Deur Emsie Martin
In vandag se finansiële woelinge hoor ʼn mens dikwels dat ouers sê hul kinders sukkel om met geld te werk. Soms is dit ouers se eie skuld omdat hulle te veel wil help.
Carla Oberholzer, skuldadviseur by DebtSafe sê: “Indien daar één spesifieke versoek is wat ek sou geuiter het toe ek nog jonger was, sou dit gewees het: ‘Help ons om ʼn geldvaardige jeug op te rig, Suid-Afrika’. Die konsep van geld is ʼn fundamentele vaardigheid wat enige volwassene, ouer, voog, familielid of onderwyser vir ons jongmense kan help aanleer. Dit bied nie net ʼn wensituasie vir die jeug en hulle toekomstige finansiële besluitneming nie, maar dit is ook ʼn oorwinning vir Suid-Afrika se ekonomie en welvaart.”
Oberholzer moedig volwassenes aan om ʼn generasie geldvaardige jongmense te help kweek en die sleutel is om hulle van kleins af te betrek, te leer en te help om die nodige kennis, praktiese vaardighede en selfvertroue te bekom om ingeligte finansiële besluite te neem. Grootmense moet met kinders oor geld begin praat, die geldkonsep tasbaar maak en die jeug help om finansieel geletterd te raak.
DebtSafe se span het ʼn ouderdomsgids saamgestel wat aan volwassenes (jonger volwassenes ingesluit) idees bied oor wat om in hulle finansiële leringe vir die jeug in te sluit:
Kleuters (2- tot 3-jariges)
Kleuters kan die name van munte (sente) en note (rande) begin onderskei. Volwassenes kan ʼn kleurspeletjie speel en die kinders help om vertroud te raak met geld.
(Let wel: Hierdie tipe speletjie vereis toesig wanneer daar met R1, R2, R5 of 10-, 20- en 50-sentmunte gespeel word.)
Kleuters kan die basiese beginsels van besigheid begin verstaan deur geld of speelgeld vir goedere te verruil. Dis pret en leersaam om inkopies by die huis te speel.
Voorskoolse leerders (3- tot 5-jariges)
Volwassenes word aangemoedig om 3- tot 5-jariges toe te laat om deel te neem aan opvoedkundige geldaktiwiteite:
Verbeeldingverwante speelinisiatiewe soos “‘restaurant-restaurant” of “winkel-winkel” kan vaardighede insluit soos om goeie maniere aan te leer en kleingeld te maak as kassier.
Om take vir sakgeld te doen, bied opvoedkundige geleenthede. En moenie vergeet van die ”voel”-konsep wat ʼn spaarvarkie vir ʼn kind kan leer nie.
Deur die bogenoemde voorbeelde in te sluit, kan voorskoolse kinders die geldkonsep begin begryp en ʼn basiese begrip verkry van rekeninge wat betaal moet word.
Skoolleerders (6- tot 12-jariges)
Daar is verskeie dinge wat ouers kan doen om 6- tot 12-jariges se geldbewustheid en -vaardighede te help opskerp, byvoorbeeld:
Maak ʼn bankrekening spesifiek vir kinders oop: Verskeie Suid-Afrikaanse banke bied hierdie rekeninge aan en sluit in ʼn gratis diensgeld (R0,00) asook spesiaal ontwerpte belonings wat op kinders van toepassing is.
Vergelykingskonsepte tydens inkopies: Kinders kan op opvoedkundige inkopie-uitstappies gaan om winskopies raak te sien deur byvoorbeeld die pryse van generiese produkte met dié van handelsnaamprodukte met mekaar te vergelyk.
Tieners (12- tot 18-jariges)
Die waarde van ʼn begroting en die gawe van ”gee”…
Tieners se sakgeld is geneig om vinnig op te raak. Ouers word aangemoedig om hulle kinders te help om ʼn begroting op te stel juis sodat hulle kan onderskei tussen dít wat hulle wil hê en dít wat hulle werklik nodig het (behoeftes).
Daar is verskeie bank- en/of foontoepassings vir kinders indien ouers dit by hulle aktiwiteite en leerbesprekings wil inkorporeer. Daar is ook verskeie programme, soos MoneyTime or StarSaver beskikbaar wat hulle kan help om te sorg dat tieners verskeie finansiële vaardighede aanleer.
Daar is niks beter as om die konsep van geld te help verduidelik soos wanneer dit by liefdadigheid kom nie (kinders kan organisasies kies waartoe hulle graag wil bydra). “Sosialeverantwoordelikheidsinisiatiewe bied leerbare oomblikke en dit is ʼn langtermyngeldgedrag-belegging vir enige tiener,” beklemtoon Oberholzer.
Jong volwassenes (18- tot 30-jariges)
Om te begroot is ʼn MOET. Hulle kan verskeie toepassings en produkte gebruik wat by hulle unieke persoonlikhede pas.
Hulle moet onderskei tussen werklike behoeftes en begeertes.
Hoekom onnodig druk uitoefen? Jong, werkende volwassenes kan met min en klein begin wanneer hulle krediet of skuld wil aangaan – dit is nie nodig om ʼn luukse huis en ʼn motor alles op een slag te koop nie.
Finansiëlenoodbeplanning en mediese of gesondheidsbeleggings is uiters noodsaaklik – professionele persone of instansies kan help met verskeie produkte (soos byvoorbeeld ʼn tipe noodfonds of aftreeplan).
Jong individue moet gereeld hulle skuld dophou en ʼn uitgewerkte plan beskikbaar hê om te sorg dat korttermyn- of langtermyndoelwitte en -besparings by hulle begroting ingesluit word.
Geld speel ʼn belangrike rol in elke individu se lewe en daarom verdien dit ook van ʼn jong ouderdom af baie aandag. Om te leer hoe om te spaar, te begroot en aanspreeklikheid vir hulle skuld te neem is iets wat die jeug al vroeg deel van hulle lewe moet maak en aanleer. Geldkennis en -vaardighede sal jongmense in staat stel om die gawe van finansiële vryheid te kan ervaar.
Miskien wil jy graag mense help om finansieel meer onafhanklik te raak. Solidariteit Beroepsgildes is ‘n gemeenskap wat jou nie net sterk maak in jou beroep nie, maar dit is ‘n gemeenskap waar jy tuis voel, saam werk en saam leer. Dit is ‘n gemeenskap wat hom daarop toespits om die beroep te beskerm, vir jongmense loopbaangeleenthede te skep, as waghond toesig te hou oor beroepe en met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag te kom. Besoek gerus https://gildes.solidariteit.co.za/ vir meer inligting rakende jou beroepsgilde.
Bron
Carla Oberholzer by DebtSafe carla@debtsafe.co.za
Oops! We could not locate your form.