Deur Marli Naidoo
Dit is net te heerlik om ʼn dag met ʼn boek te sluit. Jy kan hierdie genot met jou kinders deel deur aan hulle voor te lees.
Wanneer jy aan jou kind voorlees, neem jy hom nie net op ʼn verbeeldingsavontuur nie, jy plant ook die saadjies vir ʼn lewenslange liefde vir boeke en woorde.
Die Rhode Island Hospitaal in Amerika het ʼn studie gedoen oor die uitwerking van voorlees aan babas. Hulle het twee groepe van agt maande oue babas waargeneem. Die een groep se ouers het gereeld aan hulle voorgelees, waar die ander groep dit nie gedoen het nie. Daar is gevind dat die kinders aan wie voorgelees is se ontvanklike woordeskat mettertyd met 40 persent toegeneem het, terwyl die ander groep s’n slegs met 16 persent toegeneem het.
Voorlees is een van die effektiefste maniere om jou kind se neurale taalkonneksies in sy ontwikkelende brein te ontwikkel en sy kognitiewe ontwikkelimg aan te help. Dit help ook in die ontwikkeling van die vermoë om te leer. Multisensoriese integrasie wat die konneksie tussen klank en die visuele bepaal, word ook versterk.
Jy kan vir jou kind voorlees wanneer hy maar ʼn baba is. Maak dit dan reeds deel van julle daaglikse roetine en sit dit voort totdat jou kind ʼn tiener is. Daar is gevind dat gedragsprobleme in tieners verbeter wanneer hulle ouers gereeld aan hulle voorlees.
Dit is ook ʼn wonderlike manier om die verhouding tussen jou en jou kind te versterk en kommunikasie tussen julle te versterk. Dit maak ook die deur oop na die bespreking van belangrike en interessante onderwerpe.
Dit voorsien ook ʼn positiewe konnotasie met lees vir wanneer hy gaan leer om self te lees.
Voorlees het ʼn kalmerende effek op kinders. Daar is gevind dat hulle makliker aan die slaap raak nadat hulle na ʼn lekker storie geluister het.
Dit stel ook jou kind voor aan die taal van die boek, wat verskil van die taal wat ons in daaglikse gesprekke gebruik en hoor. Boeketaal is meer beskrywend en gebruik meer formele grammatiekale strukture.
Jy kan verskillende boeke gebruik om jou kind voor te stel aan verskillende kulture en om empatie te ontwikkel.
Die lys van voordele hou net aan en aan en jy sal lank moet soek om enige nadele te vind. Maak voorlees aan jou kind ʼn prioriteit en ʼn nuwe gesinstradisie.
Bronne
Raise smart kid: https://www.raisesmartkid.com/all-ages/1-articles/14-the-benefits-of-reading-to-your-child
Rasmussen College: https://www.rasmussen.edu/degrees/education/blog/benefits-of-reading-to-children/
The Ohio State University: https://ehe.osu.edu/news/listing/importance-reading-kids-daily-0/
Oops! We could not locate your form.