Deur Essie Bester
Die 22ste April is hierdie jaar opsy gesit vir die finansiële geletterdheid van die volgende generasie, iets wat ʼn dringende saak blyk te wees. Volgens ʼn 2019-opname deur die Nasionale Stigting vir Kredietvoorligting gee slegs 55% volwassenes hulself ʼn A of ʼn B as hulle hul kennis oor persoonlike finansies moet beoordeel.
Slegs ongeveer 30% van Suid-Afrikaners rapporteer dat hulle noodspaargeld het terwyl net 19% drie maande kan oorleef as hulle hul inkomste sou verloor, volgens ʼn opname van Budget Insurance. Om geld te spaar is ʼn gewoonte wat tyd kan neem om te ontwikkel en daar is hope volwassenes wat dit nog onder die knie moet kry.
Hier is 10 stappe wat jy kan doen om jou kinders – en miskien jouself – beter te bemagtig.
Verduidelik dat behoeftes die basiese dinge soos kos, skuiling en klere insluit en begeertes al die ekstras wat hulle graag wil hê. Gebruik jou eie begroting as voorbeeld om te illustreer hoe begeertes ten opsigte van besteding vir behoeftes moet terugstaan.
Kinders se sakgeld is die volgende stap. “Kinders so jonk as vyf of ses kan die waarde van geld begin verstaan. Teen die tyd dat ‘n kind na graad een gaan, kan jy met sakgeld begin,” sê Kirsty Scully, gesertifiseerde finansiële beplanner by Core Wealth.
Scully sê daar is verskillende maniere om sakgeld te betaal.
Dis ʼn ideale stelsel vir kinders jonger as agt. Laat hulle tuis help met eenvoudige huishoudelike take om die gesin te help, soos om die wasgoed in verskillende kleurstapels te sorteer of om skottelgoed af te droog. Persoonlike take soos om hulle eie slaapkamer netjies te hou, moet gedoen word sonder dat jy iets daarvoor hoef te betaal.
Vir kinders van ongeveer 10 jaar oud kan jy ʼn stelsel instel waarvolgens hulle betaal word om ekstra werk te doen, soos om die swembad of die geute skoon te hou.
Dit is die beste vir ouer tieners. Hulle het steeds verantwoordelikhede, maar jy betaal hulle ʼn hoër basiese bedrag sakgeld, wat dan gebruik moet word vir die verkryging van noodsaaklike items soos klere en toiletware of vervoer en vermaak. Dit bied hulle die geleentheid om ʼn begroting te bestuur. As jy toelaes aanbied in ruil vir take, leer hulle ook die waarde van harde werk.
Spaar kan vir ʼn kind nutteloos lyk as jy nie verduidelik waarom nie. Motiveer hulle deur hulle te help om ʼn besparingsdoel te bepaal. As hulle weet waarvoor hulle wil spaar, help dit hulle om hul doelwitte in hanteerbare dele op te deel.
Vir jonger kinders kan dit ʼn spaarvarkie wees. Vir bietjie ouer kinders kan jy ʼn eie tjek- of spaarrekening by ʼn bank open. Op dié manier kan hulle sien hoe hulle spaargeld vermeerder en hoeveel vordering hulle maak om hulle doel bereik.
As jou kinders ʼn toelaag kry, kan dit ʼn leersame ervaring wees om hulle daagliks hulle aankope te laat neerskryf en aan die einde van die week bymekaar te tel. Moedig hulle aan om na te dink oor hoe hulle hul geld spandeer en hoeveel vinniger hulle hul spaardoelwit kan bereik as hulle hul bestedingspatrone sou verander.
Een van die redes waarom mense in hul werkgewer se aftreeplan belê, is die vergelykende bydrae wat die maatskappy maak. Jy kan dieselfde beginsel gebruik om jou kinders aan te spoor.
Laat jou kinders uit hulle foute leer. Dit is natuurlik om te wil ingryp om sodoende jou kind weg te stuur van ʼn potensieel duur fout, maar dit kan beter wees om die fout as ʼn leergeleentheid te benut.
Een van die basiese beginsels van spaar is om nie bo jou vermoë te leef nie. As jou kind iets wil koop en te ongeduldig is om daarvoor te spaar, kan dit ʼn waardevolle les oor spaargeld word as jy optree as jou kind se kredietverskaffer. Leen die geld aan hom met die voorwaarde van terugbetaling teen rente.
Die les wat jy wil leer, is dat besparing kan beteken dat jy bevrediging langer uitstel, maar dat die item wat jy wil koop uiteindelik minder kos as jy wag.
As jy wil hê jou kinders moet leer oor spaar, is dit iets wat voortdurend bespreek moet word. Jy kan ʼn gereelde weeklikse vergadering beplan om oor geld te gesels of geldgeselsies deel maak van jou daaglikse rondte.
As jy wil hê dat jou kinders spaarders moet word, moet jy self spaar. Om jou noodfonds reg te kry, of bloot jou pensioenfondsbydraes te verhoog, kan help om spaar as ʼn gesinsaktiwiteit aan te moedig. Julle kan ook besluit om saam vir iets soos ʼn gesinsvakansie te spaar.
Bronne
https://www.investopedia.com/personal-finance/10-tips-teach-your-child-save/
http://www.capetalk.co.za/articles/349812/pocket-money-from-what-age-how-often-how-much
Foto krediet: iStock
Oops! We could not locate your form.