Deur Nico Strydom
Honde gebruik hul lywe en uitdrukkings om te kommunikeer hoe hulle voel.
Deur jou hond se lyftaal te leer sal jy weet wanneer hulle hartseer, gelukkig, bedreig of kwaai is. Honde gebruik hulle hele lyf om te wys hoe hulle in ʼn sekere situasie voel. Hulle blaf, tjank of grom en gebruik gesigsuitdrukkings en hul ore, lippe, neuse, sterte en lywe, so dit is belangrik om te weet wat die verskillende uitdrukkings en gebruike beteken.
Dit is egter ook belangrik om alles gesamentlik in ag te neem sowel as die situasie waarin die hond hom of haar bevind, anders kan jy dalk misinterpreteer hoe jou hond voel.
ʼn Hond se lyftaal is ingewikkeld en kan ook uniek wees, maar kan die volgende beteken:
Oë
Wanneer jou hond kalm en ontspanne is, sal sy oë normale grote lyk. Wanneer jou hond se oë groter vertoon, kan dit beteken hy voel bedreig. Hy kan gestres of bang wees. Kyk veral na die wit gedeelte van die oog en let op die fokus en intensiteit van die hond se blik.
Wanneer ʼn hond gespanne voel, kan sy oë ronder lyk as gewoonlik. Vergote pupille kan ook ʼn teken wees van vrees. ʼn Ontspanne hond sal ook partykeer sy oë op skrefies trek. Dit laat hulle amandelvormig voorkom en hulle vertoon min wit.
Mond
ʼn Hond wat gelukkig of kalm is se mond sal meestal toe of net effens oop wees. Die mond sal natuurlik ook oop wees en die hond sal vinnig asemhaal indien dit warm is of die hond pas rondgehardloop of gespeel het.
As ʼn hond sy lippe terugtrek en sy tande wys, beteken dit hy voel bedreig of kwaad en kan aggressief wees. Wanneer ʼn hond wil byt, trek hy sy lippe op en wys al sy tande.
Sommige honde lyk of hulle glimlag en wys dan ook hulle tande. In die meeste gevalle is dit presies net dít en sal gewoonlik met ʼn verlaagde kop, waaiende stert, afgeplatte ore, ʼn sagte liggaamshouding en sagte oë gepaardgaan.
Indien ʼn hond aanhoudend gaap en sy lippe lek, kan dit ʼn vroeë teken van stres wees.
Ore
Verskillende honderasse het verskillende ore. Die grootte en vorm van die hond se oor sal bepaal hoe hy dit gebruik om te kommunikeer. Wanneer die hond kalm is, sal sy ore normaal voorkom. Wanneer iets sy aandag trek, sal hy gewoonlik sy ore lig indien moontlik. Wanneer honde se ore effens teruggetrek is, kan dit net wys hulle is vriendelik maar as dit platgetrek of ver teruggetrek word, beteken dit gewoonlik hulle is bang.
Stert
Honde waai hul sterte om verskeie redes en wat hulle daarmee wil kommunikeer, is beperk tot die tipe stert wat hulle het. Indien ʼn hond op sy gemak is, sal sy stert in die normale posisie wees of wanneer hy gelukkig is, sal dit gewoonlik liggies van kant tot kant swaai. Wanneer ʼn hond sy stert tussen sy bene druk, beteken dit gewoonlik die hond is senuweeagtig of bang. Wanneer iets die hond se aandag trek, sal sy stert gewoonlik hoër as normaal gelig word.
Hare
Talle honde se hare sal regop staan op hul rug wanneer hulle ontsteld of bedreig voel.
Postuur
Wanneer jou hond tevrede en gelukkig is, sal sy spiere ontspanne wees en sy lyf sal normaal lyk. Wanneer ʼn hond bang voel, sal hy homself gewoonlik in ʼn vreemde posisie intrek en vorentoe buk. Wanneer jou hond iets hoor of op iets reageer, sal sy spiere meer gespanne raak en hy sal sy nek en kop oplig.
Wanneer jou hond wil speel, sal hy gewoonlik afbuk met sy agterstewe in die lug, gevolg deur oordrewe gesigs- en liggaamsbewegings.
ʼn Hond wat moontlik aggressief gaan raak, sal staan met sy kop bo sy skouers gelig. Sy gewig sal oor al vier bene versprei wees of hy sal meer gewig op sy voorpote plaas en effens vorentoe leun.
Bronne
How Stuff Works: https://animals.howstuffworks.com/pets/how-to-solve-dog-behavioral-problems.htm
Go South: https://gosouth.co.za/understanding-dogs-body-language/
Animal Talk: https://animaltalk.co.za/dog-body-language-2/
Friends of the dog: https://www.friendsofthedog.co.za/body-language.html
Shinga Pet: https://www.shingavet.co.za/blog/understanding-dogs-body-language/
Oops! We could not locate your form.