie, maar ook om eendag ’n volwassene te wees wat die omgewing respekteer omdat hy verstaan wat op die spel is, sê sy.
Doen dit só:
- Stel jy die voorbeeld. Kinders is na-apers wat alles wat jy sê en doen navolg. Tel die rommel in jou omgewing op en leer só jou kind om dit nie te strooi nie. Leer hom om ook nie met water of elektrisiteit te mors nie. Mettertyd sal dit ’n lewenswyse word. Melize van der Walt van Mokopane sê: “Ek wys vir my kinders diere wat doodgaan of seerkry as gevolg van besoedeling sodat hulle die erns daarvan kan besef.” En dis ongetwyfeld ernstig – een van die drywende hope plastiek in die see genaamd The North Pacific Garbage Patch is immers al twee keer die grootte van Texas, VSA.
- Bou ’n voëlhuisie of -voerder van leë tweeliter-koeldrankbottels. Op dié wyse leer jou kinders dat bykans alles ’n hergebruikwaarde het.
- Gee ook oortollige items, fietse, meubels en klere vir iemand wat dit kan gebruik in stede daarvan om dit weg te gooi.
- Kies om te stap in plaas daarvan om te ry indien dit enigsins moontlik is en bestry so klimaatsverandering.
- Moedig jou kleuter aan om buite te speel. Daar kan hy met sy kaal voete op die sagte gras loop, kyk hoe ’n voëltjie vlieg en voel hoe die wind waai.
- Maak jou tuin voëlvriendelik met ’n voëlbad op ’n beskutte plek.
- Laat jong kinders toe om die tuin te help natlei. Leer hulle om aarbeie of groente soos tamaties te plant. Kyk saam hoe die tamaties ryp word of soek tussen die blare vir ’n ryp aarbei.
- Besoek die dieretuine en wildparke in jou omgewing en gebruik die geleentheid om jou kind meer van die natuur te leer.
- Gaan kamp en kom so in voeling met die natuur.
- Stuur kinders op ’n skattejag met die opdrag om spesifieke items te versamel. Verduidelik die doel van elkeen wanneer hulle met die “skatte” terugkom. Gras word byvoorbeeld deur voëls gebruik om nessies te bou. Blomme het stuifmeel wat bye nodig het om heuning te maak. Kyk saam na die vorms van blare en voel aan die growwe en gladde teksture.
- Leer jou kind hoe om diere waar te neem en hoe om hulle versigtig te hanteer.
- Vertel jou kind van aardverwarming en die belangrikheid van bome. Plant saam ’n boom. Daar word immers jaarliks meer as 15 miljard bome (dis gelykstaande aan ongeveer 48 rugbyvelde elke minuut) uitgeroei.
- Kyk saam onder klippe vir goggas en tel hoeveel verskillende soorte jy kan sien. Kyk hoe wurmpies kruip, sprinkane spring en goggas in bondeltjies oprol, sonder om hulle seer te maak.
- Lê saam in die tuin en kyk na die wolke. Wys jou kind hoe die wolke voor ’n donderstorm saampak.
- Loop saam kaalvoet in die water na ’n reënbui. Ruik die reën en hoor hoe die voëltjies hulle daarin verheug. Soek na ’n reënboog.
- Wys vir jou kind hoe die swaeltjies in die herfs op die draad vergader voor hulle na warmer dele trek. Hou dop wanneer hulle terugkom en vertel vir hom dit beteken die somer is hier.
Bronne:
https://www.vrouekeur.co.za/funksie-artikels/die-planeet-is-in-hul-hande
https://www.pressreader.com/south-africa/volksblad/20171014/281479276640899
https://www.netwerk24.com/ZA/Noordkaap/Nuus/aardedag-wil-planeet-genees-20160419
https://youaremom.com/respect-nature/
https://www.greentourismcanada.ca/6-tips-to-teach-your-kids-to-respect-the-environment/