Deur Wilma Bedford
Wagwoorde is niks nuuts nie; hulle het hul oorsprong in die Antieke Wêreld, waar forte, kastele, deure na privaat plekke en grense beskerm moes word en inligting kon net deurgegee of uitgeruil word as ʼn wagwoord gegee word.
Seker die bekendste wagwoord, Sesam, gaan oop! (Open Sesame!), kom uit die Verhale van ʼn Duisend en Een Nagte wat Ali Baba toegang gegee het tot skatte in ʼn grot nadat hy gehoor het een van die diewe gebruik die wagwoord om die grot binne te gaan. Sy broer is egter nie so gelukkig om skatte te bekom nie omdat hy die wagwoord vergeet en sesame verwar het met graan. Alles wat jy nie met ʼn wagwoord moet doen nie word saamgevat in hierdie verhaal.
Deesdae word kinders op ʼn al jonger ouderdom blootgestel aan tegnologie, hetsy vir ontspanning of skolastiese doeleindes. Die meeste van die hulpbronne en webbladsye wat skoolgaande kinders op die web moet besoek, vereis wagwoorde, en so ook die sosiale platforms en e-posse wat hulle moet gebruik. Kinders het nie noodwendig die vaardigheid en kennis om wagwoorde te skep en te bestuur nie. Hulle is geneig om swak wagwoorde te skep en om hul wagwoorde aan maatjies bekend te maak. Al word kinders groot in kuberhuise, is daar geen waarborg dat hulle die regte vaardighede sal aanleer nie.
Hoe help jy jou kind?
Wanneer is jou kind gereed om wagwoorde verantwoordelik te hanteer? Sodra jou kind kan fokus op ʼn taak, kan diskrimineer tussen mense wat vertrou kan word met ʼn geheim en diegene wat nie vertrou moet word nie.
Stel vas wat jou kind reeds weet en slyp daardie vaardighede.
Die lengte eerder as die kompleksiteit van die wagwoord is belangrik. Die National Institute for Standards and Technology het riglyne ten opsigte van die skep van wagwoorde hersien en beveel aan dat die gebruiklike agtkarakter- alfanumeriese klein- en hoofletterwagwoorde eerder vervang moet word deur ʼn eenvoudige lang wagwoord.
ʼn Inleiding tot die gebruik van wagwoorde sal afhang van die kind se ouderdom.
Begin op tussen vier en ses jaar deur te sê jy kan nie speletjies speel as jy jou wagwoord vergeet nie. Verskerp die geheue deur byvoorbeeld net snoepgoed te gee as die kind sy wagwoord onthou het.
Help jou kind om ʼn unieke wagwoord te skep wat net hy of sy en jy as ouer sal ken. Gebruik vir ʼn jonger kind ʼn maklike kort woord wat maklik getik kan word, of ʼn kort frase wat maklik onthou kan word. Namate die kind ouer word, kan ʼn langer en ingewikkelder woord met syfers voorgestel word.
Benadruk die gevare van iemand anders behalwe ʼn vertroueling soos ʼn ouer wat die wagwoord ken en kweek van kleins af die reg tot privaatheid wanneer ʼn wagwoord ingesleutel word.
Soos die kind ouer word en meer vrae vra, verduidelik die meer gesofistikeerde redes hoekom ʼn wagwoord noodsaaklik is: om jou identiteit te bevestig op die rekenaar of slimfoon en om te verhoed dat ander mense jou rekenaar gebruik of jou dokumente kan lees. Wagwoorde beskerm waardevolle inligting. Verduidelik dat deure verskillende sleutels tot verskillende vertrekke het en daarom moet jy verskillende wagwoorde gebruik om toegang tot verskillende platforms soos speletjies, skooldokumente en take, en slimfone te verkry.
Bespreek kubersekuriteit, byvoorbeeld wat kan gebeur as iemand jou wagwoord ken? Watse toegang verkry daardie persoon tot persoonlike inligting en wat kan gebeur as daardie persoon hom voordoen as jy? Vra jou kind wat kan gebeur as jy jou wagwoord neerskryf en laat rond lê, as iemand jou wagwoord reg raai, en as jy dieselfde wagwoord vir al jou goed gebruik.
Hoe om ʼn wagwoord te skep: Dit is belangrik dat jou kind dit moet kan onthou maar dit moet moeilik wees vir andere om te raai, een wat maklik is om te tik. Gebruik veral by kinders wat disleksies is ʼn lang sinnetjie met een of twee woorde in ʼn tweede taal eerder as ʼn enkel woord, bv. “Mna love pinki elephants” eerder as “Ek hou van pienk olifante”; sodoende skep hy of sy ʼn sterk wagwoord en die beskerming wat so ʼn wagwoord bied. Leer jou kind dat wanneer jy ‘n wagwoord invoer, niemand mag loer wat hy of sy doen nie. Is daar ʼn slotjie op die skerm wat ʼn wagwoord vereis?
Swak wagwoorde sal korter as agt karakters wees, almal in klein- of hoofletters of opeenvolgende letters of syfers, of ʼn troeteldier se naam. Vir die jonger kind sal so iets in orde wees waar daar ouerlike toesig is maar vir die ouer kind en Jan Publiek is dit waaghalsig. Die Siriese staatspresident Bashar al Assad se wagwoord vir sy e-pos, 12345, kon maklik ontsyfer of geraai word, en privaat gesprekke met sy vrou aangaande huishoudelike en konstitusionele sake is publiek gemaak. Tydens die Koue Oorlog kon die VSA se Minuteman-kernmisiele met die wagwoord 00 00 00 00 00 (agt nulle) gelanseer word. Hoewel dit nie ʼn geheim was nie, was daar darem ʼn ander veiligheidskontrole ook – die rekenaar in die lanseerbunker was gestel en gesluit op 0 sodat geen ander syfer per ongeluk ingesleutel kon word nie.
Kweek van kleins af goeie wagwoordgewoontes by jou kinders en hou hulle kuberveilig.
A computer can guess more than 100,000,000,000, words per second. Still think yours is secure?
Paul Haskell-Dowland 15 September, 2020
https://www.the conversation.com
National Institute of Standards and Technology Computer Security
NIST Special Publication 800-63B
Digital Identity Guidelines Fri, 29 Jan 2021 00:21:39 -0500
https://pages.nist.gov/800-63-3/sp800-63b.html
Password education should be age-appropriate: here’s how
September 21, 2020 The Conversation https://www.the conversation.com
AIS Electronic Library
Evaluating the Usability of a Multilingual Passphrase Policy 2020
https://aisel.aisnet.org/amcis2020/info_security_privacy/info_security_privacy/19/
How to Teach Kids to Use Passwords
Renaud, K. June 20, 2020. The Wall Street Journal
https://www.wsj.com/articles/how-to-teach-kids-to-use-passwords
Foto krediet: Kelly Sikkema | Unsplash
Oops! We could not locate your form.